Maak oop jou oë, meneer

Hulle staan wêreldwyd bekend  as die leunstoelkenners, die miljoene ondersteuners wat voor die televisie sit en rugby kyk.

Die meeste was nog nooit naby aan ʼn reëlboekie nie, het vir die o.14 D-span op skool gespeel en dra ʼn ondersteunerstrui en sweetpakbroeke wat nog nooit om die middel gepas het nie, maar boeta, Saterdae is hulle op hul pos.

Ja, soms is hulle reg, maar meestal verkeerd.

“Is jy blind ref”, en “maak oop jou oë” is van die uitdrukkings wat die meeste gebruik word.

“Dis ʼn aanslaan”, of “vorentoe”, of “wat dan van voordeel” is drie van die ander frases wat hoog op die top20-trefferslysie is.

En wat van  “hy het nie ʼn benul wat in die skrums aangaan nie” en “ek wonder of hy ooit gespeel het”.

Nog voordat die wedstryd begin, word daar gesê: “Agge nee wat, vandag word ons weer geboor”, of “hoe kan hy vir die Sharks blaas, hy woon dan in Durban?”

Ek kan dit dus heeltemal verstaan hoekom versekeringsmaatskappye die blasers borg, want hulle beweeg op die lysie, speel op die treinspoor.

Eintlik behoort die vervaardigers van hoëbloeddruk-medisyne ook aan boord te kom. Dink maar terug aan Bryce Lawrence, Wayne Erickson, Dave McHugh, Stuart Dickinson, Peter Marshall en Jerome Poite.

Nou wonder ek wat word daar in die Alexander-huishouding in Marlborough in Nieu-Seeland gesê wanneer daar rugby gekyk word.

Volgens stuff.co.nz het pa Tony (48) ʼn paar jaar se ondervinding, maar word hy in die skadu gestel deur sy twee seuns, Cameron (17) en Ben (15).

Cameron blaas al vir vyf jaar lank (was hy 12 toe hy begin het?) en is Saterdag in beheer van sy eerste eersteligawedstryd tussen Harlequins en East Coast in Lansdowne.

Hy het op 3 Junie ʼn eerstespankragmeting tussen Waimea en Shirly in Nelson hanteer en hom baie goed van sy taak gekwyt.

Cameron hoop om in die voetspore van een van hul bure, Ben O’Keeffe te volg, wat reeds op die internasionale paneel is en verlede week vir die Springbokke teen Frankryk geblaas het.

Maar ek wonder wat in die sitkamers gesê gaan word wanneer Cameron opdraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Louis ·

Baie van vandag.se.skeidsregters begin baie jonk en het self bitter min rugby gespeel , dit is n feit , n persoon wat self rugby op reedelike hoe vlak gespeel het maak die beste skeidsregters uit

Jack Russl ·

Verseker is daar baie leuenstoelkenners wat glad nie kenners is van die reels nie.

Die feit dat sekere skeidsregters lelik droogmaak met hulle toepassing van die reels kan ook nie uitgelaat word nie.

Daar is net so baie kommentators wat net so min van die reels af weet, en dan is van hulle nog oud-spelers ook

B-man ·

Ongelukkig, in ons samelewing, dink elke nuwe jong pa dat sy seun die volgende groot rugby-ster gaan wees, nes dié se pa van hom gedink het. Hoe durf enigiemand dan sy bloeitjie te straf vir ‘n oortreding op die veld! Dis ‘n geskreeu en geskil tussen ouers (Ma’s is soms erger oor hul bullebakkies en huts die manne aan) langs die veld wat soms in lelike stryerye ontaard.

Met so ‘n voorbeeld kan die manne op die veld nie anders as om te ontaard in rusbankpatats wat op die ref op die kassie skreeu nie. Alles net omdat hulle ouers se rugby-drome nie waar geword het nie…

Laat jou seun toe om die spel te geniet saam vriende en teen goeie, gesonde kompetisie. ‘n Span moet kan wen wanneer hulle die basiese spel toepas. ‘n Skeidsregter kan immers nie bevooroordeeld blaas wanneer geen foute begaan word nie.

Ons kort meer, goed opgeleide, skeidsregters in die land, maar niemand sal een wil word as ‘n nasie net negatief kan optree teenoor skeidsregters nie. Dit alles kan gesê word van afrigters ook.

Dalk is jou ou blink eier, of die steroïdes waarop jy hom van vroeg af al gesit het, toe nou nie so goed as wat jy gedink het nie.

Henk Stander ·

Hahaha lekker gelag vir die stuk. Tot my skaamte moet ek erken dat ek myself in van die opmerkings sien.

Net terloops. Wat Bryce Lwarence gedoen het was nie ń fout nie, dit was ń vooraf beplande, dood luiters uitgevoerde plan om NZ se grootste kompetisie daardie wereld beker te verwyder. Hy het 46 gedokumn5eerde foute gemaak in een wedstryd, telkens nadat hy daarop gewys is deur Johan Smit. Daardie slefde jaar wys die NZ rugby unie hom aan as die beste Skeidsregter in NZ… hemel man, ek ruik nie eens meer die rot nie, hy is hier weg met my kaas!

Daardie een gebeurtenis en die feit dat wêreld rugby stilswye dit aanvaar het, laat ń baie groot wolk van bedenking oor moderne rugby hang.

Ek en Fluffy gaan maar eerder stap, ek raak nou alweer bef8k.

Johan ·

As skeidregters regtig onberispelik in hul optrede is en geen span bo die ander voortrek nie, aldus Kobus Wiese en die res van die kerkraad, hoe verklaar mens die optrede van die twee Suid Afrikaanse skeidregters Mnr Jaco van Heerden en Shaun Veldsman in die kragmeting tussen die Stormers en die Blues. ‘n Hele paar blatante foute gemaak wat die Stormers bevoordeel het.

Ou Boggom ·

Reels is min maar interpretasie is oneindigend. Veral by vaste skrums wat die loskop geblaas word vir die opponent vaskop manupilasie ( onwettige skrum tegniek). Hoekom word n lynregter nie ingespan sodat aan albei kante ge obserweer kan word. Dit is hoekom skrums vir sekere spanne n tammeletjie bly, want die verkeerde oortreder kry selfs n geelkaart.

Joe ·

Ek was self n provinsiale speler en skeidregter! Het skeidregter opgegee asgevolg van skeidregters se swak besluite en dan moet annder da onder lui! Skeidregters is nie konstant met besluite nie en hou daar van on sekere goed te “target”by een en te los by ander!

Arie ·

As dit nie vir daai mense nie was ons rugby lankal dood, so moenie jou slim probeer hou nie meneer. Geniet dit terwyl dit nog daar is!

JohanvSchaik ·

Dink nie veel van die artikel nie.
Geen skeidsregter het skrum ondervinding van self skrum en die donker kunste agter skrum verneukery nie.
Bitter min skeidsregters het voorspeler gespeel dus is daar altyd kommerwekkende bevimdings by los skrums.
Gaan kyk bietjie ‘n senior klub wedstryd of ‘n hoerskool eerste span om te sien waarom mense so gekant is teen die man met die fluitjie.

Maar daar sal nie rugby in die hemel gespeel word nie want daar sal nie sleidsregters wees nie!

MH ·

Ek het verlede Saterdag probeer om na die wedstryd te kyk uit die skeidsregter se hoek. Ek het hom dopgehou om te probeer bepaal wat hy kan sien. Dinge gebeur duskant die losskrum, anderkant die losskrum, bo-op die losskrum en onder die losskrum. Daar is 30 spelers voor hom, agter hom en rondom hom, en almal hardloop in onvoorspelbare verskillende rigtings. En ons verwag dat hy elke ding wat in daardie deurmekaarspul gebeur moet kan waarneem, interpreteer en teen ‘n onnodige dik reëlboek te evalueer. Ek wil voorstel dat skeidsregters voortaan die spel beheer vanuit ‘n sitkamer voor ‘n TV stel. As die leke rusbankkritici so goed vaar, dink net hoe goed die skeidsregter sal vaar in hierdie situasie.

Josua Keys ·

MH, jy het ‘n briljante punt hier beet en kan beslis werk, een skeidsregter op die veld wat instruksies uitvoer ook die wedstryd monitor maar die res monitor die spel op tv, geen skeef ingooi, voretoe aangee en hande beweging om dit te regverdig nie, skrums wat val, skeef druk/ingooi meer nie, onkant lyne oorsteek, uittrap op kantlyne en so kan ek aangaan. Gaan luister gerus na die ouens se kommentare wat langs die veld is en van die wat dit op TV aanskou, totaal verskillend, HOEKOM???? die inligting wat deurkom op die telviese is 120% meer akuraat as die wat die Skeidsreter op die veld aanskou, skerp vir jou mnr. Waarom doen hulle nie weg met lynregters nie wat in elk geval amper nooit iets raaksien of wil raaksien nie. Ek vra die vraag, is daar lynregters in krieket? Nee, die tv beampte doen daardie werk om net een te noem, sien die toeskouers langs die veld wie die kolwer gevang het wat die ses geslaan het, NEE maar die kamera wel, hoekom nie dieselfde in rugby probeer nie. Ek persoonlik dink dat dit beslis ‘n regverdige en groot toekoms in rugby kan hê en mense wat sou sê dat dit die spel gaan beinvloed wil ek net sê, ja dit gaan beslis, dit gaan meeste van die onregverdigheid in rugby tot die minimum uitskakel.
Onthou die gesegde “Video killed the radio star”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.