Varsitybeker: Maandag kan ’n voorsmaak van eindstryd wees

Stephan Janse van Rensburg, die Shimlas se kaptein, draf Maandag op losskakel uit. (Foto: Frikkie Kapp/Saspa)

Stephan Janse van Rensburg, die Shimlas se kaptein, draf Maandag op losskakel uit. (Foto: Frikkie Kapp/Saspa)

Maandag se Varsitybeker-wedstryde is ’n stryd tussen die pasaangeërs op die punteleer en ’n span of twee wat desperaat hulle kanse op halfeindstrydplekke wil lewendig hou.

Stryd van die reuse

Die wedstryd tussen die Shimlas en die Maties, die voorste twee spanne op die puntelys, kan ’n voorsmakie gee van hoe die eindstryd van die toernooi, wat volgende maand beslis word, daar kan uitsien.

Albei spanne het nog net een keer in die reeks vasgeval, die Stellenbossers in hulle eerste wedstryd teen Tuks en die Shimlas ’n paar weke gelede teen die Ikeys. Albei die wedstryde is in nat en reënerige toestande gespeel.

Die verwagting is dat Maandag se wedstryd in droë en warm toestande beslis sal word, iets wat albei spanne wat hardlooprugby verkies sal pas.

Die manier waarop die Maties verlede week met hulle Kaapse buurman, die Ikeys, afgereken het, voorspel gevaar vir die Bloemfonteiners. Hulle agterste driehoek van Duncan Saal, Edwill van der Merwe en Craig Barry het die Ikeys laat bontstaan elke keer wat hulle bal in hand gekry het.

Maar die Shimlas sal vol vertroue wees nadat hulle die hoogsaangeskrewe Pukke verlede week afgeransel het. In daardie oorwinning het die flank Daniel Maartens en die agsteman Bernardus Erasmus uitblinkervertonings gelewer.

Vir Maandag se wedstryd skuif die Shimlas se kaptein Stephan Janse van Rensburg van senter na losskakel nadat die voorste twee losskakels, Niell Stannard en Charl Naudé, Maandagaand teen die Pukke beseer is.

♦  Maandagaand se wedstryd sal in die Vrystaatstadion beslis word en ook nie, soos aanvanklik aangedui, op SuperSport uitgesaai word nie.

Spanne –

Shimlas: 15. Sechaba Motsoele, 14. Gladman Maqina, 13. Carel-Jan Coetzee, 12. Lihleli Xoli, 11. Marco Mason, 10. Stephan Janse van Rensburg (kapt.), 9. Wynand Pretorius, 8. Bernardus Erasmus, 7. Phumzile Maqondwana, 6. Daniel Maartens, 5. Raymond Woest, 4. Nicolaas Immelman, 3. Ruan Kramer, 2. Francois Steyn, 1. Johan Kotze. Bank: 16. Anrich Alberts, 17. Adrian Venter, 18. Kwenzokuhle Blose, 19. Ruben Schoeman, 20. Musa Mahlasela, 21. Dian Badenhorst, 22. Rayhaan Lombaard, 23. André Kotzenberg.
Maties: 15. Craig Barry (kapt.), 14. Duncan Saal, 13. Douglas Steyn, 12. Christiaan Smit, 11. Edwill van der Merwe, 10. Chris Smith, 9. Brendon Nell, 8. Devon Nash, 7. Kobus van Dyk, 6. Mitchell Carstens, 5. Johan Momsen, 4. Ernst van Ryn, 3. JE van der Merwe, 2. Craig Corbett, 1. Niel Oelofse. Bank: 16 Hendrik Luus, 17 Wesley Adonis, 18 Wikus Groenewald, 19. Saud Abrahams, 20. Stephan Streicher, 21. Paul de Wet, 22. Reinhardt Fortuin, 23. Michal Haznar.

Afskop: 19:00

Tukkies sal ’n bonuspunt wil oes

Die Tukkies, wat derde op die punteleer is, speel Maandag in Pretoria teen die Ixias, wat nie net laaste nie maar ook segeloos aan die onderpunt van die punteleer lê.

Die Pretorianers, wat twee weke gelede onverwags teen die UJ vasgeval het, het dit sover die seisoen reggekry om effens onder die radar te beweeg. Hoewel hulle by tye goeie en ondernemende rugby gespeel het, was daar ook minder indrukwekkende vertonings, soos verlede week teen Wits.

Vir Tuks, wat met verskeie sterre soos die heelagter Manie Libbok, die reserwelosskakel Joshua Stander, wat hierdie week op binnesenter uitdraf en die losskakel Tinus de Beer spog, sal dit belangrik wees om nie net hulle stempel op die wedstryd af te druk nie, maar ook om hulle plek op die punteleer met ’n bonuspunt wen te verstewig om sodoende ’n tuishalfeindstryd te verseker.

Die Ixias? Die hoop beskaam steeds nie vir hulle om ’n oorwinning te behaal nie.

Spanne –

Tuks: 15. Manie Libbok, 14. Dewald Naude, 13. Divan Roussouw, 12. Joshua Stander, 11. Sibahle Maxwane, 10. Tinus de Beer, 9. Rian Warner, 8. Juan-Re Swanepoel, 7. Chris Massyn (kapt.), 6. Eduan Lubbe, 5. Brian Leitch, 4. Aston Fortuin, 3. Neethling Fouche, 2. Jan-Henning Campher, 1. Andrew Beerwinkel. Bank: 16. Theuns Reynolds, 17. Jaco Holtzhausen, 18. Marius Verwey, 19. Denzel Hill, 20. Theo Maree, 21. Keanan van Wyk, 22. WJ Strydom, 23. Franco van den Berg.
Ixias: 15. Ruan Wasserman, 14. Tiisetso Madonsela, 13. Waldo Putter, 12. Johan Nel, 11. Ondo Nkadisa, 10. Martin Jacobs, 9. Ruben Heymans, 8. Stefan Kruger, 7. Vincent Maruping, 6. Dean Rossouw (kapt.), 5. André Venter, 4. Kian Skippers, 3. Henco Smit, 2. Stefan Jacobs, 1. Kabous van Schalkwyk. Bank: 16. Lambert Rautenbach, 17. Jean Volkwyn, 18. Kyle Ess, 19. Brendan Verster, 20. Dian Dry, 21. Dean Jacobs, 22. Gert Cronjé, 23. Masego Toolo.

Afskop: 16:45 (Regstreeks op SuperSport)

Pukke kan omgesukkelde Wits verwag

Die Pukke sal Maandagaand hulle veldtog na hulle neerlaag verlede week teen die Shimlas weer op koers wil kry wanneer vir Wits in Potchefstroom hulle gasheer speel.

Na twee neerlae kan kwalik gesê word dat die Potchefstromers se veldtog ontspoor het. Dis nie iets wat nie reggestel kan word nie.

Boonop sal die Pukke versterk word met die insluiting van hulle besielende kaptein Jeandré Rudolph wat van harsingskudding herstel het, nadat hy die stryd teen die Shimlas misgeloop het.

Rudolph is die soort speler waarvan ʼn mens eers sy invloed en waarde behoorlik na waarde skat wanneer hy die dag nie op die veld is nie.

Jonathan Mokuena, afrigter van die Pukke, het besluit om Julian Delicado op losskakel in Schalk Hugo se plek in te sluit. Hopelik sal Delicado daarin slaag om die gevaarlike agterlyn van die Potchefstromers aan die gang te kry.

Met slegs een oorwinning hierdie jaar kan die aanname verkeerdelik gemaak word dat die Witsies ’n sukkelseisoen beleef. Allermins. Hulle het net-net teen die Shimlas en die Maties vasgeval en die Tukkies verlede week laat sweet vir ’n sege.

Hulle beskik oor ’n gevaarlike agterlyn met spelers soos die buitesenter Wandisile Simelane en die heelagter Luxolo Ntsepe, wat sirkels om verdedigers kan hardloop.

Voorlangs sal hulle slotpaar van Graham Logan en Rhyno Herbst die tuisspan se Walt Steenkamp en Loftus Morrison deeglik beproef.

Slaag die Johannesburgers daarin om die Pukke te klop, sal dit die span die nodige selfvertroue gee dat hulle met die groot honde kan saamblaf.

Spanne –

Pukke: 15. Tapiwa Mafura, 14. Jimmy Mpailane, 13. Elden Schoeman, 12. Jaap Pienaar, 11. Lungelo  Gosa,  10. Julian Delicado, 9. Chriswill September, 8. Jeandré Rudolph (kapt.), 7. Marno Redelinghuys, 6. Wandile Mazibuko, 5. Walt Steenkamp, 4. Loftus Morrison, 3. Morné Strydom, 2. Louis van der Wersthuizen, 1. Dolf van Deventer. Bank: 16. Wilmar Arnoldi, 17. Dewald Dekker, 18. Matima Manganyi, 19. Boela Venter, 20. Marcel Henn, 21. Caleb Louw, 22. Nkululeko Mcuma, 23. Dean Strokes.
Wits: 15. Luxolo Ntsepe, 14. Kwanele Ngema 13. Wandisile Simelane, 12. Brendan Hewitt, 11.Joshua Jarvis, 10. Warren Gilbert (kapt.), 9. Ruan Cloete, 8. Constant Beckerling, 7. Conor-Terrah Brocksmidt, 6. Ruan Macdonald, 5. Rhyno Herbst, 4. Graham Logan, 3. Luvuyo Pupuma, 2. CJ Conradie, 1. CJ Greeff. Bank: 16. Justin Brandon, 17. Brandon Palmer, 18. Pascal Snyman, 19. Michael Renwick, 20. Karl Erasmus, 21. Manuel Rass, 22. Dean Lombard, 23. Ameer Williams.

Afskop: 19:00 (Regstreeks op SuperSport)

UJ glo hulle is nog in die wedloop

Nadat die UJ se Varsitybeker-aanslag met twee agtereenvolgende neerlae begin het, het min mense verwag dat die Johannesburgers uit die stof sal opstaan. Twee weke gelede het hulle egter die Tukkies geklop en verlede week die vloer met die Ixias gevee.

Maandagaand meet hulle kragte met die Madibaz in Johannesburg. Die besoekers het nog net een oorwinning in die reeks behaal maar het telkens met hulle aanvallende ingesteldheid die oog gevang.

Vir die UJ is ’n bonuspuntoorwinning ononderhandelbaar as hulle die uitspeelwedstryde wil haal. In die losskakel Divan Nel het hulle ’n generaal wat die gang van die wedstryd kan bepaal.

Die besoekers sal swaar steun op hulle kaptein, die flank Kevin Kaba.

Spanne –

UJ: 15. Ewan Adams, 14. Peter John Walters,13. Aphiwe Dyanti, 12. Jaco Fourie, 11. Godfrey Ramaboea, 10. Divan Nel, 9. Johan Esterhuizen, 8. Leon Massyn, 7. Adrian Bester, 6. Wian Conradie, 5. Reinhaardt Nothnagel, 4. Kevin du Randt, 3. Nico du Plessis, 2. Johannes Snyman (kapt.), 1. Waldo Weideman. Bank: 16. Le Roux Baard, 17. Kyle Kruger, 18. Chergin Fillies, 19. Jo Hanco de Villiers, 20. Siyabonga Luwaca, 21. Devon Maré, 22. Johann Vermaak, 23. Carlisle Jordaan.
Madibaz: 15. Lindelwe Zungu, 14. Athenkosi Mayinje, 13. Siphumelele Msutwana, 12. Andile Jho, 11. Ivan-John du Preez, 10. Thomas Kean, 9. Nel Rouche, 8. Kevin Kaba (kapt.), 7. Henry Brown, 6. Stephanus Niewoudt, 5. Gerrit Huisamen, 4. Wynand Grassmann, 3. Nicolaas Oosthuizen, 2. JP Jamieson, 1. Xandre Vos. Bank: 16. Jedwyn Harty, 17. Zizi Yase, 18. Nicolas Roebeck, 19. Reyno du Toit, 20. Warren Jollis, 21. Lovu Claassen, 22. Simon Bolze, 23. Jixie Molapo.

Afskop: 18:30

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.