Maandag Matie-held, Saterdag Pumas-held

Dubbele held Chris Smith (regs) saam met Suwi Chibale, albei oudleerlinge van SA College School, Kaapstad. (Foto: Twitter)

Maandag was hy een van die Maties se helde in hul sege in die Varsitybekerreeks, Saterdag het hy 21 punte vir sy nuwe span, die Pumas, in die Supersportreeks behaal.

Dis die heugelike verhaal vandeesweek van die losskakel Chris Smith.

Sy vyf strafdoele en drie doelskoppe het die Pumas gehelp om die Blou Bulle in Nelspruit met 36-18 te onthoring.

Groot seges was aan die orde van die dag in die eerste ronde van die Supersportreeks wat Saterdag afgeskop het.

In Windhoek het die Valke die Welwitschias met 39-7 afgeransel; op Schweizer-Reneke het die Griffons hul oorheersing van die Luiperds met 47-21 voortgesit; en in Kimberley het Griekwas die Sharks-vyftiental met 50-33 verniel.

Die Valke is die vroeë voorloper in die Noorderafdeling en die Griffons in die Sentraalafdeling.

♦ Dit lyk of daar maar weer swarigheid op die Namibiërs in dié reeks wag.

Die Valke het ses drieë teen die tuisspan se een gedruk, en was rustyd reeds met 27-0 voor.

♦ Die Griffons bly maar die Luiperds se nemesis en het min moeite ervaar om die tuisspan deeglik af te stof.

Die Noord-Vrystaters het sewe drieë gedruk en was rustyd met 19-7 voor.

Die besoekers se losskakel, Jaun Kotzé, het 17 punte behaal deur ʼn drie te druk en met ses doelskoppe te slaag.

♦ Die Pumas het die Bulle in die tweede helfte met indrukwekkende verdediging tot stilstand gespeel.

Die tuisspan was rustyd reeds met 20-18 voor, en die besoekers kon in die tweede helfte geen enkele punt aanteken nie.

Die Bulle se swak dissipline het Smith in staat gestel om sy vyf strafdoele in punte te omskep.

♦ Griekwas, verlede jaar se naaswenner, het die KwaZulu-Natallers in alle afdelings van die spel oorheers en rustyd reeds met 29-14 voorgeloop.

Sy linkervleuel Enver Brandt het drie drieë gedruk. Hy het verlede jaar nege keer in die reeks gedruk en die voorste plek met Frankie Herne van die Pumas gedeel.

Puntemakers –

Welwitschias 7 (0) – Drie:  Eugene Jantjies. Doelskop: Janré du Toit.

Valke 39 (27) – Drieë: Friedle Olivier (2), André du Plessis, Don Mlondobozi, Andries Schutte, Nazeem Wood. Doelskoppe: André du Plessis (2), Erol Jaggers. Strafdoel: André du Plessis.

Luiperds 21 (7) – Drieë:Eugene Hare, Gene Willemse, HP Swart. Doelskoppe: DP de Lange, Schalk Hugo (2).

Griffons 47 (19) – Drieë: Jean Pretorius (2), Jaun Kotzé, Arthur Williams, Duan Pretorius (2), Warren Williams. Doelskoppe: Jaun Kotzé (6).

Pumas 36 (20) – Drieë: JP Lewis, Stefan Ungerer, Nardus van der Walt. Doelskoppe: Chris Smith (3). Strafdoele: Chris Smith (5).

Blou Bulle 18 (18) – Drieë: Jade Stighling, Earll Douwrie. Doelskop: Earll Douwrie. Strafdoele: Earll Douwrie (2).

Griekwas 50 (29) – Drieë: Enver Brandt (3), AJ le Roux (2), Jono Janse van Rensburg, Louis Venter. Doelskoppe: André Swarts (3), Pieter-Steyn de Wet (3). Strafdoel: André Swarts.

Sharks 33 (14) – Drieë: Ilunga Mukendi (2), Grant Williams, Jeremy Ward, Morné Joubert. Doelskoppe: Garth April (3), Courtney Winnaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Wel gedaan WP Rugby, nog ‘n goeie speler weggejaag. Julle het mos hoeka emmers vol “briljante” losskakels hier in die Kaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.