Maandag ’n moetwen-wedstryd vir die Pukke

Die Pukke sal duimvashou dat hulle kaptein Jeandré Rudolph fiks verklaar word vir Maandag se stryd. (Foto: Mario van de Wall/Saspa)

Die Pukke sal duim vashou dat hulle kaptein Jeandré Rudolph fiks verklaar word vir Maandag se stryd. (Foto: Mario van de Wall/Saspa)

’n Bonuspuntoorwinning. Dit is wat die NWU-Pukke Maandagmiddag teen Tuks in Potchefstroom te doen staan om ’n plek in die halfeindronde van die Varsitybeker-reeks te verseker.

Die Potchefstromers bevind hulle tans in die vyfde plek op die punteleer met 18 punte, vyf agter die Shimlas, wat reeds al hulle rondomtalie-wedstryde gespeel het.

’n Bonuspuntoorwinning sal hulle op 23 punte plaas, gelyk met die Shimlas, maar omdat die Pukke ’n beter punteverskil het, sal hulle deurdring.

Jeandré Rudolph, kaptein van die Pukke, sê egter dit is ’n lekker uitdaging om oorwinning met ’n bonuspunt te moet behaal om deur te dring.

“Fisies kan ons nie beter voorberei nie, dit is nou maar net om ons geestelik reg te kry vir Maandag, maar ons is gefokus op wat ons moet doen,” sê Rudolph.

Die Potchefstromers kon in hulle sewe wedstryde vanjaar slegs 20 drieë druk, terwyl die Tukkies nie minder as 41 keer agter hulle opponente se doellyn gaan kuier het nie.

Maar sê Rudolph “dit is belangrik dat ons uitgaan en na die beste van ons vermoëns speel”.

Die jonger spelers in die span sal Maandag opsien na ervare spelers soos Rudolph en die flank Marno Redelinghuys, wat verlede jaar deel was van die span wat Maties in beseringstyd in Stellenbosch geklop het om die kroon te verower.

“Die senior spelers in die span het ervaring van die druk wat met sulke situasies gepaardgaan, maar dit is ook goed dat daar jong spelers is wat die soort druk die eerste keer ervaar. Hulle wil net speel en hulle beste lewer,” sê Rudolph.

Daar is nog onsekerheid oor Rudolph se beskikbaarheid vir dié belangrike wedstryd, nadat hy twee weke gelede teen die Ixias ’n graadtwee-skeur in sy enkelligamente opgedoen het.

Rudolph self is egter vol vertroue dat hy Maandag op die veld sal draf. “Ek het nog nie weer begin oefen nie. Ons sal teen Vrydag, of dalk eers Sondag, ’n besluit oor my fiksheid neem. Maar ek behoort reg te wees.”

♦ Die afgelope Maandag se loslootjie kon volgens Rudolph nie op ’n beter tyd vir die span gekom het nie.

“Dit was lekker om bietjie van rugby af weg te kom en ons koppe weer skoon te kry. Dit sal ons beter laat fokus teen Tuks,” sê hy.

Die Fanie du Toit-stadion met sy 4 500 sit- en 1 000 staanplekke vir toeskouers sal na verwagting Maandagmiddag gepak wees van ondersteuners wat hulle span tot ’n oorwinning sal probeer dra.

Slaag die Pukke daarin om Maandag die Tuks, wat bo-aan die punteleer is, te klop en die Maties klop die UJ in Stellenbosch, sal die Potchefstromers in die halfeindronde teen die Stellenbossers in die Danie Craven-stadion te staan kom.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.