Madosh, Arno groet Bulls

Arno Botha. Foto: GB Jordaan.

Twee van die Bulls se grootste sterre, Madosh Tambwe en Arno Botha, sal voortaan hul rugby in Frankryk speel.

Die vlieënde Tambwe sal vir Bordeaux uitdraf, terwyl Botha in die kleure van Lyon in aksie sal wees.

Die Bulls het ongetwyfeld by die Kongo-boorling se vaart gebaat en hy het agt drieë in die Pretorianers se goeie Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog gedruk.

Tambwe het in ’n inskrywing op sosiale media onder meer vir Jake White bedank vir die invloed wat die oud-Springbokafrigter op sy loopbaan en lewe het.

“Ek sal nooit die tyd vergeet wat ek saam met jou en die res van die afrigterskorps kon werk nie,” het hy geskryf.

Madosh Tambwe is ’n gevaar op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Hy het ook ’n spesiale boodskap vir sy spanmaats gehad.

“Ons het dalk nie die seisoen op die manier afgesluit waarop ons graag wou nie, maar ek sou dit met niemand anders wou aanpak nie. Baie dankie vir die wonderlike herinneringe; ek gaan julle ouens mis.”

Tambwe het al vantevore ook vir die Lions en die Sharks uitgedraf en hy is ongetwyfeld ’n driedrukmasjien. Hy het een van die vinnigste driekunse in Superrugby-geskiedenis behaal toe hy vier drieë vir die Lions teen die Stormers gedruk het.

Op sy beurt groet Botha die Bulls vir die tweede keer nadat hy vroeër ook Pretoria vir Europa (London Irish en Munster) verruil het.

“Nóg twee onvergeetlike jare, ongelooflike herinneringe en wonderlike vriendskappe. Dit is hartseer om weer weg te gaan, maar ek is opgewonde oor my volgende hoofstuk by Lyon,” het die sterk losvoorspeler getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
piet

Nulle moes meer geld uitgehaal het om die speler te behou. Vir my gelyk na een van die min spelers in die nulle agterlyn wat iets op die aanval kon uitrig. Maar is dalk beter vir sy loopbaan, verlaat ‘n sinkende skip.

N

Madaosh is dalk n groot verlies, maar Arno Botha het glad nie beindruk nie. Hyt laas goeie rugby gespeel voor hy die eerste keer by die bulle weg is.

piet

Verloor 2 en koop 10. Nog 10 gaan ook nie genoeg wees nie.