Mag ons nie weer só ʼn Saterdag beleef nie

Wanneer jy teen Italië se nasionale sokkerspan speel, kan jy verwag om te verloor. Maar teen die rugbyspan?

Nee, nee, nee!

Dis hoekom verlede jaar se drag slae onverskoonbaar was toe die Springbokke met 18-20 in Florence verloor het, en dis hoekom die Springbokke dit nie kan bekostig om Saterdagmiddag (16:00 SA tyd) in Padua weer skandes teen die Italianers te maak nie.

Dertien wedstryde sedert 1999 teen mekaar gespeel, waarvan die Bokke 12 keer aan die wenkant was. Altesaam 617 punte vir Suid-Afrika en net 167 teen hulle. Vyfde in die wêreld teen ʼn span wat 13de op die ranglys is. Dis nie sokker nie, dis rugby, en die gaping is baie wyd!

Bokoorwinnings van 101-0, 74-3 en 60-14.

Waar het dinge dan verlede jaar verkeerd geloop?

Ja, dit was Allister Coetzee se skuld en ja, Brendan Venter het die Bokke se swak punte uitgebuit. En o ja, die Bokke was sonder selfvertroue na ʼn rillerseisoen en het sekerlik die Azzurri onderskat.

Het die Bokke vanjaar werklik soveel verbeter?

Dis hoekom dit belangrik is dat Bongi Mbonambi, Francois Venter, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit en Beast Mtawarira, wat verlede jaar in die Bok-verloorspan was, aan hul spanmaats van die vernedering moet vertel, van die teleurstelling en pyn in die kleedkamer, van die letsels wat die span opgedoen het.

Twaalf spelers van Benetton Treviso is nou in die Italiaanse span en agt van Zebre. Dié twee spanne kom skaars die mas op in die Pro14-reeks. Hoe op dees aarde kan Italië dus die Bokke klop (geklop het)?

Maar, dis koud en nat in Padua, en in sulke toestande is die telling altyd kleiner. Boonop is SA se “groot Franse vriend”, Romain Poite, in beheer van die fluitjie.

Die Italiaanse pak, met Sergio Parisse vooraan, sal hul man in die vaste fasette vir 60 minute staan, maar dan moet die krane deur die Bokke oopgedraai word.

Maal en rol, maal en rol en wanneer dit agterlangs uitgestuur word, moet Ross Cronjé en Handré Pollard dit voor die voorspelers hou.

Soos hulle sê, wen eerder lelik as om weer skandes te maak.

Die spanne –
Italië: 15 Jayden Hayward, 14 Angelo Esposito, 13 Tommaso Boni, 12 Tommaso Castello, 11 Mattia Bellini, 10 Carlo Canna, 9 Marcello Violi, 8 Sergio Parisse (kaptein), 7 Braam Steyn, 6 Giovanni Licata, 5 Dean Budd, 4 Marco Fuser, 3 Simone Ferrari, 2 Luca Bigi, 1 Andrea Lovotti. Bank: 16 Leonardo Ghiraldini, 17 Federico Zani, 18 Tiziano Pasquali, 19 Francesco Minto, 20 Renato Giammarioli, 21 Edoardo Gori, 22 Ian McKinley, 23 Matteo Minozzi.

Suid-Afrika: 15 Andries Coetzee, 14 Dillyn Leyds, 13 Jesse Kriel, 12 Francois Venter, 11 Courtnall Skosan, 10 Handré Pollard, 9 Ross Cronjé, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Francois Louw, 5 Lood de Jager, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Chiliboy Ralepelle, 17 Steven Kitshoff, 18 Trevor Nyakane, 19 Franco Mostert, 20 Dan du Preez, 21 Rudy Paige, 22 Elton Jantjies, 23 Warrick Gelant.

Afskop: 16:00 (SA tyd)

Verwagte weer: Koud en nat met temperature wat tussen 7° en 10° sal wissel.
Skeidsregter: Romain Poite (Frankryk).
Assistent-skeidsregters: JP Doyle (England), Ben Whitehouse (Wallis).
TV-skeidsregter: Eric Gauzins (Frankryk).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stephen Namibia ·

Ek is bevrees dit gaan weer so n Saterdag wees! Huidige SA span nie die naam Springbokke werd nie

kat ·

Ongelukkig gaan ons dit BLY beleef met ‘n afrigter wat die verkeerde manne op die veld sit. Hy is totaal onbevoeg so dit gaan vir jare nog so wees -berei julself voor. Die ander probleem is die kwotastelsel. Politiek in sport het nog nooit gewerk nie en sal ook nooit nie =- maar die S A regering sal dit nooit kop nie en ook nie AC nie. Het hulle het nie nie mentaliteit daarvoor nie.

Veritas ·

Watter verskoning kan ek gebruik? Ek het nie meer hare om te was nie. Ek kam my hare met ‘n waslap

Nakkie die Nar ·

Geen probleem, na Saterdag is die bokkies weer wereldkampioene, Italie is mos die verwysing as ons hul wen…hehehe!

Callie ·

Rugby in SA is poer des merdes deur kwotas. Dan nog n swak afrigter ook. Gelukkig gaan ek nou ngoedkoper pakket op DSTV kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.