Mains dink seker ook terug aan 1995

Laurie-Mains-Foto-odt.co_.nz_.jpg

Laurie Mains

Ek wonder of die gewese All Blackafrigter Laurie Mains vandag (Woensdag) aan 20 jaar gelede terugdink, daardie dag in 1995  toe sy wêreld as afrigter inmekaargetuimel het toe die Bokke die Wêrebekereindstryd met Joel Stransky se wenskepdoel beklink het.

Mains (69) was ʼn goeie rugbyspeler (heelagter), wat 15 toetse vir die All Blacks gespeel het en 115 keer vir Otago. Hy het in 1976 saam met Andy Leslie se toerspan na Suid-Afrika getoer en moes in een of twee toetse gespeel het, maar hy is oor die hoof gesien.

Hy het sy laaste toets aan die einde van 1976 teen Ierland gespeel en Otago in 1984 begin afrig.

Hy is in 1992 as All Blackafrigter in die plek van Alex Wyllie aangestel en het onmiddellik diep spore as afrigter getrap. Maar boeta, hy was nie `n maklike mens om mee oor die weg te kom nie!

Ons paaie het reeds op die eerste aand van die 1992-All Blacktoer na Suid-Afrika gekruis. Dit was tydens  die All Blacks se eerste littelosmaker by Johannesburg-Polisie se veld in Mayfair (Arthur Bloch-park). Hy het my voor al die spelers en media uitgetrap oor ʼn berig wat deur die oorsese agentskap oor hom ná die toets geen Australië geskryf het en hier in die Citizen verskyn het.

“Ek soek ʼn regstelling,” het hy gebulder. Hoe meer ek probeer verduidelik het dat die berig van oorsese oorsprong was, hoe meer het hy sy rug styfgemaak.

“Dis in jou koerant,” het hy gesê. Hy wou van die begin af wys wie’s baas en basta met die res. Van die Nieu-Seelandse joernaliste soos Wynne Gray en Peter Bush (fotograaf) het probeer paai en om verskoning gevra (met Mains reeds om die hoek). “Dis maar soos hy is,” is gesê.

Ek het in 1995 tydens die Wêreldbekertoernooi `n hele paar keer met hom te doene gekry en hoe nader die eindstryd gekom het, hoe knorriger het hy geraak en hoe minder wou hy praat.

Die eindstryd is geskiedenis. Die Bokke het verdien om te wen, want hulle het die All Blacks takties uitoorlê en ek glo hulle was fikser. Maar Mains … die gerugte (snert!) oor Suzie, die kelnerin wat die spelers glo vergiftig het, het ná die eindstryd opgeduik en nooit gaan lê nie.

Maar ek lees juis vanoggend dat die All Blackflank Mike Brewer sê dit was die “regte uitslag”, dat die Bokke verdien om te wen. Die einste Brewer wat op aand ná  die eindstryd vir rugbybaas Dr. Louis Luyt tromp-op geloop het toe  hy op die banket gesê het dat die Bokke ook in 1987 en 1991 sou wen as hulle gespeel het. Brewer, en die res van die All Black-span, het toe uit die saal gestap.

Heeltemal uit die bloute het Luyt vir Mains as destydse Transvaal-afrigter in die laat negentigerjare aangestel. Hy was `n vars briesie, die span het opwindende rugby gespeel en weer op die wenpad gekom. Hy het onder ons velle begin inkruip, maar ai, as jou berig hom nie die dag aangestaan het nie, het jy dit aan jou bas gevoel.

Hy was toe reeds met Annemarie (Buchner/Botha) getroud en sy moes elke oggend die berigte aan hom voorlees en vertaal. Wanneer jou foon hier teen half agt gelui het, het jy geweet dis Annemarie: “Laurie wil gou met jou praat.”

Ná ʼn paar seisoene is hy redelik bitter hier weg, want sy span kon nie bereik wat hy voorsien het nie en ek glo steeds dat hy die Bokke wou afrig, maar van bo-af geblokkeer is. Hy bou nou huise in Otago en ek is seker dat iemand hom gaan nader om te hoor of die Highlanders ʼn kans het in die Superrugby-reeks se halfeind teen die Waratahs.

Oor rugby kon jy hom niks vertel nie en om ʼn braaivleisvuur was hy aangenaam. Maar boeta, behoede jou as hy die dag met die verkeerde voet uit die bed geklim het. En daar was nogal  baie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.