Malcolm Marx is pure goud

Malcom Marx dryf doellyn toe met Pieter-Steph du Toit byderhand. (Foto: SA Rugby)

Toe die Springbokhaker Adriaan Strauss verlede seisoen sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig het, was daar kommer oor sy opvolger.

Daar kon sekerlik teruggeval word op die 33-jarige Bismarck du Plessis, wat ek in sy speeldae in Suid-Afrika as die beste haker in wêreldrugby beskou het. Maar dan sou daar geen opvolgbeplanning gewees het nie, want Du Plessis is aan die skadukant van sy loopbaan in Montpellier.

Chiliboy Ralepelle, Bongi Mbonambi, Callie Visagie, Franco Marais, Ramon Samuels, Akker van der Merwe, Michael Willemse, Robbie Coetzee?  Sekerlik nie.

En toe tree die 23-jarige Malcolm Marx na vore. Hy is verlede seisoen as ʼn jong Bismarck du Plessis in wording beskryf.

Ek glo hy het dieselfde vaardighede, hy is net so vurig, maar minder geniepsig.

ʼn Mens moenie ʼn speler op net een vertoning beoordeel nie. Trouens, daar was ná die toets teen die All Blacks in Albany kommer oor sy vermoë om die bal ordentlik in die lynstane te gooi, want dit is een van die primêre take van enige haker.

Maar Saterdag op Nuweland het Marx een van die beste vertonings nóg deur ʼn haker gelewer. Hy was sekuur met sy ingooie, hy het baie stewig geskrum, hy het getêkkel en gedryf; en hy was die beste baljagter, die groot verwoester by die losskrums waar hy die All Blacks se besit vertraag het om sodoende verskeie strafskoppe af te dwing.

Sy vertoning was baie na aan volmaak en hy was die enigste speler wat ook in Nieu-Seeland 10/10 op sy rapportkaart gekry het, hoewel die Bokke met 25-24 geklop is.

Hy het die All Black-haker Dan Coles en sy plaasvervanger,  Codie Taylor, oorskadu.

Ek het baie agting vir vorige Bok-hakers soos Gys Pitzer, Piston van Wyk, Willie Kahts, Uli Schmidt, Chris Rossouw, John Smit, ook die vlugvoetige Schalk Brits en vanselfsprekend Du Plessis, maar Marx se vertoning was een van daardie wat jy jou kleinkinders van kan vertel.

Ja, daar moet nog baie water in die see loop. Hy moet nog aan ʼn paar aspekte van sy spel skaaf, maar hy is pure goud wat jarelank vir die Bokke kan speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos1 ·

Ek kan nie meer saam stem nie!
Die Bokke het goed gespeel maar daar is nog twee punte waaraan hard gewerk moet word:
1. Te veel onodige skoppe. Dit help niks dat jou span die bal wen en jy skop die bal in jou oponente se hande in nie.
2. Ongedwone foute en bal opvolg. Kyk net wat het die AB gedoen met ongedwonge foute aan ons kant en dat die bal nie opgevolg is nie.
Maar ek het weer hoop vir die Bokke, maar een swaeltjie maak nie die somer nie!

bloues ·

Pieter, ek dink jou eerste sin is foutief. Toe Straus aankondig dat hy klaar is met internasionale rugby het die rugby kenners gejuig. Hy was nog nooit die beste hakker in SA nie. Marx is ‘n yster ek stem saam met jou

Wat Saterdag aanbetref het die bokke teen ‘n ongemotiveerde span, wat glad nie kon konsentreer nie, gespeel. Dit was die ideale kans om die All Blacks te wen.
So n kans gaan nie gou weer kom nie.

wesley ·

Jammer bloues maar ek moet se, daai storie van “ongemotiveerd” is snert. Dit is n toets. NZ was dalk n bietjie moeg van die lang pad, maar speel moet jy speel, altyd jou beste. En hul het, maar die natuur van n mens is maar soms om moeg te raak. Die ouens is nie masjiene nie, alhoewel hul so vir ons moet lyk… Maar dit is geen verskoning nie, ook nie vir jou om nou die Bokke se poging af te kraak en minder te maak as wat dit is nie. Kan die Bokke dan dieselfde verskoning gebruik na n lang seisoen en speel teen Italie in die laaste toets vir die jaar? Toets is toets!

Dirk01 ·

Raak ontslae van Elton Jantjies hy bly te wissel vallig , skop swak en verbeter nie .Asook die besit wegskop met hoogskoppe gee die ALL bLACKS BAL BESIT VERNIET en hulle val dodelik aan . Kommer wekkend dat dit nie besef word nie .

Christo Visagie ·

Stem 100% saam met jou,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,(ek is ‘n groot Golden Lion ondersteuner)

wesley ·

Defnitief geen kommer gehad oor Strauss se opvolger nie. Het al van Curriebeker 2015 gese Marx is die man vir die toekoms en eintlik gejuig wanneer Strauss sy uittrede aankondig. (nie uit slegte wense nie, Strauss het SA goed verteenwoordig, alhoewel laas jaar n blapsie was, en hy was nie vir my n nasionale kaptein nie). Dit het beteken daar geen van die vasklou in die ouer spelers wat SA rugby so lief is vir nie, en Marx se talent kan skyn in die beginspan. Was nooit betwyfel nie!

Jaybee ·

Stem saam met al die kommentaar oor Marx, myns insiens was hy die beste speler op die veld. Dit is egter kommerwekkend die hoeveelheid strafskoppe wat Dreyer afstaan. Ons skakelpaar was nie goed nie, maar wie kies ons in hulle plek. Die heelagter was ook nie op internasionale standaard nie. Dan die senters, daar moet ‘n ander senter maat vir Serfontein gekry word Kriel sal beter op heelagter vaar. Oor die vleuels sal ek liewer nie kommentaar lewer nie. My vraag is hoekom word Kwagga Smit en Werner Kok nie gekies nie?

Kobus van der Walt ·

Marx die “10/10 haker” – die vraag is egter wat SARU gaan doen om hom in RSA te behou – hy is baie Pond/Euro’s werd? Dieselfde geld vir Etsebeth, Kolisi en (ja, ek se dit) Pollard, ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.