Mallett en Jones: Dis ʼn dun koord om op te dans

Nick Mallett. (Foto: Skermskoot/SuperSport)

Dit was een van Nick Mallet se oënskynlike tekortkominge en dis ook die prys wat Eddie Jones op die pas afgelope Engelse rugbytoer na Suid-Afrika betaal het.

Die oud-Engelse en Britse en Ierse Leeus-senter Jeremy Guscott, het Maandag goeie raad vir Jones gehad: Span eers jou brein in voordat jy jou mond oopmaak.

Jones, Engeland se rugbyafrigter, was voor die toer vol bravade, hy het van ʼn reeksoorwinning van 3-0 gepraat, maar toe boemerang sy planne. Hy is afgebring aarde toe en Engeland het die reeks met 1-2 verloor.

Sy diplomasie en sarkasme word nou opnuut bevraagteken, sy spankeuses is opnuut in die spervuur, en hy staan nou pa vir sy uitlatings.

Mallett was ongetwyfeld een van die heel beste Suid-Afrikaanse afrigters, sy wenpersentasie van 71,05% (27 oorwinnings in 38 toetse) tussen 1997 en 2000 getuig hiervan. Hy is naas Kitch Christie, wat ʼn vlekkelose rekord het, Suid-Afrika se suksesvolste afrigter.

Onder Mallett het die Bokke die Drienasies-reeks gewen, die All Blacks tuis en weg geklop, só ook die Wallabies. Die Bokke was in 17 opeenvolgende toetse (Mallett was in 16 daarvan in beheer) onoorwonne – hulle het Frankryk met 52-10 geklop, Skotland met 68-10 verslaan, Ierland met 33-0 afgeransel, Wallis met 96-13 vermorsel en Italië met 101-0 verguis.

Wat meer kan ʼn mens van ʼn afrigter verwag?

Maar net soos nou by SuperSport, waar Mallett ook nie altyd ʼn wag voor sy mond plaas nie, het sy van-die-heup-af-uitlatings hom in die sop laat beland.

Op mediakonferensies het hy altyd laat waai. ʼn Mens moes net op sy knoppie druk en die res van jou hoofberig het binne 10 minute gestalte gekry. Jy hoef geen meer vrae te gevra het nie, Mallett het almal vir jou beantwoord.

Hy het immers vir die Springbokke gespeel, was op die universiteit van Oxford in Engeland vir sy nagraadse studies, waar hy erekleure in rugby en krieket gekry het. Hy het geen vrees geken nie. Hy het op ʼn keer drie sesse in een boulbeurt van Ian Botham (wat toe baie vinnig geboul het en vol venyn was) se boulwerk gemoker. Hy was in die Westelike Provinsie se spanne wat in hul goue jare die Curriebeker-reeks oorheers het.

Hy het ʼn intense kennis van die spel.

Maar Mallett het, net soos Jones, te veel te gou gesê.

Hy het sy eie spelers (soos Gaffie du Toit en Dave von Hoesslin) openlik gekritiseer toe die Bokke deur die All Blacks verslaan is.

Hy wou jare lank nie erken dat hy ʼn groot fout begaan het toe hy Gary Teichmann voortydig gepos en met Bob Skinstad vervang het nie.

Ja, rugby sal beslis armer sonder Mallett en Jones wees, maar soms moet daar maar briek aangedraai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Robert Naude ·

Ja, om die joernaliste en politikuste gelukkig te hou. Hulle kan mos nie die waarheid en weklikheid hanteer nie.

Robert ·

Pieter: ek dink jy is so bietjie kras met die man. As supersport professioneel was dan sou hulle nie die e-mails wat Mallet vir hulle geskryf het uitgelap het nie. Dit was baie swak van hulle want dis privaat en het niks met my of jou te doen nie. Ek was jare terug by ‘n geleentheid in ‘n kerk waar jannie de Beer sy boek vry gestel het en Nick mallet was een van die paneel. Baie professioneel en ht sy beurt afgewag om te praat. Supersport gaan baie arm wees sonder Nick en ek gaan hom baie mis met sy insigte. Daar is nie ander op supersport wat sy gelyke is nie, daar is genoeg oppervlakkige “pundits” maar jy sal nie weer iemand kry met soveel indiepte kennis nie.

Wesley ·

Ek is baie lief vir Mallett se professionele , reguit af kommentaar deesdae. Altyd in plek en in studio by ver die beste. Maar as afrigter was hy nogal te hard, altyd te “dapper” met sy woorde. Daar moet soms n wag voor ons monde wees, en met Guscott se advies vir Jones is dit reg gestel – gebruik jou brein voor jou mond oopmaak. Ek is seker die mense wat so “hou van reguit praat, basta met die res” is nie baie aangename mense nie. Jy tel jou woorde altyd voor jou ouers, pastoor, jou eggenoot, rondom kinders, jou medewerkers / werknemers en jou werkgewer. Sosiale media hoort ook op daai lys. Jy is vry en geregtig tot jou opinie, maar nie vry van die verantwoordlikheid daarvan nie.

Frans C ·

Sagte heelmeesters maak stinkende wonde.Nouja dinge het verander. Geen skoleafrigter sal bv vandag met ‘n rottang op die veld gaan en ‘n speler ‘n raps op die agterent gee as die nie voluit gehardloop het nie,of as ‘n agterspeler wat nou regtig droogmaak,in die voorry indruk om te voel hoe harde werk dit is om te skrum.

Kyk maar wat die Lionsspelers se houding teenoor Mitchell was in 2012 toe hy volgens hulle onredelik was in sy verwagtinge.Nouja in die ou SAW het niemand my gevra of
ek asb. die ‘river crsossing’ of die ‘obstacle course’ sou voltooi en of die Bedford te vinnig na my sin ry,toe ons moes afspring so langs die teerpad.

Jean ·

Stem absoluut saam met twee boonste kommentare!
En ou AW het gedink hy is die kat se snorbaarde maar het elke liewe keer maar net op Naas En Mallet se ontleding van die spel gery maar is herlaas lelik met sy broek op sy kniee gevang toe hy voor in die wa gespan is. Ou polities korrekte supersport is alreeds min werd, sonder Mallet is dit n sirkus… Maar asb laat ou AW ons almal n proffesionele ontleding van die spel kom gee,hehe.
Jammer dat oor politieke korrektheid jy nie jou eerlikke opinie mag lig nie en dit is hoekom Suid Afrika se rugby aan flarde le…politiese korrektheid..
Te minste het Mallet geweet waarvan hy praat…Tata Mallet TATA supersport….

Wesley ·

Van wanneer af beteken reguit eerlike opinie nou beledigend en afbrekende kommentaar? Wanneer Mallett sy losskakel en scrummie onder die bus gegooi het, was dit nie reguit nie, dit was onvanpas. Hul was deel van n span wat saam staan in wen en verloor. Kyk ook net wat afbrekende opleiding en houdings ook kan doen in professionele omgewings – aka Kamp Staaldraad. Maar wanneer Mallett sy misnoe uitgespreek het teenoor SA rugby en kaartjie pryse wat onnodig deur die dak trek vir toetse, was dit reguit en nodig, wat toe sy werk as afrigter eintlik gekos het. Baie respek vir daai een van hom. Elk geval, AW gaan sleg verloor in die hof. Moet sonder enige twyfel bewyse voortgee. Hy het niks nie.

@wesley ·

Hang af van watter kommentaar jy praat Weezley..As jy meen amper 20 jaar terug maak jou negtiewe sporadiese kommentaar oor hom van hoe lank terug maak net soveel sin soos meeste van jou ander kommentaar…
Mallet se wen persentasies as een van die beste Springbok afrigters of jy nou van hom hou of nie. Sy reguit manier van dinge hanteer is presies hoekom hy so suksesvol was. Dit het baie te doene met die feit dat hy weet waarvan hy praat…Miskien het hy geleer om sy woorde versigter te kies,miskien het hy nie ek gee nie eintlik om nie, maar ek kan my net indink wat hy regtig moet dink oor die huidige stand van Bontebok rugby oor al die politiese korrektheid en hy moet net sy mond hou soos baie ander terwyl dinge so pateties gaan…

Johan ·

Ja en so kritiseer ons asof ons die perfekte mens is. Mallett is uiters kundig (ek gaan nie alles herhaal wat in berig is nie) maar ja soms praat hy te gou. Allistair Coetzee is waarskynlik beter as Mallett in die manier hoe hy praat, maar was nie as afrigter op dieselfde vlak as Mallett nie. Wie sal ek as afrigter vir die Bokke aanstel? Mallett bo Coetzee want hy ken sy rugby.

Ons sal maar net altyd kritiseer en fout vind. Maar nou Jeremy …….. Jeremy……(blaai net gou terug na die berig)……o…… Jeremy Guscott was natuurlik een vand die GROTES in Engelse rugby en daarby saam as afrigter het hy nie sy gelyke nie. Wat doen hy nou vir ‘n lewe? Joernalistiek?

Ons moet onthou Eddie Jones se grootpratery is alles deel van sy “spel” wat hy voor die tyd speel. O…… en het hy nie Jake White gehelp sodat SA die Wereldbeker wen nie.

Henry ·

Jean de Villiers en Joel Stransky se oordrewe lofsange wanneer Kolisi of enige van die ander spelers van kleur bloot hul djoppie op die veld verrig, (soos elke speler se plig/opdrag is) is tog sooo vervelig, subjektief en Polities Korrek dat my pelle en ek deesdae die klank afskakel om sodoende sonder die PK stroop van die tweetjies, ons eie gevolgtrekkings maak oor wie, wat, waar, wanneer, hoe ens.

Jeremy Guscott wat onbevange en objektiewe bydraes gelewer het, het hopelik ons twee PK lofsangers positief beïnvloed.

Seeklong ·

Nick is nie ‘n banggat nie, hy is nie skynheilig nie en sê ‘n ding reguit en op die man af. Ek haal my hoed vir hom af en bo alles is daar min manne wat die spel rugby ken soos hy.

Koos ·

Pieter Kruger verwar afrigter en kommentator se pligte en verantwoordelikhede. Mallett is lankal nie meer Springbokafrigter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.