Mallett verdedig Bokke se benadering

Die Springbokke se voorspelers beïndruk gereeld met hul spel. Foto: GB Jordaan.

Moenie die Springbokke se wedstrydbenadering kritiseer nie, sê Nick Mallett. En dié 64-jarige rugbykenner behoort te weet waarvan hy praat.

Onder sy bekwame toesig het die Springbokke ’n rits toets in die 1990’s gewen, terwyl ’n mens deesdae gerus na sy wedstrydanalise op SuperSport kan luister.

“Toetswedstryde moet gewen word. Rassie Erasmus en Jacques Nienaber het gesorg dat hierdie span wedstryde wen,” het Mallett gesê.

Die Springbokke het in 2019 die Rugbykampioenskap gewen, hulle is die Wêreldbekerkampioen, hulle het die aanslag van die Britse en Ierse Leeus suksesvol afgeweer én hulle is tans eerste op die 2021‑Rugbykampioenskap-punteleer.

“Moenie Suid-Afrika kritiseer as hulle hierdie tipe toetsrugby speel en wen nie. Jy kan hulle kritiseer as hulle verloor.”

Nick Mallett. (Foto: Skermskoot/SuperSport)

Volgens Mallett het die Springbokke skaars ’n paar seisoene terug met grotendeels dieselfde spelersgroep teen die All Blacks (57 – 0) en teen Ierland (38 – 3) vasgeval.

“Ons het in 2017 vernederende nederlae gely toe ons met die bal probeer hardloop het; dit het nie goed uitgewerk nie. Deesdae maak ons op ons sterk punt staat en ons klop spanne wat vantevore vir ons ore aangesit het.”

Die Springbokke het in 2021 reeds met Georgië, die Britse Leeus en Argentinië afgereken, tog vergelyk baie kenners die Suid-Afrikaners se wedstrydbenadering met ’n wiegelied.

In een van sy rubrieke het die voormalige Engeland-losskakel Stuart Barnes geskryf dat hy baie waardering vir die Bokke se durf en toewyding het; die All Blacks moet net asseblief wêreldrugby van die Suid-Afrikaners se konserwatiewe benadering kom red.

“Verdediging is die Springbokke se hoofprioriteit en in hul strewe om nie noodwendig die beste te wees nie, maar om die beste te klop, het hulle ’n tree in die verkeerde rigting gegee,” het Barnes geskryf.

Tog sien Mallett uit na die dag wanneer die Springbokke (uiteindelik) teen die All Blacks speel.

“Nieu-Seeland is die beste hardlooprugbyspan ter wêreld, ons is weer die beste om spelers plat te duik wat met die bal hardloop. Ons vastefasetspel is beter, ons rolmaalbewegings is sterker en ons skoppe is meer doeltreffend; dit beloof om ’n titaniese tweestryd te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piet ·

Die AB’s gaan maar die maatstaf wees waarteen ons sal moet meet. Voor dan kan jy nie eintlik sien wat werk en wat nie werk nie en wie die beste is of nie. Probleem is dat as jy teen die AB’s speel, dit uiters onwaarskynlik is dat jou voorspelers enigsins in so ‘n mate gaan oorheers dat dit die uitslag van die wedstryd sal bepaal (ek bedoel, jy gaan nie sommer vir hulle in die grond in skrum, lynstane afvat en rolmaal soos jy wil nie, vergeet maar daarvan). En natuurlik het hulle die talent om daai haas uit die hoed uit te pluk met hulle agterlyn as dit nodig is. Sal interessant wees.

SjN ·

Stem saam met Mallet maar met veranderinge in spel patroon kan hul baie meer driee druk.

Thelsa ·

Oom Boy Louw het reg gepraat : ‘Looks at the scoreboard’

jou gewete ·

is daar in die land werklik nog mense wat die klug steun

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.