Mannetjies Roux sou mos in sy bronwater stik

Die legendariese Mannetjies Roux sou mos in Biesiespoort se verkwikkende bronwater stik as dit in sy dae gebeur het.

Sy ou klub, Victoria-Wes, het dan Saterdag met 0-76 in die Griekwas se Superliga teen Hartswater verloor (rustyd 0-31).

Stewart Bennie, Hartswater se afrigter, sê sy span wou baie graag weer wen, en het hard daarvoor gewerk.

“Hartswater se sterkste punt is dat die span ʼn hegte eenheid op en van die veld af vorm. Ons het in die jongste paar wedstryde gesukkel om dié samespel te vind.

“Dan het die spelers ook gespeel vir die gemeenskap wat ons so positief ondersteun, selfs deur die swaar tye en vorige swak vertoning.”

Bennie sê die uitblinkers was Gerhard Holtzhausen (buitesenter) en Mynardt Kritzinger (agsteman) wat elk vier drieë gedruk het deurdat hulle deurentyd werk gesoek het.

“Die speler van die wedstryd, Hermanus Basson (slot), was baie vinnig by die afbreekpunte.

“Die bankspelers het geweldige trefkrag gebring. Tiaan Erasmus, André Wilson, Aldro (Bubbles) Haines, Pieter Goosen en Trevor Slambert het verseker dat die wenspan sy hoë tempo volhou.

Indruk gemaak

“Ashwin Rooi (plaasvervanger-skrumskakel) het sy eerste drie vir die klub gedruk.

“Die leierskap van die twee kapteins is beproef, en het in die tweede helfte sterk indruk gemaak. Holtzhausen en Frans Burger (flank) was puik, positiewe leiers op die veld.

Naas Holtzhausen, Kritzinger en Rooi het Gerhardt Badenhorst (heelagter), Japie van Zyl (skrumskakel) en Jan van der Linden (slot) Hartswater se drieë gedruk.

Bennie sê die span werk hard daaraan om as ʼn eenheid te speel, en dat elke speler sy werk op die regte tyd en plek moet doen.

“In die eerste helfte is nie daarin geslaag nie, maar ons het in die tweede helfte baie goed saam begin speel.”

Naelbytstryd

♦ Soos met elke kragmeting die afgelope paar jaar was die botsing tussen Griekwas se twee voorste klubspanne, Sishen en Kimberley (voorheen Kimberley Polisie), ʼn naelbytstryd.

Die kampioen en Goue Bekerspan, Sishen, het Saterdag s’n met 24-23 gewen, maar Kimberley was rustyd met 14-10 voor.

Riaan van Straten, die wenspan se hoofafrigter, sê soos verwag is, was dit ʼn klipharde wedstryd.

“Albei spanne het mekaar uit die staanspoor goed gemeet, en die manne het intens en fisiek ingeklim.

Hy sê Sishen het in die eerste helfte ʼn paar ongedwonge foute gemaak wat voorkom het dat hy sy ritme vind, maar sake het in die tweede helfte beter gelyk.

“Voorlangs het Kudu Pretorius op agsteman goed vertoon. Agter het Prince Bafokeng op binnesenter ʼn baie goeie wedstryd gehad. Hy was rotsvas op die verdediging, en het die bal baie goed op die aanval gedra.

“Henco Oliver het op losskakel die wedstryd baie goed beheer met sy algemene spel en akkurate skopvoet.”

Van Straten sê dis verblydend om te sien hoe gesond Griekwas se klubrugby is.

“Albei spanne het meedoënloos ingeklim en daar was baie min te kies tussen die twee. Sishen was gelukkig om hierdie ronde as wenner van die veld af te stap.”

Hy sê Sishen het ʼn handvol geleenthede met swak hantering en oorhaastige afronding deur sy vingers laat glip.

“Daar sal die eerskomende twee weke hard gewerk word, voor ons teen Victoria-Wes op sy tuisveld gaan speel. Dis ʼn gedugte span, en kan veral nie op sy tuisveld, voor sy tuisskare, onderskat word nie.”

Pretorius, Armand Martin en Bees Strydom het Sishen se drieë gedruk, en Olivier het die res met die voet bygevoeg.

Gly-gly

♦ In nog ʼn Superligawedstryd het Upington-Dorp op Sutherland die tuisspan met 36-10 geklop.

Odette Kruger, Dorp se sekretaresse, sê die rugbyveld op Sutherland het byna geen gras gehad nie, en die tuisspan het dit natgemaak, wat dit ʼn “klei-effek” gegee het.

“Die spelers het moeilik gehardloop en baie gegly.”

Sy sê Dorp se vaste fasette, die lynstane en skrums, was uitstekend.

Johan Myburgh (losskakel) het op die aanval uitgemunt, en die loskopstut, Desmond Louw, het goeie lyne uit die voorhoede gehardloop.

Attie Brits, Lian Liebenberg (twee), Frans Kanuni, Louw en Cobus van Niekerk het Dorp se drieë gedruk, en Brits het drie daarvan verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.