Marokko weer Maghreb se kampioen

Marokko is ná die afgelope Drienasiestoernooi in Oudja, Marokko, weer die Maghreb se kampioen nadat hy die titel met die instelling daarvan verlede jaar ook gewen het.

Die Maghreb is dié deel van Noordwes-Afrika wat grootliks deur die Berbers bewoon word, en naas Marokko is Tunisië en Algerië die vernaamse rugbylande.

Die kampioen het ʼn noue ontkoming in die Stade d’Honneur beleef toe hy Tunisië slegs met 17-16 kon ondersit, maar het seker van die titel gemaak deur Algerië met 20-13 te verslaan.

In die ander wedstryd het Tunisië vir Algerië met 36-13 afgeransel.

Marokko het vroeër vanjaar in Cassablanca ook Rugby Afrika se Silwerbeker in ʼn vierhoekige stryd met Ivoorkus, Madagaskar en Botswana ingepalm.

Zimbabwe spring vry

♦ In nog ʼn verwikkeling in Afrikarugby het Zimbabwe onmiddellike skorsing uit Wêreldrugby (WR) net-net vrygespring toe hy sy huishoudelike sake tot die bevrediging van WR geskik het met die verkiesing van ʼn nuwe bestuur op ʼn spesiale ledevergadering.

Aaron Jani is die nuwe president, nadat WR-waarnemers hul goedkeuring geheg het aan die prosedure wat deur die vergadering gevolg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.