Marx die diamant in Teine se skitterblink jaar

randfontein-128x128Vir die veelsydige agterspeler Rudi Marx het sy klub se erkenning aan sy rol die kroon gespan op `n skitterblink seisoen waarin Randfontein die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagskild gewen het.

Die onderste spanne ná die opstellende ronde in die bond se reeks om die Pirates-grootuitdaagbeker het om dié skild meegeding.

Marx is by die bond se prysuitdeling as die klub se sportman van die jaar aangewys.

Hy het nie net volop slaankrag aan die agterlyn verleen nie, maar hom ook deur sy bekwame leierskap onderskei.

Mark en sy spanmaats Theo Calitz, Dean Krynauw, Kosie van Zyl en Johan (Boeta) Swart het die seëvierende Goue Leeus-amateurspan by die Noordelike Amateur- Provinsiale Kampioenskap verteenwoordig.

Die Teine se eerste span is bekroon as die span wat die beste presteer het nadat hy Roodepoort 35-31 geklop het om die Uitdaagskild te wen. Dit was boonop die eerste keer in 11 jaar dat hy sy buurman kon troef.

Calitz is as die spelers se speler van die jaar en as die beste agterspeler aangewys, en Swart was die beste voorspeler.

Wat die res van die spanne betref, was Donovan Hays (voor) en Bennie van Vuuren (agter) die tweede span se beste spelers; Pieter Meyer (voor) en Erens Oelsen (agter) die derde span s’n; Pieter Smit (voor) en Swys Pretorius (agter) die o.21-span s’n; en Eben Vorster (voor) en Regard Erasmus (agter) die o.19s s’n.

Smit is insgelyks die junior sportman van die jaar.

Meeste inisiatief

Dana van Vuuren, die klub se voorsitter, is aangewys as die lid wat die meeste inisiatief getoon het; en Rudy Janse van Rensburg as die verdienstelikste lid.

Ryno Bosman (senior) en Brandon Bekker (junior) het die beste sportmangees aan die dag gelê; en Krynauw (senior) en Pretorius (junior) het die beste gevorder.

Louw Parsons is die senior afrigter van die jaar, en JP Huisamen die junior afrigter.

Donald Bekker het `n spesiale toekenning as seniorburgerspeler gekry; en die spellingtoekenning vir die alweter wat nie altyd alles geweet het nie is aan Drikus (Drakie) Jansen toegeken.

Parsons was ook die grootste droogmaker, maar Bosman en Van Zyl het nie juis vir hom teruggestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.