Die briljante Springbok-haker Malcolm Marx het al drie toekennings verower waarvoor hy deur die SA Rugbyunie (Saru) benoem is.
Hy is die speler van die jaar (2017), die jong speler van die jaar (o.23) en die Superrugbyspeler van die jaar.
Die aankondiging is deur Saru gedoen in ʼn verklaring pleks van by die gebruiklike glansprysuitdeling, nog ʼn teken van die besnoeiings wat deur Saru se geldknyp genoop word.
Die ander benoemdes as speler van die jaar was Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Jaco Kriel en Jan Serfontein.
Marx was verlede jaar ook die jong speler van die jaar, en is vanjaar die eerste sedert Ashwin Willemse in 2003 om sowel die senior as die junior toekenning te wen.
Die Blitsbokke is as die span van die jaar bekroon, en hul breier, Neil Powell, as die afrigter van die jaar.
Rosko Specman is die sewesspeler van die jaar.
Juarno Augustus, wat verlede jaar as die beste speler by die Wêreld-o.20-kampioenskap aangewys is, is die Junior Springbok-speler van die jaar.
Jaco Peyper is die skeidsregter van die jaar.
Ander toekennings sluit in –
Curriebekerspeler van die jaar: Warrick Gelant (Blou Bulle)
Curriebeker- Eerste Liga-speler van die jaar: Jaun Kotzé (Griffons)
Supersportreeks-speler van die jaar: Craig Barry (Westelike Provinsie)
Cravenweekspeler: Sanele Nohamba (KwaZulu-Natal)
Geluk Malcom. Net een ding, dalk bietjie makliker om totaal uit te staan in n span soos die huidige bokke. Daar is meeste pateties