Maseru kry internasionale sewestoernooi

Samuel Takama, die kaptein van Lesotho se sewesspan; Willem Strauss, die toernooipromotor; Rethabile Marumo, Lesotho se adjunk-minister van sport; en Hendrik Ras, die Bloem-rugbyakademie se afrigter. (Foto: Verskaf)

Maseru kry sy eie internasionale sewestoernooi, het die sportpromotor Willem Strauss aangekondig.

Die eerste van dié toernooie vind 23 en 24 September vanjaar in die nasionale stadion in die hoofstad van Lesotho plaas, met afdelings vir internasionale, klub- en skolespanne.

Strauss sê spanne soos die SA Akademie, Zimbabwe, Namibië, Botswana, Mauritius, Swaziland en SA All Stars is genooi, en die gasheerland sal sy internasionale sewesbuiging maak.

Hy sê die toernooi vind twee weke voor die Afrika-seweskampioenskap in Kampala, Uganda, plaas. Laasgenoemde toernooi dien as Afrika-aanspraak op deelname aan die Seweswêreldbeker aanstaande jaar in Amerika, en die Maseru-toernooi bied die ideale kans om litte daarvoor los te maak.

“Sewesrugby bied ook die ideale werktuig om rugby in Afrika te ontwikkel, en die kleiner nasies het die vermoë om met die groteres op die wêreldverhoog mee te ding.”

Lesotho se minister van sport, Kabelo Mafura, het die geleentheid verwelkom vir die bergkoninkryk om kragte teen ander sewesspanne op die vasteland te meet.

Strauss het ook bekend gemaak dat die Bloem-rugbyakademie ʼn ooreenkoms met die Lesotho-rugbyunie gesluit het waarkragtens die akademie-afrigter Hendrik Ras afrigtingsklinieke vir die land se nasionale rugby- en sewesspan sal aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.