Matera en kie nie meer geskors

Pablo Matera. Foto: William West/AFP.

Die beleërde Poemas-rugbykaptein Pablo Matera se skorsing is saam met dié van Guido Petti en Santiago Socino deur die Argentynse Rugby-unie (UAR) opgehef.

’n Storm het vroeër hierdie week oor die drie spelers losgebars nadat xenofobiese en rassistiese Twitter-inskrywings – wat die spelers tussen 2011 en 2013 gemaak het – uitgekrap is.

Matera is ook van sy kapteinskap gestroop, maar die UAR het vandag ’n ommeswaai gemaak en gesê dat die spelers se skorsings opgehef is. Hulle sal egter nie deel van die span wees wat Saterdag teen die Wallabies in Sydney speel nie.

Jerónimo de la Fuente sal die kapteinskapleisels by Matera vir die kragmeting oorneem.

Die UAR het in ’n verklaring gesê dat die spelers gister deur ’n tugkomitee geroskam is en dat hulle berou vir hul destydse optrede getoon het.

“Die drie spelers het gesê dat hulle innig spyt oor hul optredes is, terwyl hulle weer eens om verskoning gevra het.  Hulle het verder aangevoer dat hul optrede roekeloos was – ’n tipiese kenmerk van onvolwassenheid.”

Volgens die UAR het die tugkomitee die spelers se houding gedurende die proses geëvalueer en daar is ook in ag geneem dat hulle nie soortgelyke oortredings in die afgelope agt jaar begaan het nie.

Die Argentynse rugbybase se besluit om die spelers te skors het kritiek van voormalige spelers ontlok.

Agustin Creevy, wat die Poemas in 89 toetse verteenwoordig het, het Matera-hulle op sosiale media verdedig.

“Ek ken vir Pablo, Guido en Santiago en ek weet watter tipe mense hulle vandag is. Hulle Twitter-inskrywings van nege jaar terug verteenwoordig glad nie wie hulle is nie. Almal maak foute en sportmanne word nie daarvan vrygestel nie,” het Creevy gesê.

Op sy beurt het die legendariese Augustin Pichot gesê dat die spelers ongetwyfeld meer volwasse geword het.

“Al drie spelers se twiets was verkeerd. Ek glo egter dat hulle genoeg berou getoon het en dat hulle baie meer volwasse is sedert hulle die inskrywings gemaak het.”

  • Die Pumas speel Saterdag om 10:45 teen Australië.

Poemas: Santiago Carreras (heelagter), Bautista Delguy (regtervleuel), Matias Orlando (buitesenter), Jerónimo de la Fuente (kaptein en binnesenter), Emiliano Boffelli (linkervleuel), Nicolás Sánches (losskakel), Felipe Ezcurra (skrumskakel), Rodrigo Bruni (agtsteman), Facundo Isa (flank), Santiago Grondona (flank), Marco Kremer (slot), Matias Alemanno (slot), Francisco Gomez Kodela (stut), Julian Montoya (haker) en Nahuel Tetaz Chaparro (stut). Plaasvervangers: Jose Luis Gonzalez, Mayco Vivas, Juan Pablo Zeiss, Lucas Paulos, Francisco Gorrissen, Gonzalo Bertranou, Domingo Miotti en Santiago Chocobares.

Wallabies: Reece Hodge (heelagter), Tom Wright (regtervleuel), Jordan Petaia (buitesenter), Hunter Paisami (binnesenter), Marika Koroibete (linkervleuel), James O’ Connor (losskakel), Nic White (skrumskakel), Harry Wilson (agtsteman), Michael Hooper (kaptein en flank), Ned Hanigan (flank), Matt Philip (slot), Rob Simmons (slot), Allan Alaalatoa (stut), Brandon Paenga-Amosa (haker) en Scott Sio (stut). Plaasvervangers: Folau Fainga’a, Angus Bell, Taniela Tupou, Lukhan Salakia-Loto, Rob Valetini, Jake Gordon, Irae Simone, en Tom Banks.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Ek wonder wat sou ‘n Suid Afrikaner/Springbok se lot gewees het vir dieselfde beskuldiging ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.