Matfield en Alberts keer terug in Bokke se groep

Foto: dailymail.co.uk

Foto: dailymail.co.uk

Victor Matfield en Willem Alberts is terug in die Springbokgroep ná hulle beserings die afgelope weke, en Marcel van der Merwe is as stut opgeroep in die plek van die beseerde Frans Malherbe, wie se seisoen verby is.

Dit, kortliks, is die nuus uit die Springbokkamp waar daar ondanks die teleurstellende vertoning teen Argentinië geen paniek blyk te wees nie.

Die manne wat nie sal saamtoer nie, is Warren Whiteley en Juan Smith, wat egter as reserwe gereed staan indien Alberts nie Donderdag sy fiksheidstoets slaag nie.

Die Bokke het nou `n paar dae af en kom Donderdag weer bymekaar voordat hulle Saterdag na Perth vertrek, waar die Wallabies op hulle wag ná hul loesing van 20-51 teen die All Blacks.

Die vernederende skrumvertoning teen die Poemas het miskien gevaarligte laat flikker, maar die skrumafrigter, Pieter de Villiers, wat jare lank een van Frankryk se steunpilare was, meen hy het die oplossing vir die vernederende wyse waarop die Bokke Saterdag oordonder is.

`n Mens sal maar moet wag en sien wanneer die span aanstaande week aangekondig word wat die plan is – en of Van der Merwe, `n eerlike baldraer en ook stormram in die los, die antwoord op stut is. Hy staan in elk geval agter Trevor Nyakane in die voorrytou.

Die Springbokgroep is:

Voorspelers: Willem Alberts, Bakkies Botha, Schalk Brits, Marcell Coetzee, Lodewyk de Jager, Bismarck du Plessis, Jannie du Plessis, Eben Etzebeth, Francois Louw, Victor Matfield, Teboho Mohoje, Tendai Mtawarira, Trevor Nyakane, Gurthrö Steenkamp, Adriaan Strauss, Marcel van der Merwe, Duane Vermeulen.

Agterspelers: Damian de Allende, Jean de Villiers (kaptein), Bryan Habana, Cornal Hendricks, Francois Hougaard, Patrick Lambie, Willie le Roux, Lwazi Mvovo, Ruan Pienaar, Handré Pollard, Cobus Reinach, Jan Serfontein, Morné Steyn.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.