Matfield help gewilde Loftus 200-span herleef

Victor Matfield (hoofafrigter), Willem Strauss (BBRU-president), Akona Ndungane (spanbestuurder) en Jacques van der Linde (borg).

Die Loftus 200-uitnodigingspan wat jare lank vir gewilde voorwedstryde op Loftus Versfeld gesorg het, herleef eersdaags met die legendariese Springbok Victor Matfield as hoofafrigter.

Die span wat in 1986 onder beskerming van die Blou Bulle-ondersteunersgroep Loftus 200 tot stand gekom het, het veral die kollig op klubuitblinkers laat val.

Die span se eerste wedstryd in die nuwe bedeling is 7 Julie teen die Valke se Curriebekerspan – wat die Blou Bulle vanjaar twee keer op hul neus laat kyk het.

Gert Mulder (Quins-Bobbies-rugby) en Marinus van der Watt (Naka Bulle) sal Matfield met die afrigting bystaan. Die Bok Akona Ndugane sal die span bestuur.

Willem Strauss, die president van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU), sê die span sal in ʼn mate die leemte vul wat met die afskaffing van die nasionale amateurtoernooi ontstaan het.

“Ons wil met dié span aan klubspelers die geleentheid bied om vir hulle ʼn kleim in die Blou Bulle se Curriebekergroep af te steek.

“Dis deel van die BBRU se strategie om strukture binne die bond dermate te belyn dat die spelerspoel waaruit verteenwoordigende spanne gekies word, verdiep kan word,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Strauss sê die dae om groot spelersgroepe vir die provinsiale span te kontrakteer is nie langer lewensvatbaar nie en ʼn bykomende toevoerlyn moet uit die bond se klubs en skole geskep word.

Matfield het gewys op die geleentheid wat dit spelers wat laat ontwikkel, bied om tot die beroepstrukture te vorder.

Eugene Hare, die BBRU se uitvoerende hoof, het bevestig dat nog ʼn wedstryd vir die uitnodigingspan later in die seisoen beplan word, en dat spanne uit die BBRU se Reserweliga en uit sy Limpopostreek ook ʼn klompie verteenwoordigende wedstryde sal speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.