Matfield se besering groot terugslag vir Bokke

MATFIELD Victor Matfield is beseer en sal minstens die eerste toets teen Argentinië op 16 Augustus misloop. Lood de Jager sal sy plek op nr.5-slot vul.

Matfield het Maandag by die spanoefening meestal op die kantlyn gesit met ‘n yspak op sy knie. ‘n “Skeurtjie in sy kraakbeen” is Dinsdag by hom gediagnoseer.

“Victor se besering sal vireers konserwatief behandel word en ‘n besluit oor sy verdere deelname aan die kompetisie sal aanstaande week gemaak word,” het die spandokter, Craig Roberts, gesê.

Eben Etzebeth speel die naweek Curriebekerrugby ná sy lang besering en hy en Bakkies Botha sal De Jager se slotmaats in die toets wees.

“Daar is altyd kritiek op Victor, maar sonder hom is ons in groot moeilikheid,” het Heyneke Meyer gesê. “Hy vervul ‘n baie belangrike mentorsrol vir die jong slotte en is ‘n groot leier.” Matfield is die enigste nr.5-slot wat vir die reeks beskikbaar is.

“Dis ‘n groot kommer. Ons het nie 5-slotte in die land nie en ons wil baie hard werk met Etzebeth en De Jager. Lood sal waarskynlik Victor se plek neem. Victor werk op die oomblik hard saam met hom, maar dit sal tyd vat.”

Die Springbokke beleef ‘n ware krisis op slot met die langtermynbeserings aan Pieter-Steph du Toit en Flip van der Merwe. Al oorblywende keuses is Juandré Kruger en Franco van der Merwe, wat in Frankryk speel, en Stephan Lewies, wat ‘n rukkie in die Skotse toets gespeel het.

‘n Plaasvervanger vir Matfield sal Woensdag aangewys word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.