Matie-kaptein wil kleim by Cheetahs afsteek

Chris Massyn. Foto: Facebook.

Die man wat twee universiteitspanne na twee Varsitybeker-titels gelei het, Chris Massyn, is deur die Vrystaatse Cheetahs vir twee jaar gekontrakteer.

Buiten sy heldedade in die kleure van Maties en Tukkies, het die jong losvoorspeler ook seniorrugby-ervaring by die Bulle en WP opgedoen. Maar die tyd van Superrugby is vir eers verby en die watertand-vooruitsig van Pro14-rugby saam met die Vrystaters is nou op die spyskaart.

“Ek sien ongelooflik baie na my tyd by die Cheetahs uit. Ek dink Pro14-rugby – wat meer deur die voorspelers oorheers word – sal goed by my manier van speel pas. Dit gaan my beslis help om ’n meer afgeronde speler te word,” het Massyn aan Maroela Media gesê.

Hy meld Septembermaand in Bloemfontein aan en sal sake teen onder andere Oupa Mahoje, Daniel Maartens en Jasper Wiese vir een van die losvoorspelertruie uitspook.

Die feit dat daar ’n nuwe afrigter in Hawies Fourie is, pas Massyn ook soos ’n handskoen.

Fourie is self ’n oud-Matie en hy was aan die stuur van Stellenbosch-sake toe Massyn-hulle vroeër vanjaar die silwerware omhoog gehou het.

“My hoofdoelwit by die Cheetahs is eerstens om span te haal,” het die losvoorspeler laggend gesê.

Hy is ’n goeie kaptein en het die Varsitybeker-trofee saam met Tukkies en Maties gewen. Foto: Facebook.

“Maar daarna sal ek my stempel behoorlik wil afdruk, nie net as speler nie maar ook as leiersfiguur; en ek wil vir die ondersteuners wys waartoe ek in staat is. Soos reeds genoem, glo ek dat die Pro14 my tipe spel sal pas, juis omdat voorspelers só ’n belangrike rol in Europese toestande vertolk.”

Hoewel hy baie na sy tyd in Bloemfontein uitsien, sal hy die grondslag wat by die Bulle en WP gelê is, vir niks verruil nie.

“By die Bulle het spelers en afrigters soos Ruan Steenkamp en Pote Human beslis gesorg dat my rugbyhuis op ’n stewige rots gebou word. Daarteenoor het my tyd by die WP met die afrondingswerk gehelp – hulle het na fasette van my spel gekyk waarop ek nie altyd self gefokus het nie.”

Natuurlik gaan hy ook Varsitybeker-rugby mis, maar daar is ’n tyd vir alles – ook om die studentelewe vaarwel toe te roep.

“Ek is baie dankbaar jeens Varsityrugby, want nie net kon ek lekker rugby speel nie, maar hulle het my ook gehelp om graad te vang; iets waarop ek kan terugval wanneer my rugbyloopbaan verby is.”

By die Vrystaat kan hy weer saam (en teen) vriende soos Wilmar Arnoldi en Gunther Janse van Rensburg speel.

“Dit is die mooi ding van rugby – die vriende wat jy deur die spel maak, sal altyd daar wees.”

  • Die Cheetahs het die afgelope naweek die Bulle oortuigend in ’n Curriebeker-kragmeting geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.