Maties baas, en Shimlas hardloop Witsies kis

Die Maties het wraak geneem vir hulle neerlaag in verlede jaar se Varsitybekereindstryd toe hulle op Coetzenburg vir UP-Tuks in ʼn goeie, taai wedstryd met 24-16 geklop het.

Dit was die Tukkies se derde opeenvolgende neerlaag in vanjaar se reeks – en ook in wegwedstryde teen die Maties – en plaas hulle nou heel laaste op die punteleer.

Tukkies was in die los ʼn raps beter daaraan toe, terwyl die Maties in die skrums die septer geswaai het. Trouens, ʼn strafdrie vanaf ʼn kragtige vyfmeterskrum het aan hulle sewe punte in die eerste helfte besorg.

Tuks het oorgenoeg besit gehad. Benewens die Maties se rotsvaste verdediging was daar egter ʼn gebrek aan slaankrag by die Tukkies wat, wanneer hulle wel ʼn bres geslaan het, die opbouwerk te dikwels met swak hanteerwerk verlore laat gaan het.

Hoewel Tuks veral in die tweede helfte teen die sterk wind moontlik die beste span was, kon hulle na rustyd geen punte aanteken nie.

Die Maties se agterlyn was net daardie tikkie vinniger en meer afgerond op die aanval met Tuks se voorspelers wat in en om die afbreekpunte goed ondersteun het.

Die Tukkies was rustyd met 16-14 voor, maar ʼn verdoelde drie net voor die laaste kwart en ʼn strafdoel in die 79ste minuut het aan die Maties die oorwinning besorg.

Die Maties is nou na drie wedstryde vier ligapunte voor Wits.

♦  Die verrassing van die derde ronde was  ongetwyfeld die naelskraapse oorwinning van die Ikeys teen een van die reeksgunstelinge, die NWU-Pukke.

Die wind wat op Ikeys se berugte Green Mile gewaai het, het nog ʼn slagoffer geëis toe die Kaapse studente met 18-15 gewen het.

Daar was amperse ongeloof by die Ikeys se ondersteuners toe hulle span met rustyd met 5-3 voor was, en na 14 minute van die tweede helfte is die voorsprong tot 12-3 gerek.

En toe begin die Pukke terugveg. ʼn Drie deur Dean Stokes het hulle laat nader kruip, en ʼn Ikey-strafdoel is meer as uitgekanselleer deur Johan Retief se verdoelde drie.

Sake was gelykop, maar die Ikeys het egter laaste gelag toe Lohan Lubbe in  die 79ste minuut die wenstrafdoel deurgestuur het.

♦  Opwindend op die telbord, ja. Baie middelmatig ook.

Dít was die wedstryd tussen die Ixias wat in Bloemfontein met 38-37 teen die Madibaz gewen het.

Meer as 20 strafskoppe wat deur die twee spanne afgestaan is, gereelde omkeerbesit deur albei, swak verdediging (soos byvoorbeeld die 20 uit 90 têkkels wat deur die Ixias gemis is) en twee geelkaarte aan die Madibaz onmiddellik ná mekaar vertel die verhaal van middelmatigheid.

Die Ixias het miskien net-net verdien om te wen in ʼn wedstryd waar albei spanne hier teen die einde ʼn sewepuntdrie gaan druk het. Albei spanne het vyf drieë gedruk en die Madibaz is dus darem met twee ligapunte huis toe.

Te oordeel na hierdie wedstryd is dít die twee spanne wat later vanjaar in die relegasiesone sal wees.

♦  Op Shimlapark is Wits, rammetjie-uitnek ná twee seges teen die Ikeys en die Tukkies, hard aarde toe gebring. Die Shimlas het met 44-24 gewen.

Die Shimlas het eerste bloed geruik met Wits wat egter goed teruggeveg het. Rustyd was die telling 12-elk met albei spanne wat twee keer gaan druk het.

Maar toe slaan die Shimlas, wat van oral af gehardloop en dit effektief gedoen het,  drie minute ná die hervatting toe met ʼn verdoelde sewepuntdrie deur Sango Xamleshe, wat twee minute later deur Henk Pretorius herhaal is. Nicolaas Naudé het albei verdoel en agt minute later self gaan druk. Die telling was toe ná 53 minute 35-12, Shimlas se bonuspunt was in die sakkie en die wedstryd gewonne.

Wits het nog twee keer gaan druk, maar die Shimlas se derde verdoelde sewepunter het dit ses drieë teen vier en 44-24 gemaak.

Vir albei spanne is die titeldeur nog wawyd oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.