Maties blink, Wits weer goed en Tuks het harde werk wat wag

UP-Tuks se kaptein Denzil Hill laat loop die bal ná nog ‘n goeie skrum.

Dis nog baie, baie vroeg in die reeks, maar daar is tog ʼn paar afleidings wat ʼn mens ná die eerste ronde van die 2018-Varsitybekerreeks kan maak.

Die eerste is dat die verdedigende kampioen UP-Tuks baie in hulle toewyding, dissipline en vaardigheid sal moet verbeter, ondanks ʼn goeie pak, as hulle weer teen die einde daar wil wees.

♦  Hulle het tuis met 17-19 teen die Shimlas verloor.

Die Tukkies is voorlangs sterk, maar dissipline, afronding – en ʼn mens weet dit het hard tydens die wedstryd gereën – veral ʼn voorspeler-gebaseerde spelpatroon wat deur deurmekaar hanteerwerk en opsies verniel is, het hulle gekos.

Hulle het drie drieë teenoor die Shimlas se twee gedruk, vir wie die losskakel  Lubabalo Dobela op die aanval skitterend was maar nog ʼn bietjie werk met sy wedstrydstrategie en -uitvoering het.

Tuks was veral hier teen die einde heeltemal in beheer.

Die wenpunte is te danke aan die sewepuntdrie ná 24 minute deur Gideon Agenbag.

Die Shimlas het egter hope gees, en dit kan hulle ver bring mits hulle vaste agt effens gesag kan afdwing.

♦  Dan is dit duidelik dat die Ixias ná hulle loesing van 7-70 teen die NWU-Pukke nie sommer die relegasie-valbyl sal vryspring nie.

Jonathan Mokuena-hulle het drie spelers aan die Maties afgestaan wat soos in die 1960’s en ‘70’s, en meer onlangs onder Chean Roux, hulle tot die aankoop van spelers gewend het.

Die Pukke was egter deeglik op stryk, en kan ʼn titel-aanspraakmaker wees – ondanks die swak teenstand van SUT wat nie op hierdie vlak tuishoort nie.

♦  UJ sal mateloos moet verbeter nadat ʼn blink, afgeronde Matiespan wat gebalanseerde rugby speel, hulle op hul tuisveld met 31-3 verniel het. Die Maties, ná die wegoorwinning, en met hulle skerpheid in aflaai en opsies, is weer ʼn vroeë gunsteling. Hulle het vyf keer gaan druk.

♦  En dan was daar Wits. Die verrassing van 2017 is al weer aan die gang, en die wen van ʼn wegwedstryd op die Long Mile van die Ikeys is nooit te versmaai nie.

Die telling was ʼn naelskraapse 30-26-sege, maar in die droë Kaapse hitte sal dit Hugo van As-hulle ʼn groot sielkundige hupstoot gee. Hulle het vier drieë teen twee gedruk, waarvan die laaste twee deur Peter Hume en AJ van Blerk (sewepuntdrie) in die laaste agt minute gekom het.

Terloops, daar was nie veel wind nie!

Die vraag is: hoe goed is die Ikeys? Die laaste twee seisoene skort daar iets aan die hange van Tafelberg …

♦  Die Madibaz? Hulle het nie gewen of verloor nie, want hulle het ʼn loslootjie gehad!

♦  En net voordat ʼn mens vergeet: Die kragspelreël om twee spelers van die teenstand in jou eie gebied af te stuur, het in die eerste wedstryd tussen die Tukkies en die Shimlas weens swak hanteerwerk en omkeerbesit geboemerang!

Eersteronde-tellings (tuisspanne eerste)–

Tukkies 17 Shimlas 19; Ikeys 26 Wits 30; NWU-Pukke 70 SUT 7 UJ 3 Maties 31.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiewiet ·

Weereens die Shimlas wen maar die hele berig gaan net oor hoe goed die Tukkies nou eintlik is niks word van die beter Shimlas gese nie .

Briekmerk ·

So hulle vat die paloeka afrigters weg van die Bulle en dump hulle op die arme Tuks. Wie neem hierdie besluite???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.