Maties en Shimlas oordonder hul buurmanne

Chris Massyn het twee drieë vir Tuks gedruk. (Foto GB Jordaan)

Chris Massyn het twee drieë vir Tuks gedruk. (Foto GB Jordaan)

Die Maties en die Shimlas het Maandag albei hulle buurmanne oorrompel, terwyl die UJ die vloer met hulle Bloemfonteinse opponent gevee het en Tuks weer stotterend, maar darem, op die wenpad is.

Shimlas leer Pukke ʼn rugbyles

Die Shimlas het hulle tradisionele aartsvyand, die Pukke, op Shimlapark in Bloemfontein ’n rugbyles geleer deur hulle 35-23 te wen.

Daar is vooraf groot gewag gemaak van hoe die Potchefstromers, met die insluiting van die slot Loftus Morrison op flank, die Shimlas voorlangs sou domineer. Dit het egter nie gebeur nie, met die Shimlas wat die stryd om die losbal oorheers het.

Voeg daarby die flinke diens wat die tuisspan se skrumskakel Dian Badenhorst aan sy agterlyn gelewer het, en dan weet jy hoekom die Shimlas as oorwinnaars van die veld gestap het.

Die Shimlas se agsteman Bernardus Erasmus was self skitterend, nie net met puik springery in die lynstane nie, maar ook met die meters veld wat hy met bal in die hand gewen en die omgekeerde besit wat hy bewerkstellig het

Raymond Woest, slot van die Shimlas, beur vorentoe met twee Pukke wat hom probeer grond toe bring. Foto: Van Zyl Naudé/Saspa

Raymond Woest, slot van die Shimlas, beur vorentoe met twee Pukke wat hom probeer grond toe bring. Foto: Van Zyl Naudé/Saspa

Die flank Daniel Maartens het self sy moue opgerol en dikwels soos ’n agterspeler in die agterlyn opgeduik. Hy is beloon vir sy skitterspel beloon met ’n drie nadat hy eers die Pukke se heelagter Tapiwa Mafura met ’n fopaangee uitoorlê het, net om daarna om hom te seil om te gaan druk.

Die Potchefstromers is geklop deur ’n span wat hulle voorlangs oorheers het en so ’n platform vir die agterspelers geskep het om van te oorheers.

Puntemakers –
Shimlas (12) 35:
Drieë: Raymond Woest, strafdrie (*), Dian Badenhorst, Daniel Maartens, Bernardus Erasmus. Doelskoppe: Marco Mason 4.
Pukke (9) 23: Drieë: Jimmy Mpailane (*), Wandile Mazibuko, Morné Strydom. Doelskoppe: Schalk Hugo, Julian Delicado 2.
(*) sewepuntdrie

Craig Barry met die rolskoppie wat tot sy drie gelei het. (Foto Halden Krog/Saspa)

Craig Barry met die rolskoppie wat tot sy drie gelei het. (Foto Halden Krog/Saspa)

Maties kraai koning in Kaapse derby

Die Maties het hulle buurman, die Ikeys, op die Green Mile in Kaapstad gemaklik 47-16 geklop.

Die tuisspan het aanvanklik die botoon in veral die skrums gevoer waar die Ikeys-sterkman Michael Kumbirai sy direkte teenstander Niel Oelofse harde bene laat kou het.

Maar die Stellenbossers het gou dié faset van hulle spel uitgesorteer en vandaar was daar net een span op die veld en dit was die Maties.

Craig Barry het die Maties se eerste drie gaan druk toe hy ’n vinnige tikskoppie geneem en ’n rolskoppie deurgesit om onder die pale te gaan druk.

Van die sewe drieë wat die Stellenbossers gedruk het, was die regtervleuel Duncan Saal s’n kort voor rustyd ’n juweel. Hy het die bal in ’n agterlynbeweging van die stut JE van der Merwe ontvang en daarna sy opponent, die Ikeys-vleuel Joel Smith, agtergelaat om in die hoekie oor te duik.

Dit het die besoekers ’n redelike gemaklike voorsprong van 23-6 met rustyd gegee. In die tweede helfte het die besoekers die sluise oopgemaak en nog vier keer gaan druk.

Puntemakers –
Ikeys (6) 16:
Drie: Nyasha Tarusenga. Doelskop: Rob Anderson. Strafdoele: Lohan Lubbe, Anderson. Skepdoel: Anderson.
Maties (23) 47: Drieë: Craig Berry (*), Chris Smith 2, Duncan Saal (*), Michael Hazner, Stephan Streicher, Saal. Doelskoppe: Smith 4.
(*) sewepuntdrie

ruan-cloete-wits-foto-gb-jordaanTuks terug op wenpad

In Pretoria het Tuks hulle neerlaag verlede week teen die UJ gewreek, deur weer op die wenpad gekom deur Wits met 25-9 te klop.

Dit was allermins ’n kwiksilwervertoning deur die Pretorianers, wie beslis nie al die kanse wat na hulle kant toe gekom het, benut het nie. Tog het hulle daarin geslaag om drie drieë te druk.

Dat die Johannesburgers se gevaarlike agterlyn nie daarin kon slaag om die Tukkies se doellyn oor te steek nie, spreek wel boekdele vir die Pretorianers se verdediging en laat ’n vraag oor die Witsies se deurdringingsvermoë.

Puntemakers –
Tuks (15) 25:
Drieë: Dewald Naudé, Chris Massyn 2. Doelskoppe: Tinus de Beer. Joshua Stander. Strafdoele: Tinus de Beer 2.
Wits (9) 9: Strafdoele: Warren Gilbert 3.

UJ verniel Ixias

In die ander wedstryd in Bloemfontein het die Ixias tweede viool teen die UJ op die SUT-stadion gespeel.

Die UJ, wie verlede week die Tukkies gewen het, het die SUT 73-20 geklop en in die proses nege keer agter die Bloemfonteiners se doellyn gaan kuier.

Die Johannesburgers het reeds teen rustyd nie net ses drieë gaan druk nie, maar ook met ’n 50-tal op die telbord gespog.

Die Ixias is steeds segeloos in vanjaar se kompetisie en dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat die houtlepel hulle voorland is.

Puntemakers –
Ixias (15) 20:
Drieë: Ruben Heymans, Martin Jacobs, Darren Adonis. Doelskop: Jacobs. Strafdoel: Jacobs.
UJ (50) 73: Drieë: Godfrey Ramaboea (*), Ewan Adams, Aphiwe Dyantyi (*), Jannes Snyman (*), Jaco Fourie (*), Fourie, Leon Massyn, Estian Enslin, Wian Conradie (*). Doelskoppe: Divan Nel 9.
(*) Sewepuntdrie

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos ·

Kan Maroela nie die nasionale koshuisliga uitslae net ook noem nie asb?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.