Maties gee Ixias loesing; Wits byt vas teen begeesterde Madibaz

Ná Maandagaand se vierde ronde van die Varsitybekerreeks storm die Maties ongestoord voort op hulle oorwinningspad.

Hulle is ná die vierde ronde nog onoorwonne en vier punte voor Wits op die punteleer.

Die Maties (19 ligapunte), Wits (14), die Shimlas (14) en die Ikeys (12) is die oënskynlike voorlopers ná hulle vier wedstryde, maar die NWU-Pukke (10) wat ʼn wedstryd minder gespeel het, is ook nog sterk in die prentjie.

Dan, almal ná drie wedstryde, volg UJ, (6), die Ixias (5), die Madibaz (5) en die verdedigende kampioen UP-Tuks (2).

♦  Drie sewepuntdrieë deur Wits in die wedstryd het die laaste kwartier se oorheersing deur die Madibaz getroef in hul wipplankwedstryd wat deurgaans goeie inklimrugby deur albei spanne uitgestal het.

Wits het op die ou end vier drieë teen drie gedruk, maar moes ná hulle laaste punte in die 65ste minuut kwaai vasbyt teen die Madibaz.

Die tuisspan het veral in hierdie laaste kwartier hul besit goed beskerm, fases gebou, meer en beter balle by die afbreekpunte gewen en met goeie hardlooprugby vrae aan die Witsies se verdediging gestel.

Hugo van As-hulle sal seker ook werk aan Wits se lynstane wat in die laaste kwart nie na wense was nie en die span kwaai onder druk geplaas het.

Die Madibaz het stukke beter gespeel as verlede week teen die Ixias, en kon met ʼn rapsie geluk nou twee wenne in plaas van drie neerlae in drie wedstryde hê.

Wits is ná sy derde sege in vier wedstryde nog stewig in die uitspeelwedloop.

♦  Dit was voorspelbaar maklik vir die Maties wat hulle onoorwonne rekord in die wedstryd teen die Ixias behou en vir die derde keer in vier wedstryde ʼn drieëbonuspunt gekry het.

Die eindtelling van 75-12 vertel hoe maklik dit in die Danie Cravenstadion was waar die Maties nege drieë teen twee gedruk het en reeds feitlik van ʼn plek in die halfeind verseker is.

Die Ixias het vinnig afgesit en was ná 13 minute ná hulle enigste twee drieë met 12-0 voor.

Hoewel hulle nie strykdeur op hulle beste was nie, het die Maroentruie toe oorgeneem en dit behoorlik gedoen teen ʼn span wat later heeltemal teen die planke was. Van die Maties se nege drieë was daar nie minder nie as sewe wat sewepunters was.

Rustyd was die telling reeds 32-10 nadat hulle vier keer gaan druk het. Dit was ʼn kwessie van hoe later hoe kwater, want nog vyf drieë, vier van hulle sewepunters en almal verdoel, het ná rustyd gevolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Feite ·

12-0 na 13mins…maar halftyd 32-10 agter? Is dit nóg n nuwe reël waar punte afgetrek word vir swak spel? :P

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.