Maties klop NWU Pukke om Ussa-rugbykroon

Die Maties – 2017 se Ussa-kampioen. (Foto: Richard Janse van Rensburg)

Die Universiteit van Stellenbosch is Universiteitsport Suid-Afrika (Ussa) se kampioen nadat hy die NWU Pukke Vrydag in vanjaar se A-eindstryd in Johannesburg geklop het.

Hy het die kragmeting met 19-13 gewen.

Richard Janse van Rensburg, die toernooidirekteur, berig die Kovsies het derde geëindig deur die gasheer, die Universiteit van die Witwatersrand, met 32-28 te klop.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) was vyfde nadat hy die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) met 22-7 verslaan het.

Verlede jaar se kampioen, die Tukkies, het die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) met 21-16 geklop.

Janse Van Rensburg sê Stephan Streicher, ʼn losvoorspeler van die Maties, was die speler van die toernooi. Francois Jacobs (Pukke) was die beste voor- en Lux Ntsepe (Wits) die beste agterspeler.

B-afdeling

Varsity College (VC) van Durban het die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) in die B-eindstryd met 17-12 geklop.

Neels van Heerden, die voorsitter van TUT, sê dit was ʼn klipharde wedstryd, en TUT het goed gevaar teen ʼn span wat in die KwaZulu-Natalse Premierliga speel.

VC het drie drieë teen TUT se twee gedruk, met die wenspan se derde ʼn onderskepdrie.

Luhan Viljoen, ʼn slot van VC, is as die afdeling se speler van die toernooi aangewys.

In die uitspeelwedstryd om die derde plek het NWU Vaal vir UKZN met 33-12 geklop.

C-afdeling

Die Vaal Universiteit vir Tegnologie het al drie sy wedstryde gewen om bo aan die punteleer in die C-afdeling te eindig.

Hy het sy laaste wedstryd teen die Universiteit van Venda met 53-10 gewen.

VUT se Phumalani Mbata was die beste speler in dié afdeling.

D-afdeling

UJ se Soweto-kampus het albei sy wedstryde gewen om die D-afdeling in te palm, en Odwa Nkunjana was die D-speler van die toernooi.

Vroeëre uitslae –

A-afdeling

Wits 32, Tukkies 27; Pukke 21, NMMU 12; Kovsies 15, UJ 14; Maties 84, SUT 0; Pukke 19, Wits 13, Maties 50, Kovsies 7.

B-afdeling

VC 64, UKZN 10; TUT 31, NWU Vaal 15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.