Maties laat waai in Bellville

Die Maties het ’n rits drieë teen die Universiteit van Wes-Kaapland gedruk. (Foto: X/Varsitybeker)

Drieë, duikslae en ʼn haelstorm het tot Maandag se Varsitybeker-aksie bygedra met die Shimlas en Maties wat hul wedstryde gewen het, terwyl Wits en Ikeys gelykop gespeel het.

Maties druk nege drieë teen UWK

Maties het die driedrukkrane groot oopgedra in sy wedstryd teen die Universiteit van Wes-Kaapland in Bellville.

Die studente van Stellenbosch het ʼn rustydvoorsprong van 19 – 7 geniet en hulle het uiteindelik die kragmeting met 63 – 19 beklink.

Hulle beklee tans die tweede plek op die amptelike punteleer met 18 punte ná vyf wedstryde.

  • Puntemakers:

Maties: Drieë: Vernon Matongo (2), DeWet Marais (2), Juan Mostert, Christiaan van Heerden-Smith, Louw Nel, Ryan Manuel en Edrich Viljoen. Doelskoppe: Juan Mostert (6).

UWK: Drieë: Aaron Swartz en Wian van der Sandt. Doelskoppe: Conwill Conradie (2).

Shimlas wen weer met bonuspunt

In Bloemfontein het die Shimlas ʼn vierde bonuspuntoorwinning op ʼn streep behaal toe hy die Ixias met 59 – 40 geklop het.

Zane Bester het veral ʼn barshou gespeel en sy drieë het toegesien dat die Shimlas rustyd met 43 – 7 voorgeloop het.

Die Ixias het weliswaar goed in die tweede helfte terugbaklei, maar die wenhekkie was net ʼn bietjie te hoog.

  • Puntemakers:

Shimlas: Drieë: Zane Bester (2), strafdrie, Jandré Nel, Siviwe Zondani, Ethan Wentzel en Neels Volschenk. Doelskoppe: Wentzel (6).

Ixias: Drieë: Sisipho Nofuya, Janco Cloete, Adielson Gouveia, Juan Smith, Asekho Marubelela en Tiaan Naude. Doelskoppe: Smith (3).

Wits en Ikeys deel die louere

Ronan Dutton se drie en Tireque Apolles se doelskop het toegesien dat die kragmeting tussen Wits en Ikeys gelykop in Johannesburg geëindig het.

Die Kapenaars het die septer in die eerste helfte geswaai om met 28 – 10 voor te loop, waarna die tuisspan sy terugvegpoging van stapel gestuur het.

  • Puntemakers:

Ikeys: Drieë: Riaan Genis (2), Duran Koevort en Mhleli Khuzwayo. Doelskoppe: Ntokoza Makhaza (2). Strafskop: Makhaza.

Wits: Drieë: Wernich Aucamp, Setshaba Mokoena, George Devenish en Ronan Dutton. Doelskoppe: Tireque Apolles (4). Strafskop: Apolles.

Weerlig en hael kelder Pukke-opmars

Die NWU-Pukke was op koers om nóg ʼn wedstryd te wen toe ʼn storm die span se opmars teen die Universiteit van Johannesburg kortgeknip het.

Swaar reën, weerlig en hael het die kragmeting in die 35ste minuut tot ʼn einde gebring. Die Potchefstroom-studente het toe ʼn voorsprong van 19 – 7 geniet.

Die wedstryd is nou geskeduleer vir vandag om 10:00.

Punteleer:

  1. Shimlas: 22 punte ná vyf wedstryde
  2. Maties: 18 punte ná vyf wedstryde
  3. Ikeys: 17 punte ná vyf wedstryde
  4. NWU-Pukke: 15 punte ná vier wedstryde
  5. Wits: 13 punte ná vyf wedstryde
  6. Ixias: 10 punte ná vyf wedstryde
  7. UJ: 3 punte ná vier wedstryde
  8. UWK: 1 punte ná vyf wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.