Maties se soete wraak; Ikeys skok Shimlas

Tuks se wedstryd teen die Madibaz het goeie hardlooprugby opgelewer. Impi Visser was die wenspan se groot uitblinker

Tuks se wedstryd teen die Madibaz het goeie hardlooprugby opgelewer. Impi Visser was die wenspan se groot uitblinker (Foto GB Jordaan)

Die derde ronde van die Varsitybeker-kompetisie het Maandag nie net die Shimlas en die Pukke hulle onoorwonne status gekos nie, maar die Maties se ondersteuners weer breed laat glimlag. En Tuks bly onoorwonne.

Dis weer lente in die Boland

Die Maties het hul neerlaag in 2016 se Varsitybeker-eindstryd gewreek deur die Pukke Maandagaand in Stellenbosch voor 15 000 toeskouers in die Danie Craven-stadion baie oortuigend met 31-9 te klop.

Die Stellenbossers het daardie dag van tranedal in verlede jaar se eindstryd toe hulle diep in beseringstyd teen die Pukke verloor het, Maandagaand in ’n dag van geluk verander deur die Potchefstromers gemaklik te klop.

Van die afskop af was daar net een span op die veld. En dit was nie die Pukke nie.

Met die voorspeler Kobus van Dyk aan die spits het die tuisspan die besoekers voorlangs oorheers.

Die gevolg was dat daar van die gevaarlike agterlyn van die Pukke min tot niks van gesien is nie.

Met die rustydtelling 18-9 in die Maties se guns kon die wedstryd nog enige kant toe gegaan het, alhoewel die Stellenbossers tot in daardie stadium balbesit en gebiedsvoordeel oorheers het.

In die tweede helfte het die Potchefstromers verwoed teruggeveg en met hulle kaptein Jeandré Rudolph wat van voor gelei het in die Stellenbossers se helfte van die veld geboer, maar kon net nie geleenthede in punte omskep nie.

Kobus van Dyk, losvoorspeler van die Maties, was Maandagaand prominent in sy span se sege oor die Pukke. Foto: Liam Hamer Nel/Saspa

Kobus van Dyk, losvoorspeler van die Maties, was Maandagaand prominent in sy span se sege oor die Pukke. Foto: Liam Hamer Nel/Saspa

Die Maties, aan die ander kant, het feitlik elke keer wat hulle in die Pukke se halfgebied was, punte aangeteken.

Die besoekers het hulle ook aan ’n magdom onnodige foute soos onkantspel by die losgemale skuldig gemaak, iets wat die Maties se losskakel, Ernst Stapelberg, uitgebuit het deur vier strafskoppe deur die pale te jaag.

Puntemakers –
Maties (18) 31: Drieë:
Mitchell Carstens, Kobus van Dyk, Edwill van der Merwe. Doelskoppe: Ernst Stapelberg, Chris Smith. Strafdoele: Stapelberg 4,
Pukke (9) 9: Drieë:
Jimmy Mpailane (*). Doelskop: Schalk Hugo.
(*) sewepuntdrie

Witsies mors met Ixias vir eerste oorwinning 

Wits het Maandagmiddag op hulle tuisveld in Johannesburg hulle eerste oorwinning behaal toe hulle met die Ixias afgereken het.

Die Johannesburgers het die kragmeting 43-3 gewen en omtrent elke faset van die wedstryd oorheers. Hulle taktiek was duidelik: Gebruik die voorspelers om die besoekers voorlangs pap te speel en slaan dan agterlangs.

Spelers soos die Witsies se flank Ruan McDonald het die Ixias gryshare by die afbreekpunte besorg en maal sonder tal omgekeerde besit vir sy span bewerkstellig.

Maar die Bloemfonteiners was ook hulle eie grootste vyand by die losgemale, met ondersteuning wat maal sonder tal in dié faset ontbreek het.

Teen rustyd het die Johannesburgers reeds twee keer agter die Ixias se doellyn gaan kuier om met ’n gemaklike voorsprong van 22-3 te gaan water drink.

Selfs toe die Ixias in die tuisspan se halfgebied was, het dit nie gelyk of hulle ’n drie kan druk nie. Daarenteen het die tuisspan se agterste driehoek van Wandisile Simelane, Kwanele Ngema en Luxolo Ntsepe elke keer wat hulle die bal in die hand gehad het gevaarlik gelyk.

Die Ixias se agsteman, Stefan Kruger, was die hulle beste speler, met verskeie stormlopies in ’n span wat so spoedig moontlik die neerlaag agter hulle sal wil sit.

Die Johannesburgers het ’n bonuspunt verwerf omdat hulle meer as vier drieë gedruk het.

Puntemakers –
Wits (22) 43: Drieë: Wandisile Simelane, Graham Logan (*), Justin Brandon (*), Constant Beckerling, Ameer Williams. Doelskoppe: Warren Gilbert 4. Strafdoele:: Gilbert 2.
Ixias (3) 3: Strafdoel: Martin Jacobs
(*) sewepuntdrieë

Shimlas val vas teen Ikeys

Die Shimlas, wat tot voor Maandag se wedstryde onoorwonne was, het op ’n nat Shimlapark in Bloemfontein teen die Ikeys pakslae gekry.

Die Kapenaars het drie drieë teenoor die Bloemfonteiners se een gedruk en gewys dat hulle vanjaar met die groot honde wil saamblaf deur 22-7 op die modderveld te wen.

Met die rustydtelling 7-0 in die Ikeys se guns, sou die Shimlas steeds geglo het hulle kan wen. Hulle kon egter nie in die tweede helfte nog punte aanteken nie, terwyl die Ikeys nog twee keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier het.

ʼn Mens kan nie help om te wonder of die tuisspan die Ikeys onderskat het nie.

Die Shimlas behou steeds hulle eerste plek op die Varsitybeker-punteleer. Hulle kom volgende week teen die Ixias in ’n Bloemfontein-derby te staan.

Puntemakers –
Shimlas (0) 7: Drie:
Marco Mason. Doelskop: Mason.
Ikeys (7) 22: Drieë: Cuan Hablutzel, Joel Smith(*), Rayno Mapoe(*). Strafdoel: Lohan Lubbe.
(*) sewepuntdrie

Impi dié uitblinker vir Tuks in groot sege

Die wedstryd teen UP-Tuks is een van die Madibaz se geskeduleerde tuiswedstryde wat hulle moet weg speel weens die opgradering van hulle stadion, en die Tukkies het Maandagaand in Pretoria die bonus-tuiswedstryd ten volle uitgebuit, skryf PK Deysel.

Tuks op die aanval waarvan hulle die meeste in die wedstryd teen die Madibaz gedoen het

Tuks op die aanval waarvan hulle die meeste in die wedstryd teen die Madibaz gedoen het

Die Tukkies het op hulle tuisveld gemaklik 33-16 gewen en is na twee wedstryde onoorwonne. Hulle was in feitlik elke faset oortuigend baas en teen rustyd 21-3 voor.

Tuks se oorheersing word weerspieël die drieë-telling van vyf teen een.

Net na rustyd was daar egter ʼn oplewing in Madibaz se spel en Tuks was skielik ʼn bietjie meer bedees, maar toe het hulle reggeruk.

Manie Libbok het na die breekslag twee keer gaan  druk en die uitslag van hierdie lekker wedstryd wat met die dreigement van ʼn storm gespeel is, was daarna net ʼn formaliteit.

Die wenspan se uitblinker was die senter Impi Visser

Tuks, wat verlede week ʼn loslootjie gehad het, is nou nog onoorwonne – en die magtige Maties, geoordeel aan gisteraand se groot oorwinning teen die Pukke, is een van Tukkies se slagoffers.

Puntemakers
UP-Tuks (21) 33
Drieë: Impi Visser, Theo Maree, Tinus de Beer, Manie Libbok (2). Doelskoppe: De Beer 3. Strafdoel: Joshua Stander.
Madibaz (3) 16): Drie: Gerrit Huisamen.  Doelskop: Simon Bolze.  Strafdoele: Bolze 3.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.