Maties se wedstryd weens toeskouergeweld gestaak

Die Maties se wedstryd teen die Madibaz is Maandagaand sowat sewe minute ná rustyd afgelas nadat studente van die Nelson Mandelabaai-universiteit stoele op die veld gegooi en geweld langs die veld uitgebreek het.

Die Maties, wat die Varsitybekerseisoen teen ʼn groot vaart afgesit het, maar die afgelope week of twee nie op volle silinders vuur nie, was met 19-0 teen die Madibaz voor en het reeds al drie hul drieë voor rustyd gedruk.

Daar is nog geen uitsluitsel of die 19-0 as eindtelling aanvaar sal word nie, maar dit is normaalweg die geval wanneer ʼn wedstryd, om welke rede ook al, ná rustyd stopgesit word.

Die Maties was in volle beheer teen die tuisspan.

Hulle sal nie geraak word indien die telling as 19-0 bevestig word nie. Die Stellenbossers is reeds verseker van die boonste plek op die punteleer en ʼn tuishalfeind en, sou hulle dié wen, ʼn tuiseindstryd.

♦  In Potchefstroom het die Shimlas hulle tweede loesing in drie wedstryde gekry toe hulle met 58-21 deur die NWU-Pukke geklop is. Hulle het twee weke gelede op hulle tuisveld en teen die verwagting in, met 12-49 teen UJ slae gekry.

Die Pukke het Maandagaand in die eensydige wedstryd, wat aanvanklik ʼn struktuurlose getjommel was totdat die Pukke hul ritme gekry het, agt drieë teen drie gedruk.

Hulle ondersteunende spel was uitstekend, en ná die ietwat stadige aanvang die seisoen het hulle nou in ʼn sterk aanspraakmaker op die titel ontwikkel.

Die vraag is egter: Is die Shimlas ʼn behoorlike maatstaf?

♦  Wits, wat Maandagaand op sy tuisveld sy voorlaaste wedstryd teen die buur-universiteit UJ met 17-29 verloor het, se kanse om ʼn tuishalfeind aan te bied, is feitlik daarmee heen.

Teen die verbete verdediging en beter skrumwerk van UJ, het Wits allermins gelyk na die span wat teen die Maties gelykop gespeel het en Maandag nog tweede op die punteleer was.

Daar was te veel foute aan Wits se kant, dikwels weens UJ se druk maar ook omdat dit een van dáárdie aande was waar dinge nie altyd reg vir die tuisspan verloop het nie.

UJ was plek-plek indrukwekkend en het verdien om te wen. Hulle het boonop met puik keerwerk in die laaste kwartier verhoed dat Wits ʼn vierde drie druk om ook binne sewe punte te kom vir twee bonuspunte.

Gevolglik is die UJ-manne (21 punte) nou net twee ligapunte agter Wits se 23 met ʼn wedstryd minder gespeel.

♦  Uiteindelik, sal UP-Tuks se ondersteuners seker sug.

Hulle span was Maandagaand vanjaar die eerste keer in ses wedstryde aan die wenkant en het die Ixias op hulle tuisveld met 54-26 oorrompel.

Tuks het agt drieë teen vier gedruk, en die vier en wat afgestaan is en ʼn bonuspunt vir die Ixias beteken, is almal ná die 39ste minuut aangeteken toe Tuks reeds met 42-0 voor was.

Om só te verslap was nie goed genoeg vir ʼn span wat heeltemal oorheers het nie.

Tukkies se wentelling sê seker nie veel nie teen ʼn span wat voor hierdie wedstryd reeds ʼn negatiewe punteverskil van 186 in sy vyf wedstryde – dus ʼn gemiddelde verloortelling met 37 punte – op die punteleer gehad het.

Vir Tuks is hierdie wenslag miskien nie ʼn ommekeer nie, maar hulle is darem nou uit die onderste twee posisies en dreigende relegasie, hoewel alles nog nie gered is nie.

Tuks speel aanstaande week tuis teen hulle groot Intervarsity-teenstander UJ wat Maandagaand vir Wits oortuigend geklop het.

Die Tukkies sluit oor twee weke af teen die Madibaz, ook in Pretoria. Wen hulle, is hulle outomaties weer aanstaande jaar in die Varsitybekerreeks ná hierdie nagmerriejaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.