Maties verniel die UJ, Tuks knip die Pukke se lyn

Tuks se losskakel en spelskepper, Tinus de Beer, lê met een van sy pogings aan pale toe. (Foto: Mario van de Wall/Saspa)

Die Varsitybeker-reeks se laaste rondomtalie-wedstryde het nie net die einde van die Pukke beteken nie, Tuks en die Maties het albei ondubbelsinnig gewys dat hulle oë op die Varsitybeker-kroon gerig is.

Die Maties verniel die UJ

Die Maties het Maandagaand met ’n kliniese oorwinning oor die UJ in Stellenbosch gewys dat hulle ernstig is oor hulle voorneme om vanjaar as kampioen gekroon te word.

Die nege drieë wat die Stellenbossers gedruk het om met 65-19 te wen, was indrukwekkend, maar die manier wat hulle aanvalle van die Johannesburgers in die kiem gesmoor het, getuig van ’n kampioenspan.

Die UJ het vele kanse in die tuisspan se kwartgebied gehad, maar het hulle elke keer in puik georganiseerde verdediging vasgeloop.

Die Johannesburgers se senter, Aphiwe Dyanti, wat al die hele jaar verdedigers in die lug laat gryp, is geen beweegruimte gegun nie.

In ’n span soos die Maties is dit moeilik om uitblinkers uit te sonder, maar die regtervleuel Kyle Steyn verdien vermelding. Hy het oral op die veld opgeduik en ook gevaarlik met die bal in die hand gelyk en is ook met drie drieë beloon.

Die Stellenbossers se agterste driehoek van Craig Barry, Edwill van der Merwe en Steyn moet waarskynlik die gevaarlikste op die aanval in vanjaar se kompetisie wees.

Die twee spanne meet volgende week weer kragte in Stellenbosch in die halfeindronde.

Puntemakers –

Maties (30) 65: Drieë: Kyle Steyn 3, Edwill van der Merwe 2 (*), Craig Barry, Johan Momsen, Chris Smith, Duncan Saal (*). Doelskoppe: Ernst Stapelberg 4, Chris Smith 3.
UJ (10) 19: Drieë: Peter-John Walters, Jaco Fourie (*) Doelskoppe: Divan Nel 2 Strafdoel: Nel 2.
(*) Sewepuntdrie.

Tuks beëindig die Pukke se seisoen

Die verdedigende kampioen, die Pukke, se 2017-veldtog is op hulle tuisveld beëindig, toe Tuks hulle met 43-28 afgestof het.

Die Pretorianers het hulle sege te danke aan ’n gevaarlike agterlyn, met die losskakel Tinus de Beer as generaal aan die spits, wat die Pukke se agterlyn se stompheid ontbloot het.

Stompheid, ja, want die besoekers se senters Impi Visser en Toko Maebane het male sonder tal bloot eenvoudig om die Potchefstromers geseil wat ook nie dieselfde aanvalsvaardighede gehad het nie.

Maar die Pukke se probleme het eintlik voorlangs begin waar hulle gesukkel het om hul gesag op die wedstryd af te druk. En soos die oeroue beginsel van rugby sê: as jy nie voorlangs oorheers nie, is jou kanse om te wen skraal.

Die keuse van Marcel Henn as flank was ook ’n ramp vir die Pukke se afrigtingspan. Henn het ontuis op dié vlak gelyk en dikwels op die punte rondgehang. Hy is halfpad deur die eerste helfte met Gideon van der Merwe vervang, wat ’n verbetering was.

Maar alle eer aan die Pretorianers. Hulle het reeds teen die halfpadmerk hulle derde drie gedruk en ondanks ’n verwoede aanslag na rustyd deur die Potchefstromers, koel en kalm aan hulle voorsprong geklou.

Die besoekers se heelagter Divan Rossouw is nie net ’n opwindende aanvaller nie, maar sy verdediging is ook rotsvas. Hy was een van die talle uitblinkers in die span.

Die Pretorianers eindig eerste op die punteleer, wat hulle van ’n tuishalfeindstryd aanstaande week teen die Shimlas op die LC de Villiers-stadion in Pretoria verseker.

Puntemakers –

Pukke (7) 28: Drieë: Jimmy Mpailane, Loftus Morrison, Walt Steenkamp, Wilmar Arnoldi. Doelskoppe: Schalk Hugo 4.
Tuks (25) 43: Drieë: Rian Warner (*), Clyde Davids (*), Dewald Naude, Warner, Sibahle Maxwane. Doelskoppe: Tinus de Beer 3, Joshua Stander 1. Strafdoele: De Beer, Stander.
(*) Sewepuntdrie.

Wits eindig seisoen op ’n hoogtepunt

Wits het hulle vierde oorwinning van die seisoen verseker toe hulle die Ikeys met 35-23 in Johannesburg geklop het.

Met die rustydtelling 16-14 in die Kapenaars se guns, kon die wedstryd nog enige kant toe gaan, maar die tuisspan het in die tweede helfte die krane oopgedraai en nog drie keer agter die Ikeys se doellyn gaan kuier

Die oorwinning het die Johannesburgers vyfde op punteleer laat eindig.

Puntemakers-

Wits (14) 35: Drieë: CJ Conradie, CJ Greeff, Luvuyo Pupuma, Kwanele Ngema (*), Ruan Cloete. Doelskoppe: Warren Gilbert 4.
Ikeys (16) 23: Drieë: Joel Smith, Rico Lategan (*), Nyasha Tarusenga. Doelskoppe: Rob Anderson 3.
(*) Sewepuntdrie.

Madibaz te sterk vir Ixias

In Bloemfontein het die Ixias hulle seisoen segeloos afgesluit toe hulle 14-40 teen die Madibaz verloor het.

Dit was slegs die Baaiers se tweede oorwinning van die seisoen, maar hulle sal bly wees dat hulle met die oorwinning oor die Bloemfonteiners die onderste plek op die punteleer vrygespring het.

Puntemakers –

Ixias (0) 10: Drieë: Ruan Wasserman, Stephan Kruger. Doelskop: Martin Jacobs 2.
Madibaz (10) 40: Drieë: Jixie Molapo, Henry Brown, Athenkosi Mayinje (*), Nicholaas Oosthuizen, Thomas Kean. Doelskoppe: Kean 2, Simon Bolze 3. Strafdoel: Bolze.
(*) Sewepuntdrie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.