Maties wil sake ná sewe maer jare regstel

Drie uit drie … en toe begin die sewe maer Varsitybekerjare vir die Maties.

Ja, die Maroentruie het sedert hulle die eerste drie Varsitybekertitels van 2008-’10 gewen het, nog nie weer titelsukses geproe nie – en dit is ʼn teer puntjie vir dié klub wat deur die jare verreweg die meeste titels as Suid-Afrikaanse klubkampioen gewen het toe dié kompetisie nog gespeel is.

Maandagaand, voor ʼn volgepakte Matieskare in die Danie Craven-stadion, sal Chippie Oelofse se span dié saak wil regstel. Ironies genoeg sal hulle dit probeer vermag met twee Tukkies in hul span wat verlede jaar in Pretoria die Maties in hul vierde onsuksesvolle eindstryd sedert 2010 help klop het; en ook met twee Pukke, insluitende Marno Redelinghuys, wat die wendrie in 2016 gedruk het.

In hul vorige eindstrydkragmeting in 2016, het die NWU-Pukke met 7-6 gewen nadat die twee spanne minute lank op die vyfmeterlyn van Stellenbosch geskrum, gemaal en nogmaals geskrum en gemaal het. Want sien, die Pukke was met 0-6 agter en kon nie die vele strafskoppe pale toe mik met tyd wat verstreke was nie. Hulle móés druk en verdoel.

Daardie wedstryd was veel anders as die hardloopfees drie weke gelede in Potchefstroom toe die twee spanne in die laaste ligawedstryd van die seisoen met 33 elk gelykop gespeel het. Dit was albei se laaste ligawedstryd en sou beslis wie boaan die punteleer eindig en die eindstryd sou aanbied.

Wie gaan Maandagaand wen? Miskien die Maties, met hul groter ervaring van eindstryde. Vyftien van hulle 23-tal het al die spanning van ʼn eindstryd deurgemaak.

Die Pukke sal, aan die ander kant, dalk so ʼn raps meer sorgvry in hul benadering wees. Hulle het nie daardie rekord van sewe maer jare wat oor hulle hang wat reggestel moet word nie, en hulle is nie die gunstelinge nie.

Waagmoed aan hul kant kan dalk net die groot verrassingselement wees.

Die spanne wat bekend gemaak is –

Maties
Reinardt Fortuin; Duncan Saal, Michal Haznar, Chris Smit, Edwill van der Merwe; Christopher Smith, Remu Malan; Marno Redelinghuys, Janco Venter, Johan van Niekerk, Johan Momsen, Ernst van Rhyn, Neethling Fouché, Wilmar Arnoldi, Chippie Oelofse (kapt.). Bank: Craig Corbett, Ricky Nwagbara, Piet-Louw Strauss, Brandon Valentyn, Stefan Streicher, Brandon Nel, Munier Hartzenberg, Carlisle Nel.

NWU-Pukke: Tapiwa Mafura; Jimmy Mpailane, Evardi Boshoff, AK Nela, Dean Stokes; Schalk Hugo, Chriswill September; Tiaan Bezuidenhout (kapt.), Estehan Visagie, Gideon van der Merwe, Walt Steenkamp, Johan Retief, Robert Hunt, Louis van der Westhuizen, Matimu Manganyi. Bank: Percy Mngadi, Nelius Theron, Theodore Ferreira, Jaco Swanepoel, Wandile Mazibuko, Nkosana Mbatha, Henko Marais, Justin Newman.

Afskop: 19:00

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.