Matt brom en mor wéér oor Bokke

Die Springbokke maak gereed om teen Engeland in die halfeindstryd van die Wêreldbeker-toernooi te skrum. (Foto: Twitter/Wêreldrugby)

Matt Williams, die voormalige Skotland-afrigter, het weer sy mond oor die Springbokke uitgespoel. Dié keer kla hy oor een van Suid-Afrika se grootste wapens op die rugbyveld: skrumwerk.

Ox Nche en Vincent Koch se puik voorryvertoning het juis Saterdagaand teen Engeland vir ʼn welkome Bok-momentuminspuiting gesorg.

En wanneer Bok se kind ʼn skrumwerk-strafskop losslaan, is Handré Pollard gereed om die bal oor die dwarslat te stuur.

Maar Williams sluk natuurlik swaar aan die Suid-Afrikaners se skrumwerk-oorheersing.

“Hulle gebruik as’t ware hul skrums om drie punte op die telbord te kry of om die bal oor die kantlyn te jaag en ʼn rolmaalbeweging van stapel te stuur,” het die oudafrigter aan Virgin Media Sport gesê.

Hy het na rugbywedstryde van die vroeë 2000’s verwys waar aanvallende agterlynbewegings aan die orde van die dag was.

“Suid-Afrika en Engeland is soos uitstekende belastingkundiges: Hulle sal elke liewe skuiwergat tot hul voordeel gebruik. Hoewel ek hul intellek bewonder, is dit nie goed vir die spel nie.”

Volgens Williams kry hy lande soos Nieu-Seeland, Ierland en Frankryk jammer; spanne wat daarvan hou om met die bal te hardloop.

“Ons is immers in die vermaakbedryf en ons moet onsself die vraag afvra of rugby vir agt spelers of 15 spelers bedoel is. Tans leun die spel so swaar in die rigting van skrums en rolmaalbewegings dat dit heeltemal van balans is.”

Dit is nie die eerste keer dat Williams die Springbokke kritiseer nie – hy het vroeër na die Suid-Afrikaners se sewe voorspelers op die plaasvervangersbank teen Ierland gekap.

“Is dit slim rugby in ʼn Wêreldbekertoernooi? Ja. Is dit goeie taktiek? Ja. Maar dit is immoreel,” het hy gesê.

Hy was toe nie soseer bekommerd oor die Ierse voorspelers nie – hulle sal hul man teen die Springbokke kan staan. Die spreekwoordelike papaja kan egter die spreekwoordelike waaier tref wanneer amateurspelers die taktiek probeer naboots.

“As ʼn span se voorry moeg is en hul teenstanders spog skielik met sewe vars voorspelers op die veld, kan dinge later in die wedstryd skeefloop; veral as daar ʼn skrumstrafskop toegeken word. Spelers kan dan beslis beserings opdoen.”

Die uitgesproke oudafrigter glo dit is sy plig om toekomstige rugbygenerasies teen só ʼn taktiek te waarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

vuurvliegie ·

Puik artikel. Stem 100000% saam. Die probleem kom egter in as die Bokke binnetoe skrum soos met Engeland en die skeidsregter straf dit nie. Matt Williams, Weet waarvan hy praat

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Kort stut kan ‘n langer opponent enige dag ore aansit. Kom ons kyk wat is die lang Kiwis se taktiek.

Stefan ·

Oral waar ek lees in rugby rubrieke, op sosiale media, en selfs hier op my geliefde Maroela Media se leserskommentaar is die storie altyd dieselfde: die refs kyk kamstig anderpad toe as dit by die Bokke se oortredings kom (nugter weet hoekom) en die Bokke is sogenaamd vervelig en gebruik onetiese taktieke (wanneer hulle jou span wen). Hoekom al die haat? Die Bokke speel net rugby op die beste manier wat hulle kan en gebruik hul sterk punte. As hulle wen, het hulle mos ‘n uitstekende resep en is hulle die beste. As hulle Saterdag verloor in die finaal weet ons die ABs se taktiek was beter op die dag. Dit is mos maar hoe sport is?!! Dit is wat rugby lekker maak om te kyk. Wees ‘n Bok vir sports.

Jean ·

Die heel laaste skrum? Waar Engeland se stut se knieg eerste op die vloer was nog voordat ons iets verkeerd gedoen het? Steven van die Bokke was vir dieselfde ding gestraf in die eerste helfte.

Allop ·

Vuurvliegie , in watter posissie het jy gespeel en op watter vlak?

kragaap ·

Snert dat die bokke binnekant toe skrum. As jy iets van rugby af weet sal jy sien die druk van Koch het veroorsaak dat Genge sy greep op die haker langs hom verloor, die slot het deurgekom en Genge se bolyf binnekant toe gedwing. Dit het veroorsaak dat Koch binnekant toe geforseer is agv die bind. Die skeidsregter was 100% reg om die engelse te penaliseer. Die bokke se voorry krag was te groot vir die engelse en dit gaan te groot wees vir die all blacks ook.

Republikein in die Wes Kaap ·

Engeland moes ‘n Erasmus kaart trek. Na die tweede skrum kon Sinclair die veld met ‘n “besering” verlaat. Geen verder mededingende skrums nie. Engeland het die voorspelers en spoed agter om die Suid-Afrikanerd te klop. Borthwick het nog heelwat om te leer.

Elma ·

Niks fout daarmee om jou sterk punte te gebruik nie. Jys net jaloers omdat die Skotte nie sulke sterk manne het nie.

JN ·

Skotland rugby? Nie geweet hul bestaan nie..
Sorry ou Matt but you seem to be uhmmm…… irrelevant..

Elma ·

Engeland het ons op die afbreekpunte OOK met baie sterk spelers oorheers met tye. Waarom kry jy nie daaroor n kramp nie??

Niklaas ·

Word hierdie Matt Williams betaal elke slag as die snert wat hy kwytraak gepubliseer word ?

Elma ·

Stefan jy praat waar. Ek sien ook glad nie hoekom n span, wat sy sterk punte gebruik, as n span met immorele taktiek beledig word nie.

Peet ·

In die sewentigerjare kon mens nog direk uitskop tot op die teenstander se doellyn. Gevolglik was daar wat genoem is “Bierman van Zyl -rugby.”Skop die bal tot op die doellyn, en stoot oor. Sieldodende rugby vir n toeskouer.
Dis toe wat ek n liefde ontwikkel het vir 15-man rugby, soos daardie tyd in die Vrystaat gespeel is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wêreldwyd was rugby in die 1960s en 70s strate aanskouliker as vandag se getjommel met hordes voorspelers. Kom ons hoop Wêreld Rugby kom vorendag met nuwe reëls. Ons kan nou net sowel American Football kyk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.