Die medeskrywers van ʼn boek oor die Springboktoer van 1906-1907 na Brittanje en Frankryk is skaars ʼn week uiteen oorlede.
Lappe Laubscher, een van die land se bekendste en veelsydigste sportskrywers, is oorlede nege dae ná Gideon Nieman, sy medeskrywer aan die boek The Carolin Papers (1990) oor Paul Roos en sy span se geskiedkundige eerste Boktoer.
Paddy Carolin was die span se onderkaptein.
Laubscher en Nieman het ook saamgewerk aan die rugbypublikasie Weergalose Uile (1988), en Laubscher het boeke oor krieket, fietsry en die Olimpiese sportsoorte die lig laat sien. Hy kan tereg as Suid-Afrika se voorste sporthistorikus beskou word.
Hy het ʼn reusebydrae as sportjoernalis, veral by die Sondagblad Rapport, gelewer.
Heinrich Schulz, ʼn voorste rugbyhistorikus en -versamelaar, sê hy en Laubscher het Donderdag nog ʼn tafel by Nieman se gedenkdiens gedeel, waar albei huldeblyke gelewer het.
Schulz sê niemand het groter baanbrekerswerk ten opsigte van navorsing oor sport in Pretoria se ontstaansjare gedoen as juis Laubscher nie.
Hy (Laubscher) het die afgelope tien jaar ʼn gewilde rubriek oor die geskiedenis van die stad Pretoria in ʼn dagblad geskryf, en was ook ʼn kenner van die militêre geskiedenis en die Laubscher-genealogie.