Media verdien rooi kaart vir flagrante oorsig

durbell-logo.squareDie media wat die benoemings vir die SA Rugbyunie (Saru) se span van die jaar gedoen het, verdien `n rooi kaart vir `n flagrante en ontstellende oorsig in dié opsig.

Die weglating van die oop klubs se nasionale kampioen, Durbanville-Bellville, skrei ten hemel en getuig van opperste oningeligtheid aan die kant van die media wat die benoeminglys opgestel het.

Vir instellings wat graag te kenne gee dat hulle die hand op die pols van nuusgebeure het, is dit eenvoudig nie goeg genoeg nie.

Lees gerus weer die verhaal van Durbell in die reeks om die Gemeenskapsbeker, iets wat deur niemand minder nie as die president van Saru, Oregan Hoskins, as `n sprokie bestempel is.

Al die oop klubs wat hul provinsiale ligas gewen het (of die beste ná die universiteitsklubs gevaar het) het die eerste plekke in die reeks gevul. Daarna het die naasbestes in `n uitdunronde kans gekry om hul plekke los te speel. Met 19 van die 20 plekke gevul, het die verloorders in die uitdunronde om die laaste plek uitgespeel.

Durbell het daardie plek gevul deur al die pad Upington toe te reis en die tuisspan daar in snikhete toestande gaan klop.

As daar al ooit `n buiteperd in `n reeks was, dan was dit Durbell in die Gemeenskapsbeker van 2015.

Onder die afrigting van Jan Loubser het die Kaapse span die reeks wedstryd per wedstryd aangepak en vriend en vyand verras deur vir die kwarteindronde op Rustenburg in aanmerking te kom.

Die klein Dawid het die Goliatte van die reeks die een na die ander laat tuimel – en laastens, maar nie die minste nie, die heersende kampioen, Rustenburg Impala, op sy eie werf 31-30 in `n spannende eindstryd geklop.

Die pad tot daar was geensins sonder struikelblokke nie. Van die span se sleutelspelers is in die reeks beseer en nuwelinge is aan die diepkant ingegooi. Hulle het die toets met vlieënde vaandels geslaag.

Bowenal het Durbell getoon klubrugby kan nog spelers vir die Curriebekerreeks oplewer. Een van sy helde, Garth April, het voor die einde van die seisoen vir die Sharks in die Premierliga van die reeks uitgedraf.

Dat sulke durf nie eens `n benoeming verdien nie, is onverskoonbaar.

Dit verg nie juis profetiese insig om te besef so `n epos sal dit nie sommer weer afspeel nie. Dis `n geleentheid wat vir altyd verlore is.

Dis `n flater wat diep kwes. Nie net misken dit Durbell se merkwaardige fut en deursettingsvermoë nie, dis niks minder nie as `n klap in die gesig van klubrugby wat met die GB-reeks getoon het dat dit alles behalwe afgeskryf kan word.

Die benoemers moet die hand diep in eie boesem steek, en Saru sal dringend moet besin of die proses van benoeming die toets deurstaan en of hy `n ander plan moet beraam om `n soortgelyke onreg in die toekoms te voorkom.

`n Mens wonder darem ook of Saru se hoofraad nie iets omtrent die saak kon doen voor hy die benoemingslys aanvaar het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.