Meer as genoeg redes vir die swartgalligheid

ʼn Jaar is ʼn baie lang tyd in Suid-Afrikaanse rugby.

Toe die Springbokke (en ook baie van ons ander spanne op ander vlakke) verlede jaar geploeter het, is ʼn noodsein aan die beamptes uitgestuur: doen tog iets, gryp in om die bloeding te keer.

ʼn Tweedaagse noodberaad is verlede jaar in Oktober gehou (en ook ʼn paar opvolgvergaderings) wat tot ʼn paar verfrissende besluite gelei het.

Maar wat nou?

♦  Terug na sesde plek op die wêreldranglys vir die Springbokspan, daar waar ons die jaar begin het.

♦  Twee Superrugbyspanne (Cheetahs en Southern Kings) wat hul status verloor het. Hulle speel albei in die Pro14-reeks, waar die Cheetahs hul man staan, maar die Kings skandes maak.

Dit laat weer die vraag ontstaan: Het die Cheetahs verdien om uit die Superreeks gegooi te word?

♦  ʼn Nasionale afrigter oor wie se kop daar ʼn swaard hang en wat aan die sogenaamde doemprofete vertel van die vordering wat gemaak is, oor die energie in die Springbokspan, oor hoe goed hulle oefen en voorberei, dat hy tevrede is met die pas afgelope toer, ondanks nederlae van 3-38 teen Ierland en 22-24 teen Wallis.

♦  Hoeveel van die ses Superafrigters het oorgebly?

Nollis Marais (Bulls) is gepos, Johan Ackermann (Lions) rig nou by Gloucester af en Gary Gold (Sharks) is ook oorsee by die Amerikaanse nasionale span. Die Cheetahs en Kings speel nie meer Superrugby nie en dus het net Robbie Fleck (Stormers) oorgebly.

♦   Die beleid oor die kies van spelers wat oorsee speel en vir die Bokke in aanmerking mag kom (30 toetse), het nie geslaag nie. Die uittog is nie gekeer nie, want ʼn speler soos Justin Ackerman (geen verbintenis met Johann Ackerman nie) wat net twee wedstryde vir die Westelike Provinsie en vyf keer vir die Goue Leeus gespeel het, slaan ʼn kontrak by Montpellier los.

Die slot/flank Wimpie van der Walt speel nou saam met hordes van sy spanmaats in Japan en het onlangs sy buiging vir die nasionale span gemaak. Sekerlik bult sy beursie meer as dié van sy oud-spanmaats.

♦   Die Curriebekerreeks is afgewater met belangrike wedstryde wat op weekdae en vroegmiddag gespeel word.

♦   En toe kry SA Rugby boonop bloedneus toe sy Wêreldbekerbod vir 2023 nie geslaag het nie. Vier opeenvolgende probeerslae, vier opeenvolgende mislukkings.

Waarmee gaan ons die Kerskous vul?

Met mislukkings?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gert ·

Politiek het alles laat plat val, wie kyk nog rugby? Quota speller en regstellende poste is aan die orde van die dag, en dit gaan nooit verander.

Ek kyk eerder Premier League Sokker.

bollie ·

Kyk Europese rugby die standaard is grootliks beter . Al hul kompetisie is omtrent Superrugby-gehalte, baie beter as die Curriebeker gemors wat ons deesdae sien. Ek sal nie weer tyd mors om die afgewaterde Curriebeker te volg nie.

Hendrik ·

Ja nee ek het vir my ‘n ander dam gekies waar jy gekies word volgens meriete en nie volgens jou velkleur. Ek ondersteun nie DSTV met hul eentalige uitsendings wat politiek korrek is nie en kyk ook nie na kwotasport nie.

bollie ·

Ek sou sê daar is meer wit kwotas as swart kwotas in die huidige Bok-span. Beslis heelwat wit spelers wat nie op meriete in daai span is nie.

Joe Hall ·

Hai ou Bollie,
So van kwota’s gepraat. Hoelank dink jy sal die volgende siele nog geleentheid kry om te bevestig dat hulle nie die mas kan opkom, of die spreekwoordelik paal kan haal nie?
Elton Djantjies, Skossaan, Da Ellende, Paige, Cassiem, Ralepelle, Oupa Mohodjy…ens ens ens

wesley ·

Als waar, maar een stelling moet ek tot perspektief bring. Die Kings mag dalk nie goed doen nie, maar as skandes sal ek dit nie so streng stel nie. Hul moes van niks weer begin na n belowende vertoning laas jaar. Met ster spelers wat weg is, soos Cronje wat nou skyn in Japan, sou hul sekerlik baie goed of beter doen in die Pro14. Alhoewel hul swak uitslae het, sal ek liewer vir Pieter en die wat komentaar liewer aanraai om minstens die wedstryde te kyk wat hul speel. Davids, met al die stroom teen hom, veg baie goed terug. Groete van n ex “Kings critic” en groot Leeus ondersteuner.

Koos1 ·

Wat ek nie kan verstaan nie, is dat die Sewes deurspek is van “kwota” spelers en hulle wen wedstryd na wedstryd. Ek is oortuig dat die fout nie by die spelers van kleur lê nie, maar dat dit die sigbare resultaat is van swak besluite van die veld af.
Dalk tyd om die hele SARU te “overhall”?

Frans C ·

In die sewesrugby word hul afgerig deur ‘n afrigter wat self die spel gespeel het op die hoogste vlak.Hy weet wat nodig is om sukses te behaal.

Die sewesrugby kan nie met die 15 man kode vergelyk word nie,want in die 15man spel is speelruimte beperk,terwyl in die sewes spelers met blote spoed geklop kan word,want sewe spelers moet 70 meter (wydte) (10 meter per speler) dek terwyl in die 15 man kode dit 4.6 meter per speler is.

Yankee ·

Koos, groot verskil in spel. Sewes vs Rugby. Sewes maak jy oog toe en hol.

Johannes van Staden ·

Die beste ouens is reeds weg …ons sit nou met n geoefen van die voorwaters !

Seeg ·

En wie moet ons bedank vir die chaos? Al die “slim” manne wat ons rugby gekaap het!

Darius Els ·

Ekskuus vir die simpel vraag,ek weet te min maar sedert 1984, was daar al “nie n kwotaspeler nie?
SA vs England ,Ellispark 1984.Kyk gerus in die boeke.
Om te wen ,en dis teen n “blindespan” England 1984, is ook nie wen nie.

Derick ·

Al rugby wat ek kyk is die Sewes reeks wat verlede week in Dubai afgeskop het. Die Blitsbokke is ‘n span om op trots te wees. Wat die 15 man weergawe betref …. kyk nie meer Currie, Super of Springbok rugby nie. My tyd kan beter en meer produktief op ander aksies aangewend word. G’n wonder rugby stadions loop deesdae konstant leeg nie. Skrik wakker S.A. Rugby!!!

Chris ·

Ek stem saam met die kommentare hierbo. Ons kan tien bokspanne saamstel met al ons spelers wat uitstekend doen oraloor in die wereld. Hoekom speel hulle oorsee? Oor alles wat verkeerd is in Suid Afrikaanse rugby. Gelukkig is daar nog ander dinge om na te kyk en te geniet, soos die Sewes Rugby.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.