Meer as net wen is Sondag vir Junior Bokke nodig

Salmaan Moerat sal weer op slot hard moet werk teen die sterk pak van Georgië (Foto: Facebook Junior Boks)

Nege veranderinge, waarvan twee posisioneel, is aangebring aan die Junior Springbokke se span wat Sondag in Tbilisi teen Georgië met ʼn bonuspunt moet wen en boonop ver moet wen.

Die Junior Bokke sal ook die vertoning van Frankryk teen Argentinië Sondagoggend met buitengewone belangstelling dophou nadat dié twee spanne  in die eerste ronde gelykop gespeel het.

Roux het onder meer ʼn nuwe skakelpaar gekies met Manie Libbok wat op losskakel by Curwin Bosch oorneem en Embrose Papier wat in die beseerde Rewan Kruger se plek speel; Wandisile Simelane is van vleuel af senter toe geskuif, en die Blitsbok Zain Davids is ook op die bank met Len Massyn wat sy plek in die beginspan inneem.

Jeanluc Cilliers speel in Libbok se plek heelagter. Gianni Lombard speel op vleuel in die plek van Simelane, en Kwenzo Blose vervang Gerard Steenkamp in die voorry.

Benewens Bosch en Davids is nog ʼn Blitsbok, Stedman Gans, saam met Steenkamp van verlede week se beginspan ook op die bank.

Die afrigter Chean Roux sê die span is gekies met inagneming van Georgië se sterk- en swakpunte en ook van die res van die toernooi en die span se werklas die afgelope tyd.

Werklas? Ooroefen? Moet wees, want daar was nie te veel wedstryde die afgelope twee, drie weke wat hulle kon uitput nie!

Of dit honderd persent waar is dat die span spesiaal met die oog op Georgië se sterk- en swakpunte gekies is, sal ʼn mens nie weet nie. Dalk is dit maar net om die manne wat weens swak dissipline nie vir die eerste wedstryd oorweeg is nie, speelkans te gee sonder om dit aan die groot klok te hang.

Roux verwag ʼn fisieke aanslag van Georgië wat voorlangs goed teen Argentinië vertoon het.

Frankryk, wat teen die Bokke gelykop gespeel het, besef hulle moet teen Argentinië wen om in die wedloop te bly. Hulle sal ook so ver moontlik wil wen omdat punteverskil die deurslag kan gee as hulle en die Bokke albei met Georgië én die Poemas afreken.

Net die wenspan van elk van die drie groepe is van ʼn halfeind verseker, met die span wat derde in sy groep eindig met die meeste ligapunte wat die viertal volmaak.

Junior Springbokke: 15 Jeanluc Cilliers, 14 Yaw Penxe, 13 Wandisile Simelane, 12 Damian Willemse, 11 Gianni Lombard, 10 Manie Libbok, 9 Embrose Papier, 8 Juarno Augustus, 7 Ernst van Rhyn (kapt.), 6 Len Massyn, 5 Reinhard Nothnagel, 4 Salmaan Moerat, 3 Carlü Sadie, 2 Johan Grobbelaar, 1 Kwenzo Blose. Bank: 16 Gerhard Steenekamp, 17 Daniel Jooste, 18 Wikus Groenewald, 19 Hendré Stassen, 20 Zain Davids, 21 Francois de Villiers, 22 Stedman Gans, 23 Curwin Bosch.

Sondag se wedstryde –

Ierland vs Skotland 11:00
Argentinië vs Frankryk 11:00  (SuperSport1)
Australië vs Samoa 13:30
Nieu-Seeland vs Italië 13:30  (SuperSport1)
SA vs Georgië 16:00 (SuperSport1)
Engeland vs Wallis 18:30 (SuperSport1)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.