Meer oorgrensligas kan vanjaar hul beslag kry

centurion-logoMeer oorgrensligas as die bestaande reekse in die Wes- en Oos-Kaap en die Noordelike Assupolreeks kan dalk vanjaar hul beslag kry, namate die gedagte wyer posvat.

Nuwe ligas sal egter nie noodwendig nou reeds op die program geplaas word nie aangesien die vasstelling van vanjaar se bepalings in `n gevorderde stadium is.

In die Wes-Kaap het die vier topklubs (uitgesonder die Varsity- en Gemeenskapsbekerspanne) plus `n genooide span elk van die Westelike Provinsie (WP) en die Boland die Gemeenskapsuitdaagreeks beslis. Valsbaai van die WP het Paarlstreek (ook van die WP) 73-13 in die eindstryd geklop.

Die Oos-Kaapse Super 12-reeks is eweneens sonder die deelnemers aan die nasionale reekse beslis en het ses spanne uit elk van die Grens en die Oostelike Provinsie (OP) omvat. Die Oos-Londense Polisie is die huidige kampioen nadat hy Gardens (OP) 20-15 in `n spannende eindstryd geklop het.

In albei gevalle word daar reeds tussen die belanghebbendes gesprek gevoer om die reekse vanjaar voort te sit. Die vroeë afskop van die provinsiale klubligas met die oog op die nasionale reeks om die Goue Beker (die Gemeenskapsbeker se nuwe naam) skep egter `n probleem om die bepalings ingepas te kry.

♦ Die Assupolreeks van die Noorderbonde, wat deur die Blou Bulle geadministreer word, behoort vanjaar sy oorgrenskarakter te versterk deurdat spanne in die groepfase teen spanne uit ander bonde sal speel. In die verlede is die groepe grootliks in bondverband ingedeel met klubs van die Blou Bulle, die Bulle se Limpopostreek, die Goue Leeus, die Valke, die Luiperds en die Pumas wat in verskillende afdelings deelgeneem het.

Die reeks was verlede jaar – ook sonder die topstudente- en oopklubspanne, maar met dié klubs se naasbestes wel in aksie – `n reusesukses.

Twee Blou Bulle-klubs, Centurion en die Tukkies, het mekaar in die eindstryd voor die bors gevat en eersgenoemde het dit met `n drie in die doodsnikke beklink om 26-22 te wen.

♦ Gauteng lyk na die volgende geopolitieke provinsie om `n reeks oor rugbygrense heen te skep met die Blou Bulle, die Goue Leeus en die Valke wat om `n beoogde Gautengbeker kan meeding.

Gesprekke in dié opsig is ver gevorder en daar word op die provinsiale regering gewag op uitsluitsel of hy die reeks sal borg, soos die geval reeds met die Oos-Kaapse reeks is.

♦ Daar is nog nie duidelikheid oor die voortsetting al dan nie van die Platinumliga waarin die topdrie Blou Bulle-spanne verlede seisoen saam met die Luiperds se Rustenburg Impala deelgeneem het nie. Wat mededingendheid betref, was die reeks hoogs geslaagd, maar die Blou Bulle-klubs se vooropstelling van die Carltonreeks het die oorgrensreeks se aansien aangetas.

Van die Luiperds se ander topklubs het die NWU Pukke aan die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks deelgeneem en Vaal Reefs en Klerksdorp aan die Valke se Peregrinereeks.

♦ Klubs in die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie (NKZNRSU) en die Mpumalanga-rugbyunie (MRU) is besig om voelers uit te steek met die oog op `n oorgrensliga in dié geweste en `n beoogde vriendskaplike wedstryd tussen Highlanders van Newcastle en Ermelo vroeg vanjaar kan die gedagte `n trappie verder voer.

Die Pumas het reeds laat blyk dat hulle nie teen so iets gekant is nie, solank dit nie met die Pumas-ligas inmeng nie.

♦ Die Oos-Kaaplandse Hoëprestasieliga het insgelyks vanjaar studentespanne van die Grens en die OP oor bondsgrense heen saamgetrek. Die Rhodes-universiteit van Grahamstad, Port Elizabeth se Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU), die Walter Sisulu-universiteit (WSU) van Oos-Londen, die Universiteit van Fort Hare (UFH) en die OP en Grens se rugbyakademies het daaraan deelgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marko Miladinovic ·

Klubrugby is great, dis tyd dat dit sy regmatige plek in SA Rugby weer treugvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.