Meer opwindende reeks as verlede jaar nou werklikheid

supersportreeks-logoDie  nuwe provinsiale reeks wat Dinsdag deur Saru bevestig is, gaan nie net sorg vir meer mededingende rugby as verlede jaar se afgewaterde gedoente wat as opstellende kompetisie vir die Curriebekerreeks gedien het nie, maar sal gewis strawwe kompetisie in veral die Noord- en Sentraalstreek tot gevolg hê.

Soos Pale Toe! vroeër berig het, is die nuwe reeks, die SuperSport-uitdaagreeks, in drie streke verdeel en sal die voorste twee spanne in elke streek en ook die volgende twee spanne met die meeste ligapunte in hulle streek, aan die kwarteindronde deelneem.

Die reeks neem die plek van die ou Vocaomreeks, wat oor baie jare as belangrike voedingsbron en slypvlak van spelers vir die Superspanne gedien het.

Die Goue Leeus, Blou Bulle en Pumas is saam met die Valke en die Welwitchias van Namibië in die Noordstreek. Taai sal dit ongetwyeld tussen die eersgenoemde drie wees, selfs al is die Leeus en Bulle sonder hulle Superspelers van wie die Pumas ook ʼn paar aan ander unies afgestaan het.

Ook in die Sentraalstreek, waar die Vrystaat Cheetahs, Griekwas, die Sharks-vyftiental, die Luiperds en Griffons, sake moet uitspook, sal dit nie maklik wees nie.

Die WP, wat teen die Boland Kavaliers, die Grens Bulldogs, die OP Kings en die SWD Arende moet speel, het moontlik die maklikste paadjie na die kwarteind.

Die streke is –

Noord: Blou Bulle, Goue Leeus, Valke, Pumas en Welwitchias.
Sentraal: Vrystaat Cheetahs Griffons, Griekwas, Luiperds, Sharks XV.
Suid: Boland Kavaliers, Grens Bulldogs, OP Kings, SWD Arende, WP

Daar sal elke naweek drie groepwedstryde gespeel word. Daar sal ʼn aantal bepalings wees waar drie wedstryde – twee in die Superreeks en ʼn klubwedstryd – by dieselfde plek ná mekaar gespeel word.

Van die wedstryde is reeds bepaal vir klubs soos die Impala-rugbyklub in Rustenburg waar verlede jaar se eindstryd van die Goue Beker plaasgevind het; die Bill Jardine-stadion; Wolfson Stadium in Port Elizabeth en ʼn hele paar ander.

♦  Sondagwedstryde is in Dinsdag se aankondiging bevestig.

Rugby op Sondagmiddae was ʼn paar jaar gelede ondenkbaar, lui Saru se verklaring, maar veranderde ontspanningspatrone en die sukses van verlede jaar se Goue Beker-halfeindstryde wat meer as 9 000 toeskouers gelok het, dui daarop dat Sondae vir moderne kykers aantreklik is, veral vir gesinne.

♦  Die reeks begin op 22 April, met die kwarteindwedstryde op Sondag 2 Julie en die halfeindstryde die week daarna. Die eindstryd is op 16 Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik vd Westhuizen ·

SARU watse twak verkondig julle om rugby op ‘n Sondag te probeer regverdig. “Veranderde ontspanningspatrone” en dat dit vir “moderne kykers aantreklik is”. Ek hoop elke “moderne ouer” dink mooi dat en wonder waarom ons land in die toestand is wat dit is. Sondagrugby gaan nie die rugby verbeter nie.

zahn ·

Moeilik om te glo dat ‘n spul grootmense ure lank kan sit en planne maak, en dan is hierdie hulle beste een.

Albert ·

Dit is so dat hul dink net aan geld maak, al hoe dit gestop sal word om nie op Sondag rugby gespeel word nie is as ons kan saam staan soos ons swart broers en soos een man te ontrek aan die betaal van ons TV gelde, want dit is daar waar hul hul geld maak, en nie die wat by die stadions gaan kyk nie.

Frans C ·

Nuwe opwindende rugby wanneer dieselfde spelers oor en oor teen mekaar speel? Die grootste probleem in Suid Afrikaanse rugby is dat afrigters onder druk om nie te verloor nie,dieselfde spelers oor en oor kies.

Besef hul dan nie dat Varsity-rugby so opwindend is ,omdat daar talle opwindende
amateurspelers op die voorgrond tree.Ouens wat speel vir die liefde van die spel en nie geld nie. Raak ontslae van SARU se ou hout en stel jong manne met nuwe opwindende
idees aan bewind.

Nico K ·

Frans C, dink jy regtig die Varsity beker speel vir die liefde van die saak en nie vir geld nie. Hulle speel om raakgesien te word deur die groot unies sodat hulle ‘n aanbod kan kry. En moenie vir my vertel een van daai ouens betaal ‘n sent aan universiteitsgelde nie. En dis nie dieselfde ouens nie. Meeste van hulle speel nie eers Curriebeker rugby nie. Dis juis om hierdie ouens voor te berei vir groot rugby.

Frans C ·

As dit waar is wat jy sê behoort hul in die eerste plek nie op universiteit nie ,want dan is hul nie studente in die ware sin van die woord nie. Volgens die kompetisiereël moet hul aktief in hul studies betrokke wees en ‘n akademiese loopbaan nastreef en gereeld van jaar tot jaar slaag.

Weet enigiemand hoeveel ,daar is agt spanne, se spelers het al beroepspelers geword?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.