Meer SA Goue Bekersterre voortaan Skotland toe

Clinton Wagman – driedrukmasjien. (Foto: Selkirk RFC)

Meer Suid-Afrikaanse klubspelers uit die Goue Bekerreeks sal voortaan die geleentheid kry om Skotse klubrugby kragtens die SA Rugbyunie (Saru) se uitruilooreenkoms met die klub Selkirk te ervaar.

Die getal sal afhang van die Skotte se behoefte en die beskikbare begroting.

Duane Heath, Saru se projekbestuurder vir die Goue Bekerreeks, het aan Pale Toe! gesê benewens die groter getal spelers is daar twee ander wysigings in die program. Selkirk sal voortaan aandui in watter posisies hy leemtes ervaar, en spelers sal gestuur word wat dié tekortkominge uit die weg kan ruim; en die spelers sal verkieslik in Julie-Augustus by Selkirk aansluit sodat hulle die volle seisoen by die klub kan speel.

Die begunstigde spelers is nog nie aangewys nie, omdat die gasheerklub nog nie sy behoefte uitgestippel het nie.

“Selkirk is ʼn kleindorpse klub wat in bepaalde posisies sterk is en in ander yl toebedeel is. Dit deug dus nie om ʼn haker te stuur as die klub reeds twee goeie hakers het, maar geen nommer 7-flanke nie,” sê Heath.

“Dis wat verlede jaar met Ian Oosthuizen [die haker van Brakpan, wat as die beste voorspeler van die GB-reeks bekroon is] gebeur het. Hulle het reeds hul haker gehad, dus het Ian flank vir die klub gespeel. Hy was egter só goed dat hy die nommer 6-plek in die opdrafspan losgespeel het.”

Hy sê daar is ook besluit om die uitruilgleuf met die Skotse seisoen te sinchroniseer sodat die GB-sterre Selkirk uit die staanspoor ʼn hupstoot kan gee.

“Dis waarom Clinton Wagman [ʼn vleuel van Progress George] en Siphamandla Dama [ʼn losvoorspeler van Belhar] in Augustus en vroeg September vanjaar soontoe gestuur is.

“Die proefneming het groot vrug gedra deurdat die spelers van meet af aan deel van die klub is en albei partye daaruit voordeel trek.

“Wagman het reeds 12 drieë in tien wedstyde gedruk.”

Dié twee is gekies op grond van hul vertonings in klubwedstryde wat in die fase van kwalifisering vir die GB op TV gebeeldsaai is.

Die moontlikheid bestaan egter steeds dat, sou Selkirk op hierdie stadium spelers aanvra, aan sy versoek voldoen kan word.

Heath sê die GB-reeks het getoon dat daar soveel spelers van gehalte in elke posisie is, dat dit geen probleem sal wees om nog uitblinkers te stuur nie, ongeag hul posisies.

Die nuwe reëling het dit ook moontlik gemaak om Suid-Afrika se klubspeler van die jaar aan te wys sonder om Selkirk se behoefte in ag te neem. Graham Knoop, ʼn slot en die kaptein van Valsbaai, het dié onderskeiding te beurt geval. “Die 30-jarige Knoop is nie noodwendig ʼn kandidaat vir Selkirk nie omdat hy in sy beroep gevestig is, en ʼn paar maande in Skotland ontwrigtend daarop kan inwerk,” sê Heath.

“Dit is egter belangrik om die beste man as speler van die jaar te kies, en hy het regdeur die seisoen met sy leierskap en spel uitgetroon.

“Dit sou belaglik wees om hom nie as sulks te beloon nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.