Meer vir ‘SA’ Duitsland op spel as vir die res

Daar is meer vir Duitsland met sy 12 Suid-Afrikaners op die spel as vir enige van die ander lande, wanneer die Wêreldbeker (WB)-heruitdun Sondag in Marseille, Frankryk, afskop.

Die spelers speel ook vir die versekering van hul toekoms, en om die rugbypolitici op hul neuse te laat kyk.

Tensy Duitsland sy plek in Japan bespreek, is dit waarskynlik die einde van die sterk opkoms van rugby in dié land, en ook van die toetsloopbane van die groep spelers wat hom tot op die drumpel van die WB gedra het.

Dis geen geringe taak wat wag nie, want Duitsland is die swakste gekeur van die vier spanne.

Kobus Potgieter, die oud-Tukkie wat die afgelope paar jaar ʼn sentrale rol in die opkoms van Duitse rugby gespeel het, het teenoor Pale Toe! bevestig dat die Wild-rugbyakademie in Heidelberg se ontwikkelingsprogram gestaak is omdat die borge onttrek het.

Hy sê van die spelers is nog by die Heidelberg-roeiklub (HRK), wat die kern van die Duitse span bevat het, maar die res speel nou by ander Duitse klubs, en selfs in Frankryk, Engeland, Roemenië en Amerika.

Van die Suid-Afrikaners buite Duitsland speel Sebastian Ferreira nou vir Chambéry in Frankryk, Jarrid Els vir CSM Bucuresti in Boekarest, Roemenië en Ayron Schramm vir Houston SaberCats in Amerika.

Potgieter sê die miljardêr Hans-Peter Wild ondersteun nog die Duitse span vir die heruitdun-toernooi sodat hy ʼn goeie voorbereiding gehad het.

“Behalwe vir een of twee beseerdes, is ons beste span beskikbaar, en in Mike Ford is ʼn goeie, ervare hoofafrigter vir die toernooi betrek.”

Potgieter is as die span se rugbydirekteur vir die toernooi aangestel, en Ford is ʼn gewese hulpafrigter van Engeland.

Wild se voortgesette borgskap is aan twee voorwaardes onderworpe. Die span moet die heruitdun wen, en die DRV moet nóg drie borge vind wat ewe veel as hy insteek.

Sonder ʼn WB-plek sal Duitsland nouliks sulke borge vind, daarom die belangrikheid van ʼn toernooi-sege in Marseille.

♦ Die erfgenaam van die Capri-Sonne-sakeryk het vroeër die Wild-rugbyakademie, met Potgieter as rugbydirekteur, gefinansier en die HRK geborg.

Hy het die Vereniging vir die Bevordering van Rugby gestig, wat Potgieter en ʼn groep spelers kontrakteer het, wat die kern van die Duitse span gevorm het.

Dit het die grondslag gelê vir die indrukwekkende opkoms die afgelope paar jaar van Duitsland in Europese rugby, wat uiteindelik deur rugbypolitiek gestuit is.

Die Duitse Rugbyunie (DRV), glo aangestig deur Wêreldrugby, het daarop aangedring dat hý die spelers kontrakteer en nie die vereniging nie.

Wild was nie daarmee gediend om geld op die water te gooi waaroor hy nie beheer het nie.

Die vereniging se spelers was gevolglik nie vir Duitsland beskikbaar nie, en die span wat bymekaar geskraap is om die leemte te vul, kon nie die mas opkom nie. Hy was heel laaste in die reeks om die Rugby Europa-trofee.

Toe volg die debakel met onwettige spelers in die reeks. Roemenië, Spanje en België verloor punte, en Duitsland word – sonder om ʼn wedstryd te wen – tot die tweede plek bevorder. Dit verseker op die ou end sy plek in die heruitdun.

Intussen het die HRK, as Duitse klubkampioen, se spelers hul talent in Europese Beroepsklubrugby (EPCR) se reeks om die Kontinentale Skild aangewend, en as naaswenner sy plek in die reeks om die Europese Uitdaagbeker beklink.

Toe kelder die rugbypolitiek, met sy geringskatting van spelers se opoffering en prestasie, jou werklikwaar, hulle ook hier.

Wild is ook die eienaar van die Franse klub Stade Français, wat in dieselfde reeks speel, en EPCR het besluit hy moet van die een klub ontslae raak om botsende belange te voorkom.

HRK, as die swakker klub van die twee, het gevolglik in die slag gebly, en ʼn droom het die tweede keer aan skerwe gelê, want sonder Wild se geld kon hy nie deelname bekostig nie.

♦ Wild het in ʼn stadium glo ook in die Kings-franchise belanggestel, en was op ʼn verkennende besoek in Port Elizabeth.

Hy het seker maar nie gehou van wat hy in die Oos-Kaap gesien het nie, want daar het dadels van gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.