Mening: Bestuur én finansiering nodig vir sukses en nuwe sterre

Foto: Thierry Zoccolan/AFP.

Gaan krap maar in die argiewe, hier en oorsee, en jy sal sien dat die beste spanne op alle vlakke hul sukses te danke het aan goeie spelers, goeie afrigters en goeie bestuur.

Voorbeelde is die Crusaders, Exeter in Engeland wat die verdedigende kampioen en reeds weer die voorloper in vanjaar se Engelse liga is en die enigste span wat nie in die laaste volledige seisoen ʼn verlies gemaak het nie, en ons eie klubspanne soos Rustenburg Impala, Tuks, College Rovers, Durbell, Valsbaai, Kovsies, Durban Collegians …

In hierdie dae van beroepsrugby is geld natuurlik ook ʼn uiters belangrike faktor en finansiële probleme is van die vernaamste redes dat ʼn hele paar goedbestuurde klubs nie deurbreek nie.

Geld en bestuur

Finansiële welstand is ooglopend die rede waarom drie van Suid-Afrika se voorste vier spanne, die Bulls, Sharks en Lions, die kitaar op die veld slaan, met die insette van geskoeide bestuurders wat die finansiële welstand teweeg gebring het en dit nou tot voordeel van die bond/franchise aanwend.

Al drie hierdie voorste bonde/franchises het stewige buite-aandeelhouers. Dit stel die bonde in staat om die beste moontlike spelers en die voorste afrigters en afrigtingspersoneel te kontrakteer, en die heel bestes as uitvoerende hoofde en senior personeel aan te stel.

Daar is ook, met die groter finansiële vermoë, groter spelergroepe wat meer speelkans aan die gekontrakteerde spelers gee met hul kernspelers wat meer ruskans kry.

Nuwe talent

Suid-Afrikaanse rugby gedy gevolglik weens dié finansiële inspuitings en goeie bestuur.

Dink maar net aan die klomp nuwe gesigte (en ook bekendes) wat laasjaar en vanjaar op provinsiale vlak deurgebreek of buitengewoon ontwikkel het. Natuurlik is hulle nie almal toekomstige Springbokke nie, maar daar is wel manne onder hulle wat in 2023 Wêreldbeker toe sal gaan en nog ʼn paar wat Bokke sal word.

Rosko Specman. Foto: GB Jordaan

Sonder om te ver te dink, is daar “nuwelinge” soos die kanonvoet-heelagter/losskakel van die Lions, Tiaan Swanepoel; Stedman Gans, Rosko Specman en Kurt-Lee Arendse uit die Blitsbok-geledere; die stutte Ox Nché (reeds ʼn Springbok) wat nou ʼn bul by die Sharks geword het en Neethling Fouché; die losvoorspelers Vincent Tshituka, Springbok Sikhumbuzo Notshe,  Dylan Richardson, Henco Venter, Elrigh Louw, Juarno Augustus; die slotte Ruan Nortje, Ruben van Heerden, JJ van der Mescht; die WP se skakels Paul de Wet en Kade Wolhuter, die terugkeer van Leolin Zas, Yaw Penxe, en Springbok en Blitsbok Cornal Hendricks … en so hou dit aan.

Daar’s sommer nog baie ander belowende spelers wat nou reeds saam en teen bostaande en ook ons (fikse) plaaslike Wêreldbeker-helde van 2019 deur die meul is en waardevolle ondervinding opgedoen het. Warwick Gelant (nou beseer), S’bu Nkosi, Lukhanyo Am, Herschel Jantjies, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Duane Vermeulen, Frans Steyn, Elton Jantjies en Trevor Nyakane (en Damian Willemse?) se ervaring en gehalte het hier ongetwyfeld hul merk gelaat.

Daar is ook reeds gesoute sterre soos Aphelele Fassi, Curwin Bosch, Arno Botha, JD Schickerling, Scarra Ntubeni, Burger Odendaal, Ruan Pienaar, Nizaam Carr, Courtnall Skosan, André Warner en vele ander teen wie die jonges gespeel het.

Cheetahs

Die Cheetahs, wie se bestuur oor vele jare deurgaans puik was, was die ongelukkige franchise wat gesny is toe die voorste vier aangewys is vir deelname aan die PRO16.

Die Cheetahs het egter al ʼn jare lange hoofborg in Toyota. Hoewel dit moontlik nie genoeg sal wees om hulle in die beroepstye tot groot hoogtes met die kontraktering van uitstaande spelers te laat uitstyg nie, sal die Cheetahs steeds ʼn faktor in Suid-Afrikaanse rugby bly – en ook by hulle is bestuurstabiliteit ʼn groot rede vir die volgehoue gehalte van hul spel.

Die Southern Kings, wat as franchise twee keer gelikwideer is, en ook die Oostelike Provinsie Rugbyunie nadat hulle onder die voorsitterskap van Cheeky Watson as franchise en finansieel geruïneer is, gaan jare neem om te herstel.

Watson se hofsaak word al meer as drie jaar klank telkemale uitgestel. Hy staan tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery.

Stalmaats

Geld en goeie bestuur is nou maar eenvoudig stalmaats in die nuwe rugbywêreld. En dit is waarom die gevaarligte vir die WP en Stormers sterk flikker, ondanks ʼn goeie afrigter en goeie diepte aan spelersgehalte.

(Foto: Twitter via WP Rugby)

Daar is yslike finansiële probleme by die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU). Die bond steier op bestuursvlak waar (selferkende) leuens deur hul president Zelt Marais, bedankings, afdankings, skorsings en nou ook hofsake onsekerheid by die spelerskorps geskep het.

Wie weet, miskien is dit waarom die Stormers se hoofafrigter John Dobson steeds nie die verlenging van sy kontrak vir die volgende twee jaar onderteken het nie.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) en voorsitter van die Bulle-direksie, het so ʼn raps meer as twee jaar gelede gesê private beleggers kan ’n reddingsboei vir Suid-Afrikaanse rugby wees, maar dit sal allermins ’n outomatiese oplossing wees.

“Dit is van groot belang dat die aandeelhouer rugby – en nié eie belang nie – eerste stel.

“Dit is nie ’n nuwe verskynsel nie, maar ek dink daar is ’n wanopvatting dat ’n belegger wat eienaarskap van ’n klub neem, finansiële vooruitgang sal verseker.”

Die Topdrie se aandeelhouers

Die Sharks het MVM Holdings, wat eers deur die WPRVU aan die lyntjie gehou is en toe weggewys is, binne twee weke daarná as beherende aandeelhouer gekry; die Bulls het twee van Suid-Afrika se rykste sakemanne wat met ʼn 74%-aandeelhouding deur hul maatskappye betrokke is; en die Lions het al in 2010 in Altmann Ahlers, nou voorsitter van Lions Rugby, ʼn buite-aandeelhouer gekry wat saam met die hoofborg Emirates dinge by Ellispark laat gebeur.

Bulle se goeie nuus oor hul klubrugby

Klubrugby is nog nie aan die gang nie, hoewel daar landwyd met voorbereiding vir die groen lig betreffend Covid-19 gewag word. Maar dit gaan klaarblyklik goed met klubrugby by Blou Bulle-rugbyunie.

Willem Strauss, die BBRU se president, het in sy gereelde omsendskrywe die volgende nuus oor klubrugby by die BBRU, wat die subunie Limpopo insluit, oorgedra.

“Die eerste keer in baie jare word ons Carltonliga vergroot met die byvoeging van Pretoria Rugbyklub en Tuine.”

“Eersgenoemde is die tweede oudste klub in die ou Transvaal (133 jaar sedert stigting, drie jaar ná Potchefstroom Dorp) en was drie jaar dormant. Maar Pretoria het met harde werk in 2019 weer aan die gang gekom en sal vanjaar ses spanne in die Blou Bulle se ligas inskryf.”

“Tuine is ʼn krag in die weste van ons stad. Boonop sal Limpopo en van die Township-klubs die heel eerste keer in ons onder 20-ligas speel.Dit klink ongelooflik, maar ons getalle het sedert die eerste inperking gegroei!Die vrugte van ons beplanning die afgelope drie jaar is besonder bevredigend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

en daar moes ek in 1998 strate op en af loop en bedel vir R5 sodat ek my eie vliegkaartjie, verblyf, en inskrywingsfooie kon betaal vir ‘n wereld-kampioenskap in Engeland.