Daar was nog maar altyd so ʼn effense ongemaklikheid tussen Suid-Afrika en Australië wanneer dit te make het met die vernaamste sporte waarin hulle teen mekaar meeding: rugby en krieket.
Vergeet nou maar vir eers van die venyn van die Aussie-pers waarna later gekyk word. Ek wil vandag ter aanvang praat oor die Australiese rugbybaas se verspotte en oningeligte (of is dit moedswillige?) reaksie verlede week oor die Springbokke se nie-deelname aan die Rugbykampioenskap wat hierdie naweek afskop.
Weet hulle hoegenaamd in watter mate beserings reeds van ons voorste spelers geëis het, soos later uitgewys word?
‘Verras, geskok, raaiselagtig’
Rugby Australia se uitvoerende hoof, Rob Clarke, sê hy is teleurgesteld in Suid-Afrika se besluit om nie aan die toernooi deel te neem nie. Dis redelike kommentaar, en geensins ʼn aanklag teen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nie.
Maar kyk bietjie wat die voorsitter van Rugby Australia, Hamish McLennan, sê. Hy is, volgens die Australiese pers “geskok” oor die besluit. Hy sê ook hy vind die onttrekking “raaiselagtig”.
Dis “teleurstellend en verrassend.”
Die vraag is nou: Is Australië dan nie in die besluit geken nie? Was hulle nooit deel van die gesprekke met Sanzaar nie?
Hoewel Saru uit die staanspoor oop kaarte gespeel het daaroor dat die spelers in Suid-Afrika verkieslik 400 tot 500 minute se rugby agter die rug moes hê voordat die Springbokke aan die Rugbykampioenskap kon deelneem, het hul besluit klaarblyklik vir McLennan as ʼn verrassing gekom.
“Ons was verras, want Suid-Afrika het tot die toernooi en beplande deelname toegestem en ons was dus verras toe hulle onttrek,” was McLennan se reaksie.
Dit was seker nie ʼn maklike besluit vir Rassie Erasmus, Jacques Nienaber en Saru nie, maar dit was tog die regte ding om te doen. Dit word later in die artikel gestaaf waar die beskikbaarheid van ons Wêreldbeker-Bokke ontleed word.
Dit wemel ook van buitengewoon baie beserings wat moontlik toegeskryf kan word aan onvoldoende voorbereiding weens protokol-beletsels en slegs drie rondes van ons eie Superreeks.
♦ Die Australiese pers was, soos baie dikwels oor Suid-Afrikaanse sport, voorspelbaar venynig en verspot in hul reaksie.
Saru het volgens die breë Aussie-pers glo aanvanklik gehuiwer om ten volle tot die toernooi toe te stem. Hulle het toe eers die regering se weiering tot reis buite Suid-Afrika as verskoning voorgehou dat hulle nie sal kan speel nie, is in Australië berig.
Toe die regering se toestemming kom en die reisbeperkings opgehef is, só is daar geskryf, het SA Rugby skielik hul rede verander vir die gewaande onwilligheid om deel te neem. Die “skielike” nuwe rede is, volgens hulle, glo kommer oor spelerwelstand en dat 400-500 minute speeltyd nodig was voor die spelers blootgestel kon word.
En in nóg so ʼn oningeligte (of is dit sommer net leuenagtige?) verslag word geskryf die benodigde minimum wedstrydtyd is deur ʼn “kamtige eksterne, onafhanklike mediese gesag” bepaal “wat waarskynlik niks anders was as ʼn lid van die Bokke se eie mediese personeel by die Wêreldbeker-toernooi nie”.
Nou toe nou!
Daar is ook geskryf Suid-Afrika het 13 Wêreldbeker-spelers wat oorsee speel op wie se knoppies gedruk kan word. Dis inderdaad 15, van wie RG Snyman, Loot de Jager en Handré Pollard ernstig beseer is. En die res, soos hieronder gesien kan word, sou nie in die volle Rugbykampioenskap kon speel nie.
Wêreldbeker-Bokke
Só staan sake met die Springbokke wat deel van die Wêreldbeker-groep was:
- Fikse spelers in Suid-Afrika (10) – Net 12 fikse spelers van die 33 Wêreldbeker-spelers is tans in Suid-Afrika en was fiks genoeg om verlede naweek te speel. Siya Kolisi en Thomas du Toit is toe egter albei beseer.
- Die oorblywende tien fikses is Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Duane Vermeulen, Trevor Nyakane, Lukhanyo Am, Warrick Gelant, Herschel Jantjies, Frans Steyn en S’bu Nkosi.
- Fikse spelers in Europa (7) – Die sewe fikse oorsese Europese aanspraakmakers sou weens hul oorsese klubverpligtinge, en daarna die Australiese inperking van 10 dae weens die Covid-19-vereistes, eers laat in die toernooi by die span kon aansluit en begin saamoefen en speel.
Hulle is Eben Etzebeth, Vincent Koch, Franco Mostert, Damian de Allende, Faf de Klerk, Cheslin Kolbe, Cobus Reinach. (Etzebeth het net twee uitspeelwedstryde sedert drie weke gelede vir Toulon kon inpas ná ʼn ribbesering wat hom weke van die veld gehou het)
- Japanse spelers (5) – Dié vyf Suid-Afrikaanse spelers verbonde aan Japanse klubs het nog geen rugby gespeel nie: Malcolm Marx, Kwagga Smith, Makazole Mapimpi, Willie le Roux en Jesse Kriel. Hulle is aan Japanse klubs verbonde waar daar tot dusver nog nie rugby gespeel is nie
- Beseerdes (8) – Vier eindstrydspelers tel onder die langtermynbeseerdes: Snyman, De Jager, Pollard (al drie oorsee) en Pieter-Steph du Toit.
Voorverlede naweek het Elton Jantjies en Damian Willemse ook beserings opgedoen (albei klaarblyklik darem nie ernstig nie) en die afgelope naweek is ook Kolisi en Du Toit bygevoeg. - Uitgetree (3) – Schalk Brits, Beast Mtawarira, Francois Louw.
Daar is natuurlik, benewens die Wêreldbeker-Bokke, nog talle spelers wat reeds ryp of amper ryp vir toetsrugby is. Om hulle nou, nog nie speelfiks nie, by die diepkant in te gooi met ses toetse op agt agtereenvolgende Saterdae, sou dwaas wees
Spelerwelstand – die beseerdes
Dis ʼn pluimpie vir Saru dat spelerwelstand meer as uiters noodsaaklike geld tel.
Dit maak nie saak of Australia venynig is teenoor die Bokke nie. Feit van die saak is dat al was al die wereldbekerspelers fiks en Covid nie meer n bedreiging nie sou SA steeds gesukkel het om beide NZ of die Ausies daar te troef. In perspektief moet die wereldbekerkroon nie n gegewe wees dat SA die beste span is nie. Trouens, die Engelse was vrek lam in die kiewe na hulle NZ geklop het en het hulle nie veel teestand gebied teen die Bokke nie. Ek neem dus hul prestasie by die WB met n knippie sout.
Jy kan die prestasie met knippie sout neem of met sak sout soos jy wil. As die Engelse nie hulle koppe kan gebruik om nie dan het ek geen simpatie nie. Hulle het geweet dat SA vir hulle in die eindstryd wag en dat hulle goeie teenstand gaan kry. Die probleem is die media het klaar die Engelse as wereld kampioene gekroon en toe is hulle sleg aarde toe gebring. Dit vat ‘n man om ‘n pak slae te vat.
Ag asseblief, is dit al spelers wat ons het? SA rugby is so bang dat hulle met kous oor die kop huistoe gaan kom met n verskoning wat eintlik belaglik is. Politiek het gemaak dat hulle nie kon voorberei nie. Julle het nou net vir die wereld gewys dat ons lafaards is.
Beskou die reaksie in Australië as ‘n kompliment vir Bok-rugby.
Daar is geen “venyn” in Aus jeens SA sport nie. Die teendeel is eerder waar.
Die afwesigheid van die Bokke beteken ‘n afgewaterde kompetisie. Eenvoudig.
SA Rugby het op ‘n onbeholpe wyse tot op die nippertjie nog gehink en gepink of sy spelers reg is.
Daar kon tog heelwat vroeër sekerheid oor so ‘n logiese saak gewees het?
Ditto.