Mening: Bulle se harde werk stel uitdaging vir die ander

Marcell Coetzee op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Alles in ag genome, gaan dit goed met die vier Suid-Afrikaanse franchise-spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Die Stormers is tweede op die Verenigde Rugbykampioenskap (VKR) se punteleer, ondanks die deurmekaarspul wat Zelt Marais en sy bestuur agtergelaat het. Dit spreek boekdele van hul afrigter John Dobson en die Stormers-spelers, hoewel die Westelike Provinsie in die Curriebeker nog kleitrap.

En die Sharks se geldelike inspuiting is, soos die Bulls voor hom, deur goeie bestuur en afrigting goed aangewend. Hulle is op koers om uit hul huidige vierde plek die VRK se uitspeelronde te haal.

Selfs die Lions, wat besig is met spanbou en na ʼn sukkel-begin vier wedstryde na mekaar gewen het met ses in totaal, het ʼn klomp jongelinge ontdek wat volgende jaar uit die staanspoor tot hul reg sal kom.

▪ Die fokus van die artikel is egter op die Blou Bulle-rugbyunie se Blou Bulle en die Bulls franchise wat prestasies en doelwitte gestel het wat die ander sal wil navolg.

Tuks se vyfde Varsitybeker-titel Maandagaand bring mee dat elke nasionale titel nou in Loftus se glaskas pryk: Die Curriebeker, die SA o.20-beker, die Super Rugby Unlocked-trofee, die trofee vir die wen van die SA Reënboogreeks, die SARU o.21- en SARU o.19-beker, die huidige SARU o.20-beker, die Varsitybeker en ook die Young Guns-beker.

Maar dié suksesse bring terselfdertyd nuwe uitdagings.

Noord-Transvaal, voordat hulle in 1997 die Bulle en Bulls geword het, het dit eerstehands ervaar. En dit was deur die jare die geval met ál Suid-Afrika se voorste provinsiale spanne.

Die oorheersing deur veral die Westelike Provinsie en Noord-Transvaal, en natuurlik ook die Springbokke, het meer dikwels gebeur. Dit het ook langer as dié van die ander provinsiale spanne geduur, maar is telkens deur tydperke van (soms langdurige) droogte gevolg.

  • Die Westelike Provinsie het byvoorbeeld 16 titels, insluitende twee gelykop-plekke, in die eerste 19 jaar van die Curriebeker-kompetisie gewen. Hulle was ook ses keer agtereenvolgens tussen 1925 en 1936 die kampioenspan. Twee van dié titels is egter gedeel.

Die WP het daarna net 18 verdere titels (twee gedeel) in die 91 Curriebekerreekse sedertdien gewen, insluitende vyf opeenvolgende seges van 1982 tot 1986 wat hul eie SA rekord van 1892 tot 1898 ewenaar.

  • Noord-Transvaal se uitstaan-era was hoofsaaklik onder Buurman van Zyl. Die 11 titels in 14 jaar (twee daarvan is gedeel) tussen 1968 en 1981 is hul suksesvolste era.
  • En die Springbokke het 1997 en 1998 onder Nic Mallett 17 toetse na mekaar gewen en toe in 1999 en 2000 vyf uit ses toetse verloor.

Vandag se base by die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) glo egter hulle hét die lesse van volhoubaarheid geleer.

Dit was uit die staanspoor Strauss se doelwit om die beroeps- en amateurbene van die franchise en die BBRU nader aan mekaar te bring.

Dit het tot dusver geslaag. Die franchise- én provinsiale span was as groep die afgelope drie jaar ongetwyfeld die toonaangewende span in Suid-Afrika, hoewel die span op die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) se punteleer tans net derde van die Suid-Afrikaanse spanne lê.

Hieronder is voorbeelde van wat Strauss se bestuurspan, die afrigters en spelers vanjaar vermag het:

Klubrugby

Die tradisionele taai Carltonliga van die Blou Bulle sal vanjaar weer vir besonderse stryde sorg. Die jongste voorbeeld van hul klubkrag is Tukkies se vierde sege oor die Maties uit die vyf keer wat hulle in ʼn Varsitybeker-eindstryd slaags was.

Vanjaar se Carltonliga sluit in spanne soos Tuks, houer (twee jaar na mekaar) van die Varsitybeker; die vorige Gouebeker-kampioen Impala; die Carltonbekerreeks se 2021-kampioen Abe Midas Naka Bulle, wat twee weke gelede die WP se Durbell met 28-18 en die Natalse kampioen College Rovers met 25-7 verniel het; en Harlequins wat net-net (48-52) teen die KwaZulu Natalse kampioen College Rovers verloor het.

Die ander Carltonbekerspanne is Centurion, Northam Rhinos, Pretoria en Tuine Grizzlies.

Die BBRU moes hul ligas onlangs aanpas omdat van die klubs vyf senior spanne en drie o.20-spanne ingeskryf het teenoor die vier en een/ twee onderskeidelik waarvoor voorsiening gemaak is.

Foto: Twitter via Varsity Cup.

En net soos hul ouboete het UP-Tuks se o.20s Maandagaand ʼn agterstand uitgewis om hul Young Guns-eindstryd teen die Pukke met 22-14 te wen.

▪ Ja-nee, die Bulle se klubrugby is kerngesond. Soos Strauss dit stel: “Ons beroepspanne put gereeld die voordeel daarvan dat ons klubrugby deel van ons waardesisteem gemaak het.”

Die BBRU het vanjaar reeds die volgende op klubvlak bereik:

  • Van die voorste spanne van die Blou Bulle, die Pumas, Griffons, Valke, Luiperds en Oostelike Provinsie het oor die afgelope Paasnaweek aan ʼn toernooi by Pretoria Rugbyklub, Harlequins, (letterlik oorkant die straat van mekaar) en Loftus, sowat 600 m daarvandaan, deelgeneem.

Die toernooi het vier van die land se voorste nie-tersiêre klubs, die Naka Bulle, die KwaZulu-Natalse kampioen College Rovers, die huidige Gouebeker-kampioen Durbell wat ook die WP se kampioenspan is, en die voorlaaste SA kampioenklub, Impala, ingesluit.

Dit het besonder goed met die Carltonligaspanne gegaan. Hulle het net drie van die 16 wedstryde verloor en die ander 13 gewen en die Naka Bulle het met Rovers (25-7) en Durbell (28-18) afgereken.

Strauss-hulle het dit selfs reggekry dat van die Paaswedstryde op SABC uitgesaai is.

  • Van die senior klubs het vanjaar boonop ʼn vrouespan en van die klubs het tot 600 jeugklubspelers (Bulletjie-rugby).
  • Vyf oud-Bokke is by klubafrigting betrokke.
  • Verskeie spelers is reeds uit die klubstelsel gehaal om saam met die gekontrakteerde spelers op provinsiale vlak te speel.
  • Heelparty klubs het hul eie ontwikkelingsklinieke.
  • Verlede seisoen het Harlequins ʼn koshuiskompetisie aangebied. Al die koshuise het egter nie daaraan deelgeneem nie.
  • Meer as 2 000 toeskouers was vroeër die maand teenwoordig by die klubwedstryde tussen Warmbad en Groblersdal.
  • Die Bulle en Bulls se provinsiale- en franchise-spelers is almal by klubs ingedeel. Van hulle speel klubrugby om ná beserings, of ná langerige tydperke sonder provinsiale deelname, wedstrydoefening te kry. Die beroepspelers woon gereeld hul toegewysde klubs se ligawedstryde by.
  • Vier nuwe Township-klubs sal in die Limpopo-ligas deelneem.
  • Die klubs word finansieel deur die BBRU ondersteun.

Skolerugby

Die Bulle se skole vaar tot dusver goed teen oorgrense teenstand, ondanks die neiging dat heelwat van die ander bonde die voorste hoërskoolspelers reeds van o.13-vlak af met beurse, en selfs betaling, lok.

Noemenswaardig is dat Affies die naweek vir Paarl Gimnasium 29-26 geklop en ook die o.14-, o.15- en o.16-wedstryde gewen het.

Junior rugby

  • Die nasionale o.20-hoofafrigter, Bafana Nhleko, het 36 spelers na die SA Rugby Akademie-groep se oefeninge op Stellenbosch genooi met die oog op die uiteindelike kies van die Junior Springbokke. Die Blou Bulle het met 14 spelers die meeste genooides, met 10 van die WP wat ook genooi is.

Dit sluit o.20- en o.19-spelers in en duur van 19 April tot 30 Junie (hoewel nie aaneenlopend nie).

  • Weens die ontwrigting wat deur Covid veroorsaak is, sal daar vanjaar weer nie ʼn o.20-Wêreldkampioenskap wees nie, maar wel weer wedstryde teen oorsese teenstanders in Suid-Afrika.

(Terloops, Nhleko het ʼn klompie jare gelede saam met die huidige Lions-afrigter Cash van Rooyen as deel van die Leeus se sterk sewesspan in Kenia se Safari Sevens internasionale toernooi in Nairobi uitgedraf. Van Rooyen het ook die Opkomende Bokke in sewes verteenwoordig.)

Vrouerugby

  • Die BBRU se vrouespan het ná ʼn aantal gemiddelde, selfs uiters swak, seisoene die afgelope drie jaar skielik weer stem dik gemaak en die 2021-kampioen, Grens, die afgelope naweek oortuigend met 12-0 op Loftus geklop.
  • Drie jaar gelede het die BB-vroue geen Springbokke in hul span gehad nie, nou is daar reeds sewe Bokke!
  • Ook noemenswaardig is die oorwinning wat Tukkies se vroue-sewesspan in die Olavyonne internasionale toernooi in Frankryk behaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.