Mening: Bulle se vreugde en rede vir optimisme vir SA-klubrugby

Foto: Verskaf.

Die invloed wat ’n president en bestuur op ʼn rugbybond se prestasies uitoefen, word maar alte dikwels misgekyk, maar die afgelope drie jaar se suksesse by die Blou Bulle-rugbyunie kan in ʼn groot mate daaraan toegeskryf word.

Willem Strauss het in minder as drie jaar ʼn ommeswaai by die Bulle en die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) teweeg gebring wat die ouer geslag na die verlede laat verlang.

Kyk maar na die goeie jare van die ou Noord-Transvaal onder prof. Fritz Eloff toe die trofeekaste gereeld vol was; na die WP se suksesse onder manne soos Robbie Masson en Jan Pickard; die Goue Leeus-rugbyunie onder veral Louis Luyt, en vergelyk dit met die huidige onsekerhede en verwarring by die Westelike Provinsie.

Kyk ook sommer na wat op Loftus aangaan waar daar tans vier trofeë in die land se belangrikste vier kompetisies pryk: Die Super Rugby Unlocked, die Curriebeker, die o. 21-Kampioenskap se beker en ook dié vir die o. 19’s wat in 2019 gewen is toe hulle laas gespeel het.

Skryf dié sukses toe aan die visie en werkywer van die BBRU se president Willem Strauss. Hy het met bestuurvernuf, beplanning en die verkryging van twee goeie aandeelhouers, ’n uitstekende bestuur wat oor 21/2 jaar opgebou is wat met goeie aanstellings aangevul is.

Met nege uit nege oorwinnings vanjaar op Loftus, sê Strauss: “Die doelwit is nou om deurlopende wenrugby te probeer speel. En op amateurvlak sal ons hard moet werk aan die skade en uitdagings wat die pandemie gebring het.

“Ons sal strategieë instel om ons klubs en verenigings met hul terugkeer by te staan.”

Dit sal inisiatiewe insluit om te verseker dat daar nie spelers verlore gaan wat vir 18 maande nie gespeel het nie en dalk belangstelling mag verloor het, sê Strauss.

Klubrugby

Dit is ʼn probleem waarmee elke klub in die land te make het. En gesonde klubrugby is immers die kern van Suid-Afrika se rugbywelstand en -toekoms.

Dit is waar die spel voortgesit en aan die gang gehou moet word terwyl die sterre op ander ʼn ander verhoog geld verdien en met hul vaardighede skitter

Op klubvlak, soos by die unies en SA Rugby, is daar maar landwyd die kommer oor finansies met die kostes wat voortgaan sonder die inkomste om dit te delg.

▲ By die Blou Bulle is daar algehele optimisme oor klubrugby, met die voorbehoud dat dit goeie beplanning sal kos om die oudstrukture na behore te herstel.

“Ek is ook opgewonde oor Limpopo. Die subunie is gretig om te begin, maar ek voorsien dat van die kleiner klubs ondersteun sal moet word om weer volle effektiwiteit te bereik,” aldus Eugene Hare, uitvoerende hoof van die BBRU wat na amateurrugby omsien.

▲ Dít is ook die siening van, onder andere, die uitvoerende hoof van Griekwas, Arni van Rooyen, en Kat Swanepoel, die man wat na klubrugby in die land se grootste unie se omsien.

▲ “Daar gaan van die klubs wees wat sukkel om te herstel,” meen die hoofbestuurder van klubrugby by die Leeus, Pieter Visser, wat voorsien dat veral van die junior klubs gehelp sal moet word.

Landwyd, so lyk dit, is die gevoel dat die unies se leidende klubs dit sal kan hanteer – ondanks finansiële verliese en die gordel wat vorentoe styf ingetrek sal moet word. Veral in die platteland is daar egter kommer dat die kleiner dorpies se rugbyklubs die stryd om oorlewing sal verloor of lank sal neem om reg te ruk.

Skoolverlaters

Net so belangrik as klubrugby, is die voerband van jong skoolverlaters na die klubs en tersiêre instellings en daarvandaan ook na verteenwoordigende rugby.

Daar is effense kommer dat skoolverlaters van 2020 en einde vanjaar – die sterre én die gemiddelde speler – verlore mag gaan wat ons rugby oor die medium termyn kwaai sal tref.

Hare, is baie positief oor hierdie aspek. “Ons sukses in onlangse nasionale junior kompetisies sal die jong spelers lok,” meen hy. (Die Blou Bulle is die houers van die nasionale titels in die o. 19-afdeling (2019) en die o. 21’s het in 2019 én 2020 die titel gewen.)

Foto: GB Jordaan.

“Ons het boonop twee akademies in ons klubstrukture en twee universiteite: die Universiteit van Pretoria (Tukkies) en die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT). Daar is ook druk van ons jeugklubs om te begin speel.”

Boonop was daar die sukses van die oorgrensliga met 12 o. 20-klubs wat in 2019 deel van die BBRU se klubkompetisies was.

Visser is ook uiters positief oor die terugkeer van klubrugby in dié bond. Hy verwag selfs meer spelers op junior vlak.

Die rede vir dié optimisme? Hy voorsien dat minder skoolverlaters deur Varsitybeker-universiteite nadergetrek sal word en dat daar minder rugbybeurse en kontrakte van universiteite sal wees.

Maar Griekwas se Swanepoel is so effens onseker of die optimisme so groot moet wees.

“Baie van die jong potensiële spelers op skolevlak het die afgelope jaar nuwe stokperdjies gekry of ander sporte begin speel. Ons mag dalk heelwat jong spelers, selfs beginners, verloor.”

Net die toekoms en die pandemie vorentoe sal die antwoorde bring …

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Objektief ·

Na die Black Lives Matter petalje en mevr Kolisi se rassistiese aanmerkings het ek nog nie weer na n rugby telling gekyk wat staan nog n wedstryd.

MakersMark ·

Gelukkig tel niks van die bok kaptein en sy vrou se snert en media praatjies by die Bulle nie hy is ook WP kaptein kyk watse gemors gaan daar aan. Bulle het die jaar ALS gewen. Die wêreld beker leiers was Vermeulen en Pollard en die coach Rassie. Dis hoekom die bokke gewen het.

Genis ·

Kom julle- Natal het verloor, Bulle het nie gewen nie… Julle kan dankie se vir Bosch…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.