Mening: Die Bokke veg Saterdag ook teen die geskiedenis

Dit is maak of breek vir die Springbokke in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus. Foto: Twitter.

Dit het nog nooit gebeur dat die Springbokke die eerste toets van ʼn tuisreeks verloor en dan die reeks wen nie. Om die geskiedenis teen die 2021 Britse en Ierse Leeus om te keer, beteken dit eenvoudig dat die Bokke Saterdag móét wen.

Ja, dit hét darem ʼn enkele keer gebeur dat die Springbokke ʼn reeksagterstand van 0-1 kon uitwis en die reeks van vier wedstryde kon deel. En hulle het ook twee reekse (1903 en 1962) gewen nadat die eerste toets gelykop geëindig het.

Die ses toetsreekse wat die Springbokke op tuisbodem verloor het, het vyf keer met ʼn neerlaag in die eerste toets en een keer met ʼn gelykop-uitslag in die eerste toets begin.

Die verloorreekse was teen die Britse en Ierse Leeus in 1891, 1896, 1974 en 1997, teen die Franse in 1958 en teen die All Blacks in 1996.

Die 1955-uitsondering

Die uitsondering op die reël om ʼn reeksagterstand om te draai, was in 1955. Die Britse en Ierse Leeus het die eerste toets op Ellispark gewen ná die hartseer misskop van Bok-heelagter, Jack van der Schyff, in die laaste oomblikke, met die Leeus wat toe 23-22 gewen het.

Die Leeus het ook die derde toets gewen en die druk was op die Bokke om die reeks te red, wat hulle in die vierde toets met ʼn blink sege van 22-8 gedoen het.

Reekssege ná twee gelykop-uitslae

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Die eerste geval waar ʼn tuisreeks sonder ʼn wen in die eerste toets gewen is, was in 1903. Die span van Fairy Heatlie het toe in die eerste twee toetse teen die Leeus gelykop gespeel voordat hulle die derde toets, en daarmee Suid-Afrika se heel eerste reeks, gewen het. Wéér was die Leeus die teenstanders.

▪ In 1962 het die Springbokke en Britse Leeus in die eerste toets gelykop met 3 elk gespeel voordat Suid-Afrika die ander drie toetse gewen het.

1974 en 1997 se reeksneerlae

Nou wat het in 1974 en 1997 verkeerd geloop?

In 1974 was dit ʼn keurkomitee wat die kluts heeltemal kwyt geraak het teen seker die beste toerspan wat ons land nóg besoek het. Hier is ʼn paar voorbeelde daarvan:

  • In daardie dae (voor plaasvervangers) is daar 34 spelers in die vier toetse gebruik. Dít is gedoen ondanks die vermeende goeie voorbereiding, insluitende verskeie interne Junior Springbok-toere (eintlik maar vandag se SA “A”-spelers), ʼn aangekondigde oefengroep en nasionale proefwedstryde.
  • Baie van die Bokke in die reeks was nie eens in die vroeëre proefspanne nie en sommiges nie eens by die Junior Bokke op ʼn toer nie. Hulle het dus net twee dae voor die toets by die span kon inval.
  • Samespel het onder die gedurige veranderinge gely. Drie losskakels, drie skrumskakels, vier slotte wat in drie pare-kombinasies gespeel het … en nog vele ander snaakse keuses en veranderinge soos ʼn agsteman wat as skrumskakel gekies is.

Die benadering van proewe is al lankal uitgedien. Geldrugby met gepaardgaande vol bepalingslyste sorg dat spelers nie deur klubs/provinsies vrygestel kan word om te gaan proewe speel voordat die sogenaamde “toetsvensters” internasionale spanne toelaat om hul spelers van die klubs te “leen” nie.

Die afrigter moet maar staatmaak op wat hy van die kandidate op televisie kan sien. Bewese oordeel oor kombinasies en die opweeg teen ander kandidate is maar net hier en daar moontlik.

In 1997 was Carel du Plessis die nuwe afrigter. Die Bokke het in die reeks nege drieë teen net drie van die Britse Leeus gedruk, maar kon omtrent geen bal oorskop nie.

ʼn Onverdiende 2-1 reekssege vir die Leeus … met die Bokke se enigste oorwinning in die laaste toets.

Aan die begin

Suid-Afrika, toe nog twee Britse kolonies en twee Boererepublieke voor Uniewording in 1910, het in 1891 én in 1896 onderskeidelik al drie en drie uit vier toetse teen die Britse toerspanne verloor. Dit was ʼn steil leerkurwe wat eers in 1903 begin vrugte afwerp het met ʼn heel eerste reekssege ná die twee reeds genoemde gelykop-tellings in die eerste twee toetse.

Franse skok

Maar dis nie net die Leeus wat ál vier hul reeksoorwinnings (in 1891, 1896, 1974 en 1997) in Suid-Afrika gewen het nadat die Bokke nie die eerste toets kon wen nie.

Trouens, die mees onverwagte, en daarom seker ook die grootste skok, was die reeks van twee toetse wat Frankryk in 1958 op hul eerste toer na Suid-Afrika gewen het.

Om een of ander rede word dit altyd verswyg wanneer daar na Suid-Afrika se reeksseges en hul “enigste drie reeksneerlae (in 1974 en 1997 teen die Britse Leeus en in 1996 teen die All Blacks) in die 20ste eeu verwys word.

Frankryk, teen wie die Bokke voorheen net twee toetse op oorsese toere gespeel het en wat albei ver gewen is (38-5 in 1913 en 25-3 in 1952) het ʼn middelmatige rekord op die 1958-toer gehad en het benewens hul twee toetse ook teen Rhodesië, die destydse Junior Springbokke, die SA Universiteite en vyf saamgestelde provinsiale spanne gespeel.

Voor die eerste toets het hulle Rhodesië en net een van die drie gekombineerde spanne (Oos-Transvaal, Transvaal en Natal) geklop, teen Noord- en Wes-Transvaal verloor, en teen die gekombineerde Vrystaat, Griekwas en Suidwes-Afrika span gelykop gespeel.

In die eerste toets teen Suid-Afrika op Nuweland speel hulle toe met 3 elk gelykop, kry ʼn loesing van 8-38 teen die WP, Boland en SWD se gekombineerde span, verloor teen die destydse Junior Bokke (toe nog ʼn amperse SA “A”-span), en klop die gekombineerde Grens, OP en Noordoos-Kaap span, asook die SA Universiteitespan.

Die skok het toe op Ellispark gekom toe Lucien Mias se onveranderde span van die eerste toets die Bokke – met ʼn volle agt veranderings – voor 50 000 toeskouers met 9-5 klop.

Die Franse se 12 punte in die twee toetse het uit drie skepskoppe en ʼn strafdoel bestaan!

Uiteindelik vir die All Blacks

Die All Blacks het in 1996 hul enigste reeksoorwinning met hul laaste toer hierheen behaal nadat hulle ook die eerste toets gewen het. Trouens, hulle het al drie toetse onder Sean Fitzpatrick gewen.

Die All Blacks het die reekse in 1928, 1949 (met 4-0), 1960, 1970, 1976, en ook in 1986 (as die Kavaliers, wat nie deur die Nieu-Seelandse Rugbyunie as toetse erken is nie) verloor.

Die Springbokafrigter, Jacques Nienaber. Foto: Phill Magakoe/AFP.

▪ Jacques Nienaber-hulle moet ʼn pluimpie kry vir hul beplanning en siftingsproses waar hulle die spelpeil van meer as 200 oorsese spelers van Suid-Afrika, insluitende ʼn hele paar bewese en ook amperse Bokke, in gedagte moes hou.

Ja, hulle is deur die Covid-pandemie gekniehalter, en ja, die voordeel wat hulle sou hê as die toetse in die Hoëveld gespeel sou word, is nou daarmee heen met al drie toetse wat in Kaapstad gespeel word. Maar in die annale sal al dié dinge nie aangeteken word nie.

Hulle móét eenvoudig Saterdag wen!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokkie

Dit was myns insiens ‘n fatale fout om Marcel Coetzee nie by die springbokgroep in te sluit nie. Miskien is daar gevrees dat hy dalk ‘n bedreiging vir die huidige kaptein is.

SwartBees

Of daar nou 26 oordeel foute deur die officials gemaak is of nie, die bokke was laas saterdag hul eie groot vyand op die veld. Ek kan net hoop dat more n beter game gaan wees.