Mening: Klubrugby belangriker, en geldspelers moet help

’n Klubrugbywedstryd ter illustrasie. Argieffoto.

Die verkiesing van Wêreldrugby se voorsitter Sondag is vir Wêreldrugby die belangrikste in jare. Bill Beaumont sal die taak hê om rugby sy plek as wêreldsport te laat behou.

Hier gaan dit ook nie net oor die voorsiene groot verliese wat, ongeag rugby se onsekere hervattingsdatum, deur die Covid-19-pandemie die sport in ʼn nog meer wankelrige posisie geplaas het nie. Rugby is immers al jare in ʼn krisis-situasie, waar die sterkes sterker en ryker word en die middelmatiges swakker.

Die finansiële- en rykdomverskille tussen die Noordelike en Suidelike Halfrond se voorste kompetisies, onderskeidelik die Sesnasies-reeks en die Rugby Kampioenskap, is op die heel hoogste vlak ʼn groot bron van kommer.

Rugby-verwering in Suid-Afrika

Daar is ook (ʼn mens kan maar sê op voetsoolvlak, en verál in Suid-Afrika) reeds ʼn erge verwering van die spel wat die gewone klubspeler van rugby se aantrekkingskrag en genot ontneem.

Bloot uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt beskou, sal ʼn verandering in die status quo, ondanks aanpassings, ʼn verfrissende verandering op internasionale en provinsiale/franchise-vlak wees. Dink net, om nie week-in en week-uit na die Superrugby-eentonigheid hoef te kyk nie!

Maar sal Wêreldrugby se veranderinge ons rugby op plaaslike vlak gesond maak? Die erge finansiële verliese wat SA Rugby, miskien in mindere mate as Australië, Engeland en Nieu-Seeland te wagte is, maak die drastiese verkleining van ons eie aantal beroepspelers onvermydelik.

Jake White het reeds by die Blou Bulle daarmee begin, en by die ander franchise’e word soortgelyke besnoeiing verwag, en ook die bedanking van spelers verwag wat hul heil elders wil gaan soek. (Nie dat daar veel groter inkomste oorsee verwag word nie. Dáár is maar self groot finansiële probleme.)

Die gevolg van die minder geld beteken ook dat veel, veel minder spelers in Suid-Afrika reeds op skool gekontrakteer sal word. Die uitblinkers wat ernstig is om groot rugby te wil speel, sal nie meer ʼn direkte paadjie van die Cravenweek tot die franchise’e se geldkoffers hê nie. Trouens, dit sal oor unies se beskikbare geld gaan by die kontraktering van provinsiale spelers vir die junior spanne.

Hulle sal toenemend deur die klubstrukture moet kom; meer van die skoolverlaters sal moontlik die paadjie van provinsiale rugby voor bevordering na beroepsrugby moet loop.

Blou Bulle se voorsprong

En hier loop die Blou Bulle onder leiding van hul president Willem Strauss straks voor met die versiende instelling van die oorgrensliga verlede jaar waaraan die voorste spanne van die Blou Bulle, Luiperds, Valke en Limpopo deelgeneem het.

Sy uitgangspunt met die liga en siening van rugby in Suid-Afrika was tóé reeds “om ons voederstelsels te ondersteun, anders gaan die spel geweldige probleme tegemoet”.

By die Blou Bulle is die groot beplanning steeds, ondanks die pandemie, aan die gang om voort te bou op verlede jaar se blink inisiatief wat klubrugby, ook in die buurbonde, ʼn tamaai hupstoot gegee het met die doel om spelers vir die beroepspanne uit die klubs te kweek.

Op junior vlak was daar ʼn intense en strawwe o. 20-liga wat sy vrugte gepluk het toe die Blou Bulle die nasionale o. 19- én 0. 21-liga gewen het en boonop ʼn verstommende 82 spelers aan die 14 bonde vir die nasionale o. 19- en o. 20-liga gelewer het.

Uit hierdie klubspelers het Ethan Wentzel (Centurion) die SA o. 19-span gehaal. Van die seniors het Hencus van Wyk (Naka Bulle) vir die Britse Barbarians gespeel; Fred Eksteen (Tuks) is gekies vir die Blou Bulle se Curriebekerspan; en Ig Prinsloo en Christopher Hollis, albei van Naka Bulle, is vir die OP Kings uit die Bulle se oorgrens Volcano Super- en Trofee-kompetisies nadergetrek. (Daar was ses klubs in elke kompetisie, elk met drie senior spanne en ʼn o. 20-span.)

♦ Dinge sal ongetwyfeld ná die pandemie en die gevolglike geldelike inkorting op alle vlakke verander, maar die Blou Bulle se vyf professionele klubs het verlede jaar reeds saam R12 miljoen aan spelers uitbetaal en werk aan sowat 70 mense verskaf.

Beroepspelers moet betrokke raak

Strauss se bekendmaking van verdere goeie nuus “om die klubs weer relevant te maak” is nou egter tot later uitgestel.

Dít sal grootliks help om vele probleme op te los wat, myns insiens, die gevolg is van die verwydering tussen Suid-Afrika se rugbymense – die ondersteuners, klubs, selfs provinsiale beamptes en ons beroepspelers.

En hier maak ek nie voorspraak vir die afskaffing van die beroepstelsel en ʼn terugkeer na amateurdae nie. Allermins.

Ek sou egter ʼn nouer band tussen die beroepspelers en die amateurstrukture wou sien. Dit sal beroeps- én amateurrugby tot voordeel strek.

Waar is die dae toe jy in Pretoria in die middestad op straat sommer ʼn praatjie met die legendariese Noord-Transvaalse kaptein, Thys Lourens, kon aanknoop? Of saam met Wynand Claassen ʼn bier in die ou Xanadu Hotel kon drink pas ná hy as die Ligbloues se kaptein aangewys is? Of as koerantman saam met die Ligbloues, toe hulle in Worcester speel, op ʼn bus na Bolandse plase gery het met die Springbok-stutlegende van die sestigerjare, Chris Koch, as gasheer?

Waar is ons beroepspelers?

Hoeveel van ons beroepspelers sedert 1996 het al voltyds klub- of skoleafrigting gedoen, of selfs net klubrugby gekyk?

Ja, daar is ʼn handjievol nasionale spelers wat spesialisafrigting op beroepsvlak doen soos Vlok Cilliers, Robbie Kempson, Daan Human, Braam van Staden, André Pretorius, Rassie Erasmus en tot laas jaar ook die Bulls se stut Matthew Proudfoot wat vir Skotland gespeel het, maar benewens Proudfoot (Pukke) het hulle nie eintlik by klubrugby begin nie.

Waar is die ander voormalige beroepspelers uit die franchise’e?

En hoeveel van die spelers uit die franchise-era het ooit in die jaarlikse Goue Oues-toernooi gespeel wat in die 1980’s uit die Kaapstadse ouman-liga ontstaan het? Daar het tot 75 spanne van manne van 35 en ouer jaarliks by die gewilde toernooi saamgetrek en het jy, benewens talle voormalige provinsiale spelers, ook gespeel teen en saam met oud-Springbokke soos Thys Lourens, die twee stelle Bok-broers Ian en Roy McCallum en Joggie en Eben Jansen, Louis Moolman, die Natalse Springbok Tim Cocks, Willie Kahts, Junior Bokke soos Bossie Clarke, Tommy Symons en Piet Niemann ….

Op administratiewe vlak is daar ook maar weinig van die groot verdieners vanaf 1996 in ons franchise-spanne. Daar is Rudolf Straeuli van die Lions, Eduard Coetzee van die Sharks, Kempson van die Kings …

Ek het hierbo verwys na die “erge verwering” wat die gewone klubspeler van deelname aan die spel en die gepaardgaande genot in Suid-Afrika ontneem. Dis nie die geval in Nieu-Seeland en veral die VK nie, waar honderde van hul meer as 200 klubs ook liga’tjies het waar van onder 8’s tot die ouer manne weekliks in groot getalle hul ding doen. Dis aktiewe klubs, met funksies, met so drie of vier kort toertjies na klubs in ander streke en goeie afrigting, en goeie ondersteuning van die spelers se gesinne.

Gaan kyk gerus na hoeveel oudspelers van die Sesnasies, veral in Engeland, op hul klubkomitees dien (wat eintlik maar met ons franchise’e vergelyk kan word).

Klubbesoeke

Dit sal gaaf wees om meer manne soos oud-Bokke Kaya Malotana, Jacques Potgieter en Bevin Fortuin en die voormalige Blitsbokke-kaptein Jonathan Mokuena op klubvelde te sien afrig. En ook om waar te neem watter entoesiasme en opgewondenheid ʼn Springbok se besoek aan ʼn klub by die spelers tot gevolg sal hê – soos in 2000 toe Springbok-kaptein André Vos en Bok-heelagter/vleuel Thinus Delport as niespelende lede van Wes-Rand Harlequins, en Kobus Wiese dikwels by Pirates, kom kuier het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiepie ·

Rugby kan gaan kers opsteek by Indoor Hockey as dit by ontwikkelling kom. Hulle huidige- en voormalige nasionale spelers word elkeen ‘n klub of franchise toegeken vir wie hy/sy verantwoordelik is en waarby hulle betrokke moet wees. Dit doen wondere vir die spel.
Maar sekerlik ook net as die spelers dit vir die liefde van die spel en nie vir die pay cheque doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.