Mening: Krapperigheid en vrae oor rugby wêreldwyd

Die bywoningsyfers is nie meer te watswonders nie. (Foto: WP Rugby)

Is rugby as sport in die moeilikheid?

Onteenseglik, ja. Terwyl die beheerliggaam Wêreldrugby alles in sy vermoë doen om rugby as wêreldsport uit te brei en al hoe meer lande se mans en vroue in al hoe meer niksseggende kompetisies speel, is die (gevorderde) tekens reeds daar dat rugby aan ’t verander is en sy gewildheid toenemend afneem.

Toeskouersgetalle neem in alle rugbyspelende lande af en selfs van die voorste rugbylande sukkel om kop bo water te hou; skandale en omstredenhede skud toenemend die bestuur en spanne van die voorste lande soos Engeland, Australië, Frankryk en Suid-Afrika; en die groot dreigement van totale oorname van wêreldrugby deur die beleggingsreus CVC Capital is reeds in wording met sy groot beleggings in veral Engeland se rugby.

Daar is (klaarblyklik realistiese) vrese dat dit tot ʼn totale oorname van die beheerliggaam Wêreldrugby en ook die bestuur daarvan sal lei.

Dié negatiewe dinge is te veel om in een artikel te behandel, maar die tasbaarste ding wat kwel, is bywoning van die wedstryde (soos uitgewys word deur TV-kykers wat self nooit by die veld is nie, maar alte graag vinger wys na die leë pawiljoene). Dit is immers die maatstaf om die liefde vir die spel te meet.

Bywoning van wedstryde

Die voorste span in die geskiedenis van Superrugby, die Crusaders, se tuisveld huisves net 17 400 toeskouers. Maar verlede jaar, ʼn dag voor hul Superrugby-eindstryd teen die Jaguares, was daar nog 900 onverkoopte kaartjies.

Óók verlede jaar in Canberra het die Aussies se voorste span, die Brumbies, hul tweede laagste toeskouerbywoning nóg in 24 seisoene gehad met net 8 509 toeskouers wat gemiddeld na hul Superrugby-wedstryde kom kyk het.

Luiheid van toeskouers? Die koste wat te hoog is? Te veel rugby? Wie weet…

Meer mense, en dit word grootliks toegeskryf aan ʼn groter bevolking, kyk in Suid-Afrika op televisie na Superrugby as wat in Nieu-Seeland en Australië die geval is.

Die swak wedstrydbywoning in Suid-Afrika en Australië, meen baie, is die gevolg van Nieu-Seeland se oorheersing. Tog bly die internasionale belangstelling in die kompetisie hoog, en kyk net soveel mense op televisie in die VK as in die Sanzaar-lande na Superrugby.

♦ Interessant is dat die gemiddelde bywoningsyfer van wedstryde in die Engelse Premierliga verlede seisoen (2018-’19) slegs 14 083 was; dié van die Franse Top14-reeks 13 881 per wedstryd; en die Pro14 is 14 816 per wedstryd.

Die Guinness Pro14-reeks. Foto: ANA.

Die laagste gemiddelde bywoning in die Premierliga verlede seisoen was die 6 586 per wedstryd van die Sale Sharks, waar Faf de Klerk en ʼn klomp ander Springbokke soos die drie Du Preez-broers, Robert, Jean-Luc en Dan, Rohan Janse van Rensburg, Lood de Jager, Akker van der Merwe en Coenie Oosthuizen die seisoen speel. Die voormalige Bulls-losvoorspeler Jono Ross is die span se kaptein wat slegs 8 535 toeskouers per wedstryd, óók die liga se minste, by die veld gehad het.

Let daarop dat die veel kleiner toeskouerkapasiteit van veral die Engelse klubspanne (in Ierland en Skotland speel hul Pro14-spanne dikwels op die toetsvelde) dit op televisie natuurlik veel voller laat lyk weens die kleiner pawiljoene.

Maar daar is kommer in Engeland. Die twee halfeindstryde tussen Saracens en Gloucester en Exeter en Northampton is onderskeidelik deur net 9 568 en 12 577 toeskouers bygewoon. Maar alle ondersteuners is naby vir die eindstryd wat gelykstaande aan die Superrugby-eindstryd is, en 75 000 toeskouers het by Twickenham opgedaag!

Boonop is die hele Engeland, waar die Premierliga gespeel word, nie eers drie keer so groot as Gauteng nie, maar daar is 67 miljoen mense wat oor klein afstande na hul 14 klubs (die ekwivalent van Suid-Afrika se vier Super-franchise’e oor die veel groter Suid-Afrika) hul spanne kan gaan ondersteun.

Die reeks om die Europese Kampioenebeker, wat stellig die sterkste klubkompetisie ter wêreld is, en waaraan die voorste 20 spanne in die Premierliga van Engeland, die Pro14-liga waar spanne van Wallis, Skotland, Ierland en Italië deelneem, het in 2018-’19 net 13 061 toeskouers per wedstryd getrek.

Superrugby se bywoning in 2018 het net 12 879 mense na die velde gelok. Dit is 20,81% minder as in 2017. (Die syfer vir 2019 is nie bekend nie. Sanzaar gee nie sommer bywoningsgetalle nie; seker uit vrees dat hul borge sal onttrek).

Die Suidelike Halfrond se bywoningsyfer steek maar sleg af teen dié van die Sesnasies. Die vier lande van die suide se Rugbykampioenskap kan nie kers vashou by die korter Britse en Ierse afstande nie. Hier is die ses deelnemende lande in die Noorde naby mekaar, wat dit goedkoper en makliker vir oorgrens‑toeskouers maak om toetse by te woon by groot stadions soos die Millennium-stadion, Twickenham en die Aviva-stadion.

Skandes en omstredenhede

Daar was Cheeky Watson en sy skelmstreke by die OP Kings; die verleentheid van hoe die WP Rugbyunie onverklaarbaar ʼn goeie en welgestelde onderneming geskaad het wat selfs gelei het tot die onvermoë om hul spelers en werknemers te betaal; die feit dat die SA Rugbyunie (Saru) in Desember sy mees onlangse jaarbegroting tot net drie maande moes inkort weens finansiële onsekerheid; die skorsing van Hein Mentz, voormalige president van die Mpumalanga Rugbyunie uit Saru se uitvoerende bestuur en alle ander komitees weens ʼn oortreding van die gedragskode; die Bolandse president Ivan Pekeur wat weens oortredings van die gedragskode en weens beweerde rassistiese optrede deur die Sport Employees Unite by Saru aangekla is; en Saracens wat verlede week uit die Premierliga geskors is omdat hulle die afgelope drie jaar die betalingsplafon vir spelers oorskry het – en toe versuim het om daarby aan te pas ondanks die feit dat hulle verlede jaar deur die Premierliga met sowat R99,8 miljoen en 35 ligapunte beboet is.

Baie van die genoemde probleme – en daar is nog vele – kan nie sommer net so omgeswaai of reggemaak word nie.

Reuse-belegger die vernaamste bedreiging

Maar die heel grootste bedreiging vir die sport, en veral die lande wat sukkel om hul spelers te behou, is die ernstige toetrede van CVC Capital tot die rugbywêreld.

CVC is goed op pad om rugby se grootste borg te word met beleggings van £300 miljoen (sowat R5,6 miljard) vir ʼn 15%-aandeel in die Sesnasiesreeks; hulle het tans ʼn 27%-aandeel in die Premierliga en is ook besig om 27% van die Pro14 hulle s’n te maak.

Terwyl dit op die oog af na goeie nuus vir die kompetisies, nasionale lande en dus deelnemend spanne lyk, is CVC se mediumtermynstrategie daarop gemik om die kommersiële regte te bekom soos hy met die oorname van Formule Een in 2006 gedoen het. Twaalf jaar later is Formule Een deur hulle teen ʼn wins van 400% verkoop.

As hulle beheer oor die genoemde kompetisies verkry, beheer hulle rugby in die Noordelike Halfrond.

Die noorde se rugbybase (duidelik nie die besluitnemers tot dusver nie) is bekommerd dat CVC se eerste doelwit sal wees om hul inkomste te maksimaliseer. Die algemene gevoel is die spel se welvaart is nie noodwendig op hul agenda nie.

Dit is reeds duidelik uit CVC Capital gerapporteerde onderhandelinge met die noorde se rugby oor ʼn nuwe toernooi wat glo die jaarlikse wedstryde tussen suidelike en noordelike lande sal vervang. Volgens The Rugby Paper sal die toernooi £750 miljoen (sowat R14 miljard) oor vyf jaar se inkomste beteken.

Wie die ontvangers sal wees, hoe die toernooi daar sal uitsien sou dit werklikheid word, en hoe die geld verdeel sal word met die tweedevlak‑ en laer lande wat stellig uitgesluit sal word, is nie duidelik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Petrus

n mens kan in n mate verstaan , hoekom mense nie meer na die stadions toe gaan nie , as mens kyk na Emirates Park , is die parkering in die eertse plek nie veilig nie , en wat nog van die pryse wat vir die rugby kaartjies gevra word , dis belaglik as mens moet dink dat sokker kaartjies se pryse R50 is maar rugby kaartjies is dubbel soveel selfs meer , en kyk dan hoe vol is die sokker staduims , wat nof te se van pryse vir eet en drink goed by die rugby , geen man… Lees meer »

Stefan

Rugby liefhebbers is nie onnosel nie. Ons sien hoe die kwaliteit rugby en skeidsregters agteruitgaan .
En nou kan die rubriekskrywers en dies meer hulle maar slim hou, die rede is dat die kwota wetgewing veroorsaak dat ons bestes oorsee is. Jip, die geld is meer oorsee maar die oorspronklike rede vir weggaan lê by die gedwonge kwotas.
Vrydag en Saterdag begin die Super rugby . Ek wil dit nie sien nie en gaan lekker lyn natmaak langs die dam.

Ruan

Soos Petrus sê, dis te duur. Klein pakkie chips en ‘n koeldrank (bottel want hul het nie blikkies nie) Kos jou ‘n plaashuis vol geld. As jy ook vat hoe baie mense van ‘n biertjie hou terwyl die rugby aan is en dan mag jy dit nie op die pawiljoen drink nie. Of ek in die biertent drink en of dit op pawiljoen is is presies dieselfde. Al daai goedjies moet in ag geneem word. Ek het verlede jaar my pa rugby toe gevat op Loftus en glo dit of nie, met die kaartjies en parkering ingesluit, het dit my… Lees meer »