Mening: Min lig in rugby, krieket se geldtonnel

SA Rugby. Foto: verskaf.

Suid-Afrika se twee gewildste sportsoorte op internasionale vlak trek swaar… sommer baie swaar.

Rugby is wêreldwyd in ʼn geldknyp. En in Suid-Afrika is ons krieket in ʼn gemors waaruit hulle moeilik sal ontsnap.

Kom ons kyk eerstens na Suid-Afrikaanse rugby en ook die situasie wêreldwyd.

Rugby

SA Rugby het in 2018 darem ʼn klein winsie van R5 miljoen getoon. Dit is veel beter as die verlies van NZ$1,9 miljoen (sowat R18,2 miljoen) van die New Zealand Rugby Union (NZRU). Boonop maak die NZRU hulle klaar vir ʼn geprojekteerde kumulatiewe verlies van NZ$30 miljoen (R285 miljoen) oor die volgende vyf jaar.

Die Kiwi’s se posisie is darem nie benard nie, want hulle teer nog op die winste van die 2017 Britse en Ierse Leeus se toer. Die werklikheid is egter dat die jaar-tot-jaar-rugby, onder meer, die Super Rugby-reeks, die inkomende Julietoere en die jaareindtoere, nie standhoudende inkomste sal lewer nie.

Dit gaan net so beroerd in Brittanje. Hul bywoningsyfers is, soos in die Suidelike Halfrond, ook nie waffers nie, en die Premiership Rugby Ltd. het ʼn minderheidsaandeel (27%) vir £200 miljoen (sowat R327 miljard) aan CVC Capital Partners verkoop. CVC is die voormalige eienaars van Formule 1.

Die 12 Engelse klubs het verlede jaar gemiddeld elk sowat £3 miljoen (R56 miljoen) verlies gemaak en maak staat op hul eienaars om kop bo water te hou. Die Wasps se Derek Richardson het byvoorbeeld reeds sowat £20 miljoen tot die klub bygedra. Dit is egter veel minder as die miljoene wat Saracens se eienaar, Nigel Wray, die afgelope 20 jaar aan sy klub bestee het.

Dit lyk of CVC binnekort ook ʼn aandeel in die Sesnasies-reeks sal bekom.

Dit sal rugby wêreldwyd verander, ongeag die voorgenome “wêreldreeks” wat nog ʼn moontlikheid is. Of Engeland dááraan sal byt vir die groot geld wat CVC in die Sesnasies sal instoot, en ook omdat Engeland teen die Sesnasies-relegasie en -promosie is, sal egter gesien moet word.

Krieket

 As mens bietjie verder lees, dan wonder jy hoekom daar met ʼn produk volgehou word waarvoor daar vir baie groot verliese oor die volgende vier jaar geprojekteer word.

Goed, dis die taak van Suid-Afrika se krieketbeheerliggaam, Cricket South Africa (CSA) om krieket in die land aan die gang te hou, maar ʼn verlies van R350 miljoen oor die volgende vier jaar maak mos nie sin nie?

Die CSA het besluit dat provinsiale krieket in die land vanaf ses na 12 spanne vermeerder sal word.

Krag teen krag sal uiteraard in die slag bly, al word dit ontken, en die huidige krieket-franshise’e sal verdwyn.

Dit gebeur in 2020.

Tans bestaan die krieketlandskap uit die ses franchise’e (Cape Cobras, Warriors, Dolphins, Knights, Highveld Lions en Titans) en 14 semiberoepspanne, die Westelike Provinsie, Boland, Suidwestelike Distrikte, Oostelike Provinsie, Grens, KwaZulu-Natal, KwaZulu-Natal Binneland, die Vrystaat, Noord-Kaap, Gauteng, Noordelikes, Oostelikes, Noordwes en Mpumalanga.

Hoekom word dit gedoen? Oor geld. Of liewer, oor groot verliese.

Die geprojekteerde verlies van R650 miljoen oor die volgende vier jaar sal hopelik na ʼn verlies van R350 miljoen verminder word. Sal dit ooit weer in ʼn wins omskep kan word? Wanneer? En hoe sal dit ons krieket se gehalte beïnvloed?

Daar word swaar gesteun op die Mzansi Superliga (MSL), die T20-kompetisie wat vanjaar die eerste keer gespeel is en geskoei is op die IPL, om sake te help regruk.

Die realiteit is egter dat die MSL self ʼn yslike verlies tot gevolg gehad het. En ook dat soortgelyke kompetisies, met enkele uitsonderings, geldelike verliese elders tot gevolg het, met die winsgewende IPL darem hiervan uitgesluit.

Die nuwe krieketstruktuur sal ook tot gevolg hê dat die huidige franchise-spelers minder betaal sal word.

ʼn Uittog van ons beste spelers na groener weivelde elders is voorsienbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Judge Dredd ·

Ons sport to BEE or not to BEE verrig natuurlik wondere.

Boesman ·

Met rugby wat nou professioneel is in Noord Amerika, Asia, Spanje, Duitsland en ‘n hele paar ander lande sal die uitvloei van spelers uit tradisioneel sterk rugbylande net groter word. Dit gaan SA rugby ook raak.

Boland ·

Noem dit by die naam.KWOTAS
Julle dink seker nie mense wil vir kwota spanne kyk nie.

Marcus Schätzle ·

Ekskuus, maar ek kom uit Duitsland en moet altyd onthou dat hier Rugby gespeel word. Die nasionale span het al weer nie vir die Rugbywêreldbeker gekwalifiseer nie. Daar is niks wat daarop dui dat Rugby hier eendag ‘n populêre sport word nie. Dis baie ver van sokker en selfs tennis en ander.

Basjan ·

Marcus, daar is Suid Afrikaners wat semi-professionele rugby in Duitsland speel, asook in Nederland en België. Vandaar soek hulle vir professionele geleenthede in Italië en Frankryk. Buitelandse afrigters is ook aktief in Duitsland. Rugby is seker onbekend in Duitsland, maar hulle het verlede jaar baie goed gespeel teen Samoa. Daar is potensiaal, maar benodig meer geld. Die groot manne wat meer as 110 kg weeg kan ook nie sokker speel nie, so rugby is ‘n goeie alternatief.

marco polo ·

Vandat al die knoeiery in krieket uitgekom het, en daarna ook kwotas ingestel is, doen ek nie eens die moeite om krieket te volg nie, wat nog te se van kyk. Rugby is volgende.

Regs! ·

Die kwotas gaan maak dat die SA span in internasionale wedstryde teen SA spelers gaan verloor. Ek kry sooooo lekker wanneer blanke spelers nie “goed” genoeg is vir ons land nie maar dan speel hulle top posisies los in ander lande! Mense moenie kla oor ons swak sport spanne nie. Hulle verteenwoordig slegs die swak land!

Hendrik UAE ·

SA se grootste bydraende faktor is politieke inmenging.Al is dit dalk nie waar nie, voel dit as of ons na minderwaardige spelers kyk wat nie mas opkom nie. Veral die rugby toeskouers het vroee waarskuwings uitgestuur dat stadions sal leegloop sodra kwotas afgedwing word.Maar nee ore was min.

Leon ·

Dit gebeur maar oral waar politiek sy sê in sport kry. dan gaan alles tot niet

willem Botha ·

Rugby is besig om uit te sterf met die ,kwotas sisteem en multichoice se boikot kan ek nie onthou waneer ek laas rugby gekyk het nie en stoere rugby ondersteuners vertel my dieselfde.

Vintcent ·

Die ANC se aanslag teen alle voormalige Afrikanervestings is baie geslaagd. Met hulp uit “eie” geledere is dit net soveel vinniger en makliker.

Boer ·

Wel Multichoice se anti-Steve veldtog gaan wereld Rugby defnitief nie aanhelp nie .

JaNee ·

Kyk na beide rugby en krieket – hoe baie leë sitplekke daar is by elke wydstryd. Mense gaan nie meer soontoe nie. Dan ook die politieke inmenging – maak dat mens niks meer belang stel nie. Kyk die Springbok embleem wat so te sê verdwyn het – weereens die ANC se inmenging. Kry vir julle.

Steyn ·

Met die huidige prysse van kaartjies en versnapperings by stadions en dan nog die uitbuit van karwagte teen R100 n kar bly ek liewer by huis. Die dae toe jy 3/4 voorwedsrryde gesien het voor hoofwedstryd het mens darm waarde vir geld gekry.

rollie ·

Dis te veel, mense raak GV van te veel. Daar is net beter dinge om te doen as om na ‘n klomp wedstryde oor ‘n naweek te kyk. Ek self vind dit moeilik om selfs een wedstryd volledig te kyk. Ek probeer darem tyd maak om toetse te kyk.

X Games ·

Die begin van die einde van supervervelige rugby en krieket! Net histeriese kommentators raak nog opgewonde. Die pawiljoene is al lankal leeg en nou skrik iemand wakker. Die Springbok is terminaal siek en dalk kan die wereldbeker sy einde verhaas!

Anoniem ·

Die professionele era in sport waar dit net oor geld gaan het sport vir ewig vernietig. Dieselfde wat nou in rugby en krieket aan die gang is, gaan binnekort ook in sokker gebeur. Hoe regverdig jy dit om ‘n sokkerspeler 250 000 pond per week te betaal? Hoekom is ons rugby en krieket stadions leeg? Buitensporige kaartjie kostes maak dit vir ‘n gesin van bv 4 mense onmoontlik om wedstryde by te woon.

ChrisE ·

Ek wil nie bitterbekkig klink nie, maar wanneer jy iets doen vir enige rede anders as om te geniet en vir die liefde daarvoor, gaan die aktiwiteit naderhand nie meer aantreklik wees nie. “Professionaliteit” het die spel stadig maar seker dood gemaak. Die spelers as sulks is nie daarvoor skuldig nie, dit is die agterryers, meeplopers, kripvreters en aasvoëls wat daartoe bydra. Hoeveel agter die skerms personeel is daar om na ‘n speler of span om te sien. Van dieet tot sielkundiges en wat nog alles. Ek is bevrees te veel van ‘n goeie ding is nie goed nie.

Wesley ·

Jys reg Chris, dit is so, maar hoe lekker het dit nie geword om vinnige en uiters vermaaklike sport week in en week uit 52 weke in n jaar te kyk nie? Ons het gretig geword, en mense wat wou geld maak het n gaping gesien. Kos ook geld om HD kameras te mik na die aksie met “swooping graphics” en “live stats”, asook opgetofte ateljees met ou legendes vol te maak. Dis ons skuld. Ons het vir dit gevra en sodoende als op geeet soos soetkoek. Dowwe beeld en rowwe klanke uit n ou boks-tv of draadloos was nie genoeg nie.

As jy wil sport gaan kyk en geniet vir passie en liefde, gaan kyk klub sport of skole o14.

Wesley ·

Mense wat deur Steve gevra is om hul DSTV in sy merrie in te ry, maar wat nog lief is vir sport, kan dalk begin die stadions vol maak. Waar anders gaan hul nou begin kyk?

Die skrywer eindig sy mening af met “groener weivelde”. Waar is die groen in die rugby landskap? Almal is diep in die skuld, en net as jy uiters uiters goed is in jou beroep, sal jy oorgeroep word in die hoop jou naam bring weer meer geld in. Anders moet jy maar vir Duitsland of Indie rugby gaan speel, waar hul enigeiemand vat met die van Botha of van der Merwe.

Basjan ·

Major Rugby League in Noord Amerika maak vordering en heelwat Suid Afrikaners is daar. Global Rapid Rugby in Asia skop volgende jaar af en die geld lyk goed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.