Mening: Moet die Bokke met dié uitdagings vanjaar reeds toetse speel?

Jurie Roux. (Foto: Twitter)

Dis seker nou effens minder so as ʼn week gelede, maar Suid-Afrikaanse rugby op alle beroepsvlakke en ook dié van die nasionale span, wissel steeds tussen onsekerheid en ʼn onvermydelike raaiselspeletjie.

Daar is nou darem al datums oor wanneer internasionale rugby vanjaar gespeel mag word, en ook datums vir die voltooiing van 2019‑’20 se PRO14, die Engelse Premierliga en die 2020‑Sesnasies-toernooi se laaste ronde.

Maar benewens die bevestiging dat die British and Irish Lions, soos hulle amptelik heet, aanstaande jaar steeds in Julie 2021 op hul toer van agt wedstryde hier sal wees, is heelwat nog vir Suid-Afrikaanse rugby onseker en wat sekere aspekte betref, buite hul beheer.

Nie eers Wêreldrugby se toetsvenster van 24 Oktober tot middel Desember waartydens die Rugbykampioenskap kan plaasvind, bring sekerheid nie.

Kyk maar na ʼn klompie van die sake waaraan SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, as koördineerder, tussenganger en soms ook as besluitnemer, aandag moet gee – en dan praat jy nie eers oor die land se ses franchise’e, die twee opkomende franchise’e en die gewone provinsiale unies wat boonop ook self met hul eie huishoudelike probleme worstel nie:

  1. In die Superrugby-reeks en Sanzaar se Rugbykampioenskap baklei die twee grotes van Australasië, New Zealand Rugby (NZR) en Rugby Australia (RA), oor hoe hulle sonder Suid-Afrika sal voortgaan.

Dié twee lande se wegbreekplanne raak Suid-Afrika op finansiële en rugbyvlak. En daar kan ook regsgevolge wees.

Roux het weliswaar in ʼn virtuele perskonferensie dit duidelik gemaak dat Suid-Afrika nie by die Superrugby-reeks uitgewerk is nie. Dit is glo bloot die beperkinge van die Covid-19‑regulasies wat Suid-Afrika uit aanstaande jaar se Superrugby-reeks sal hou en daar is ʼn ooreenkoms dat die vier Sanzaar-vennote in 2021 hul eie kompetisies kan hou.

SA Rugby se besluit en optrede na aanleiding van hierdie Australasiese planne, ingesluit dagvaardings oor die verbreking van ooreenkomste met NZR en RA wat glo dalk ter sprake kan kom, verg ongetwyfeld aandag en tyd.

  1. Daar is benewens die televisieregte wat tot 2024 geld en waaruit die deelnemende Sanzaar-lande kan put, ook die wesenlike gevaar dat die betrokke TV-stasies dalk regsaksie kan neem oor die eensydige opskorting van die Sanzaar Superrugby-reeks.
  2. Die PRO14-dilemma is baie nou verweef met die Sanzaar-kwessie. Hier gaan dit oor die onderhandelinge rakende die verkose voorkeur uit die vele opsies, sou SA Rugby besluit om voortaan in die Noorde te speel. Maar daar is boonop die kwessie van wie van Suid-Afrika se ses franchise’e in die huidige PRO14-reeks gaan speel. Dit hang af van met hoeveel spanne dié Europese reeks se base hul kompetisie wil versterk.

Die hoofraad van SA Rugby wat uit 27 lede van die 14 unies bestaan (Grens het geen stemreg nie omdat hy deur SA Rugby bestuur word), sal in Augustus besluit oor die PRO14 se deelnemers na gelang van die grootte van die nuwe kompetisie. Elke unie se president en uitvoerende hoof het stemreg op die hoofraad.

  1. Gesprekvoering met Sanzaar en Nieu-Seelandse en Australiese rugbybase oor die Rugbykampioenskap wat van 7 November tot 12 Desember, waarskynlik in Nieu-Seeland, gespeel sal word, is natuurlik van die allergrootste belang – en uiteraard is die insette van die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, wat ons later hieronder sal bespreek, die basis vir Roux se gesprekke.
  2. ʼn Belangrike fokus van Roux sal die interne kompetisie einde vanjaar wees waarin Suid-Afrika se agt deelnemers (hopelik) vanaf vroeg in September eenvoudig móét speel sodat die Bokke in Suid-Afrika darem so ʼn proeseltjie wedstrydtyd voor die beoogde Rugbykampioenskap kry.

Die vraag is: Is vroeg in September vir die reeks hoegenaamd haalbaar?

Selfs al gee die regering dié week nog die groen lig, is vyf, ses weke te min om ʼn span behoorlik fiks te kry en te slyp.

Argieffoto ter illustrasie.

Die Vrystaat, Westelike Provinsie, Sharks, Blou Bulle, Goue Leeus, Kings, Griekwas en die Pumas sal hieraan deelneem, of dit nou (hopelik!) om die Curriebeker is of in SA se eie Superrugby-reeks.

Elders in die wêreld is daar ook binnegevegte en ook onsekerhede oor bepalings en oefeninge.

Australië is onvergenoeg oor die Kiwi’s se voorkeuropsie om net twee Aussie-spanne in Nieu-Seeland se 2021‑Aotearoa-kompetisie in te sluit. Die Aussies wil vier spanne in die reeks hê.

Geoordeel aan die middelmatige gehalte van Australië se huidige eie “Superrugby-reeks” wat tans plaasvind, sal vier van hul spanne weinig tot Nieu-Seeland se 2021-reeks bydra. Die Kiwi’s se doelwit is immers om deurentyd krag teen krag te hê, anders as wat Superrugby die afgelope jare gebied het.

En hierdie krag-teen-krag‑beginsel is op geen onduidelike wyse in die huidige Aotearoa-reeks uitgebeeld nie:

  • Die Blues het die Hurricanes in hul eerste wedstryd met 10 punte geklop en die bordjies is in die tweede wedstryd deur die Hurricanes verhang wat met twee punte gewen het.
  • Die loesing van 20 punte wat die Highlanders in die tweede ronde tuis teen Crusaders gely het, is verlede naweek gewreek toe hulle ’Saders hul eerste tuisneerlaag in 37 wedstryde in Christchurch toegedien het (34 – 32). Sedert 2016 het die Crusaders 35 wedstryde in Christchurch gewen en een keer gelykop gespeel.
  • Die opwindende rugby in die Aotearoa-reeks strek verder as net aanskoulikheid en spelgehalte. Dis ook spannend en in hul eerste 14 wedstryde was die punte-oorwinnings 1, 10, 12, 14, 3, 5, 20, 9, 11, 6, 2, 2, 2 en 4.

Dít is mos krag teen krag waarby die Aussies se swakkeres nie sal kan kers vashou nie. Dit word gestaaf deur gemiddelde toeskouersgetalle van 25 000 per wedstryd in Nieu-Seeland in die Aotearoa-reeks, meer as dubbel dié van 2019 se 11 300 in die Superrugby-reeks. (Australië se getal toeskouers by wedstryde word deur die regering beperk.)

Die onaangenaamheid het die Aussies genoop om te sê dat Nieu-Seeland ʼn “meester-dienskneg”‑houding teenoor hulle het. Die spanning is aangeblaas deur die vorige All Blacks-afrigter Steve Hansen wat gesê het Nieu-Seeland skuld Australiese rugby niks nie en dat RA “weggeraak” het wanneer op sy nommer gedruk is. “Ons sien al jare na die Aussies om,” het Hansen aan die webtuiste Stuff gesê.

Klaarblyklik kyk Australië nou, ná die afjak, weer na Argentinië vir moontlike spanne in hul tuisreeks – en dít nadat hulle teen Suid-Afrika en afstande na Suid-Afrika en Argentinië kapsie gemaak het. Glo hulle werklik dís die oplossing om Australië se rugbykrag te versterk?

Verder wissel dit van onsekerhede, insluitende die waar, wanneer en watter van Suid-Afrika se franchise’e vanjaar sal deelneem aan ons eie kompetisie wat nog nie ʼn voldonge feit is nie.

Sal dit ingepas en voltooi kan word voordat die Springbokke in November en 12 Desember in Australasië aan die Rugbykampioenskap-toernooi kan deelneem?

Anders as in die verlede jaar, toe die Bokke die Rugbykampioenskap gewen het, sal hulle teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië sake in Nieu-Seeland met ʼn toets elke week vir ses agtereenvolgende naweke moet uitspook. En dis dié keer ʼn toernooi oor ses weke op een plek.

Nieu-Seeland lyk na die gunstelinggasheer. Dink net aan die yslike voordeel wat dit hulle bied.

Die Springbokke en die Rugbykampioenskap

Jacques Nienaber. Foto: ANA.

Die “nuwe” Springbokafrigter Jacques Nienaber het nog net kantoorwerk, telefoonoproepe en video’s kon gebruik om met spelers te kommunikeer.

Die Wêreldbeker-Bokke in Europa en Frankryk en ander spelers wat Nienaber vir sy span in gedagte kan hê, kry eers vanaf Augustus speelkans in hul klubs se plaaslike kompetisies; en die vyf WB-Bokke en ander aanspraakmakers in Japan begin eers in Januarie speel. En hier tuis oefen ons spanne intussen nog in groepe van vyf spelers… en hulle sal moontlik in Augustus of begin September eers in die plaaslike kompetisie, moontlik ʼn volskaalse Curriebeker-reeks, kan begin speel.

Daar is darem die voordeel dat die toetse van die twee Halfronde dié keer ʼn ooreenstemmende toetsvenster het en dat Bokafrigter, Jacques Nienaber, dus ook oorsese Bokke sal kan kies.

♦ Daar is egter ʼn hele klomp negatiewe faktore wat in ag geneem sal moet word voordat SA Rugby besluit om wel aan die kompetisie deel te neem wat hierdie keer as ʼn toernooi afgehandel word.

Die datums vir die toetse is van 7 November tot 12 Desember. Wêreldrugby het toegestem tot ʼn toetsvenster vanaf 24 Oktober tot 12 Desember waardeur alle nasionale spelers deur hul klubs vir nasionale spanne vrygestel moet word.

  • Sover klink dit goed. Maar wanneer sal die Europese Bokke aan ʼn oefenkamp kan deelneem? Hulle word eers twee weke voor die eerste ronde deur hul klub afgegee. Van Europa na Nieu-Seeland vlieg, daar 14 dae in isolasie deurbring en dan feitlik dadelik op die veld draf is hul voorland – sonder tyd vir deeglike voorbereiding.

Is dit hoe Suid-Afrika sy eerste wedstryd sedert die Wêreldbeker-toernooi wil aanpak?

  • Wat gebeur as spelers seerkry en uit Suid-Afrika vervang moet word? Benewens die uiters min beskikbare en toegelate vlugte, wag daar op die plaasvervanger ook 14 dae van isolasie in Nieu-Seeland.

Dit beteken dat Nienaber meer as twee spanne sal moet saamneem Nieu-Seeland toe. Hy het reeds laat blyk vier hakers, vier loskoppe en vier vaskoppe sal op sy lysie wees en ʼn yslike span van 45 is glad nie buitensporig nie.

  • Daar is ook die sielkundige faktor. Die kommer van die spelers oor hul gesinne tuis, in Suid-Afrika of Europa, sal swaar op hul skouers rus. As iets tuis sou skeefloop, moet hul benewens een van die uiters beperkte vlugte neem na waar hul gesinne gesetel Is, en daar ook eers hul kwarantyntydperk deurbring.

En sielkundige spanning is ʼn uiters groot teenwig vir sportsukses.

  • Vyf Wêreldbeker-spelers en talle ander Bok-aanspraakmakers is boonop by klubs in Japan betrokke en sal eers in Januarie begin speel.

Maar ondanks ʼn redelike goeie finansiële 2018-rugbyjaar en die wen van die Wêreldbeker verlede jaar, is daar die wete dat die Sanzaar-betrokkenheid, al is dit vanjaar bloot die Rugbykampioenskap, vir SA Rugby baie lonend kan wees ná ʼn seisoen waar groot inkomstegeleenthede net nie kon gebeur nie.

Moet ʼn swak rugbyjaar egter (gedeeltelik) reggestel word deur ʼn swak vertoning deur die Wêreldbeker-Bokke? My gevoel is nee – maar dan kom my instink uit 40 Springbok-trotse rugbyjare in die amateur-era.

Wat in 2021 en vorentoe sal gebeur, sal opgeweeg moet word teen hoe SA Rugby, en deur hulle ook ons Superrugby-unies, steeds kommersieel sal baat as ons franchise’e nie meer aan dié kompetisie deelneem nie maar na ander (in die Noorde) verskuif.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Rugby, wat is rugby? Wie gaan speel en is daar nog ondersteuners? Ons wag maar en sien.

Vrijburger ·

Irrelevant. Ek sal eers weer enige SA nasionale spanne ondersteun eendag wanneer alle kwotas op alle vlakke (maar veral skole vlak) afgestel is.

JBN ·

Maak nie aan my saak wanneer hul weer gaan speel nie. Ek het my kwotaboktrui opgesny en sal alle ander spanne ondersteun wat teen hierdie kniebuigers speel. Dit gaan baie lekker wees om elke keer n wenspan te ondersteun wat nie deur kwotas aanmekaar geflans is nie.

Scalla ·

Die klopmp kniebuigers sal ek beslis nie ondersteun nie, die kwotakaptein is swart, sy vrou wit en sy kinders is kleurlinge, what lives matter by dan by hom!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.