Mening: PRO14-reeks een van die wêreld se taaistes

Benhard Janse van Rensburg keer Glasgow se Adam Hastings voor. (Foto Twitter @PRO14Official)

Dis weer tyd vir die PRO14-reeks – en voordat oningeligtes neerhalend daaroor brom, is dit miskien nou die gepaste tyd om te wys teen watter gehalte spanne en spelers Suid-Afrika se twee aspoestertjie-franchise’e, die Cheetahs en die Southern Kings, moet meeding

En natuurlik ook die vreemde toestande en uitdagings waarmee hulle te doene kry.

Sommer met die wegspringslag kan ʼn mens die Springbokafrigter Rassie Erasmus oor sy ondervinding in die PRO14 aanhaal. Hy kan met gesag daaroor praat.

Erasmus was in 2016/’17 die PRO14-reeks se afrigter van die jaar en het Munster in Ierland met groot sukses afgerig en beskou die PRO14 as een van die taaiste reekse waarin hy nóg spanne moes afrig.

Die Guinness Pro14-reeks. Foto: ANA.

“Dit vergelyk in alle opsigte met die Superrugby-reeks,” meen Erasmus. “Dit is fisiek, takties en jy moet gedurig by die verskillende speelstyle van die teenstanders aanpas.”

♦ Ter agtergrond oor waar die PRO14-reeks inpas die volgende:
Seker dié elite-kompetisie vir beroepspanne in die wêreld is die Europese Kampioene-reeks, voorheen die Heinekenbeker-kompetisie, waaraan Europa se voorste 20 spanne van die Engelse Premierliga, die Franse TOP14-reeks en die PRO14-kompetisie met sy spanne van Ierland, Wallis, Skotland, Italië en Suid-Afrika deelneem.

  • Nie minder nie as sewe van die 20 spanne in die 2019/’20-reeks om die Europese Kampioene-beker is van die PRO14-reeks afkomstig. Hulle is Ierland se Connacht, Leinster, Munster en Ulster; Glasgow Warriors van Skotland; die Ospreys van Wallis en Benetton van Italië.
  • Die PRO14 verskaf daarmee net soveel spanne aan die Kampioene-reeks as Engeland en een meer as Frankryk.
  • In verlede seisoen se reeks was vyf van die tien spanne in die halfeind- of eindstryd van die kompetisie afkomstig van die PRO14-reeks.

En om verder te beklemtoon dat die PRO14 nie sommer ʼn hierjy-reeks is nie, is daar vanjaar 116 spelers van die 14 spanne, oftewel ʼn gemiddeld van agt spelers van elke PRO14-span, by die Wêreldbeker in Japan. Hierdie 116 spelers maak 18,7% uit van die spelers wat die 20 lande by die Wêreldbeker verteenwoordig.

Dat die eindstryd van die 2018/’19- Kampioene-reeks vanjaar tussen Saracens van die Engelse Premierreeks en die PRO14-wenner, Leinster van Ierland was, is slegs deel van die prentjie van die PRO14 se gehalte.

Vyf van die agt spanne in die kwarteindronde van die elite-reeks het in dié seisoen se PRO14-reeks gespeel.

♦ Wat die PRO14-kompetisie nog méér uitmergelend maak – benewens die gehalte van die deelnemende spanne – is dat dit op velde met uiteenlopende oppervlakke in vyf lande gespeel word en dat die skeidsregters uit vyf lande kom. Soos Erasmus dit stel: “Dán het jy ʼn Walliese skeidsregter, dán ʼn Skotse afrigter, en jy speel benewens Suid-Afrika in vier lande met verskillende speeloppervlakke wat selfs kunsmatige gras insluit.

“Jy moet elke week nuwe ontledings oor jou teenstanders doen. Dis nie soos Superrugby waar jy te staan kom teen spanne wat in die reël dieselfde speelstyl het nie.”

Die Southern Kings, met min besit, moes dikwels walgooi teen die Dragons (Foto: Facebook Pro14 Rugby)

♦ Vir die twee Suid-Afrikaanse spanne is daar die verdere uitdaging van die uitgebreide reise na Europa. Daar is gevalle waar die manne, met inbegrip van die reis soontoe en terug, feitlik vyf weke van die huis af sal wees in wisselende en vreemde klimaatstoestande. En dan is daar ook gevalle waar hulle vir ʼn enkele wedstryd oorsee moet reis.

Lekker, jy sien die wêreld, sal sommiges seker sê. Maar dis nie heeltemal so nie. Beserings wat ʼn week of selfs twee neem om te herstel terwyl jy op die pawiljoen moet sit, ysige temperature, reën en ysreën waarin jou oefeninge en wedstryde plaasvind…

♦ Vir die Cheetahs én die Kings is daar in die 2019/’20-seisoen die nuwe uitdagings om die teenstand, weersomstandighede en vreemde velde en skeidsregters te ervaar met twee nuwe afrigters aan die stuur. Robbie Kempson neem waar as tussentydse hoofafrigter by die Kings, maar ʼn mens kan nie sien dat iemand anders midde-in die reeks by hom sal oorneem nie.

En in Bloemfontein help Franco Smith net vir die eerste drie wedstryde uit terwyl die voormalige Matie-afrigter Hawies Fourie van ʼn operasie herstel voordat hy die leisels vat en Smith Italië toe vertrek waar hy as hoofafrigter van Italië oorneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vita ·

Kan so erg wees nie ,die oorsee se spanne speel hulle B spanne , so kan nie een van die sterkste komp wees nie

Johan ·

Die beste 3 spanne in hierdie reeks sal 50 vat teen Super spanne.

Bryce Lawrence ·

Franco Smith was die Bokke se aanvalsafrigter toe hulle met 57-0 verloor het. Nou rig hy die Cheaters at en maak nog steeds steeds sulke skandes. O wag, hy het darem n afgewaterde CC gewen.

Buffel ·

Seriously suur druiwe – seker ‘n WP supporter. En gisteraand toe wen hulle weer met 40+.

Vita ·

Die oorsee se span se manne speel vir verskillende lande in die WB dit hoekom hulle wen, ons SA spanne sal nooit teen oorsee se spanne kan wen as hulle die A spanne speel nie,

Ware Buffel ·

Buffel hierbo, jou kommentaar laat my dink jy is nog op skool!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.