Mening: Sal Mehrtens se wegbreek-plan die Australasiese spanne baat?

Andrew Mehrtens. (Foto: Toutube)

Die Covid-19-pandemie wat sport wêreldwyd platgetrek het en in rugby ook groot finansiële verliese vir spelers, klubs en unies gebring het en boonop groot onsekerheid oor die spel se toekoms veroorsaak het, maak enige voorspellings uiteraard gevaarlik.

Op ʼn manier kan die huidige onsekerheid oor die rugbydilemma miskien darem die pyn verlig dat die sukkelende en toenemend ongewilde Super Rugby-reeks, vir vanjaar altans, daarmee heen is.

Aan die ander kant sal die televisieborge, die gans wat die goue eiers lê en wat die Super Rugby-reeks en ook die Suidelike Rugby se Rugbykampioenskap aan die gang hou, se kontrakverpligtinge egter nog vir die afsienbare tyd moet geld. ʼn Kontrak bly immers ʼn kontrak.

Boonop kan rugby nie sommer netso ʼn ommekeer maak nie. Enige onmiddellike verandering aan selfs ʼn enkele liga sal gevolge hê – vir die spelers, die personeel, die kompetisie en die borge.

Super Rugby-reeks

En dit bring my by die Super Rugby-reeks. Die voorgestelde wegbreek van dié reeks deur Nieu-Seeland en Australië is in die lig van Covid-19 se effek op wêreldrugby so effens op die agtergrond geskuif, maar geniet nog deurlopende bespreking in die Australasiese pers.

Ek het die All Blacks se losskakel Andrew Mehrtens die eerste keer in die Wêreldbeker-eindstryd van 1995 op Ellispark sien speel, maar hy was toe al ʼn “ou bekende”. Ek het hom immers al in 1973 as baba “leer ken” toe ek en sy pa Terry albei vir Berea Rovers in Durban klubrugby gespeel het. Terry het vir Nieu-Seeland se o. 21- en o. 23-span gespeel en het vir Natal teen, onder meer, die 1970-All Blacks uitgedraf.

Sowat twee, drie maande gelede, voor die wêreldwye pandemie, het die jonger Mehrtens, Andrew, die mening gehuldig dat Nieu-Seeland en Australië se heil daarin lê om hul teenstand in Asië te kry (met die Suidsee-eilande stellig ook ʼn teiken vir hul toekoms.) Argentinië moet in Noord-Amerika sy teenstanders soek en Suid-Afrika kan nog franchise’e skep in plekke soos Dubai, het Mehrtens gesê.

Hy meen dié skuif, in die oorspronklike Engels hieronder aangehaal, sal die verlies aan voorste Kiwi-spelers verminder en is uiteraard gebaseer op die pre-virusomstandighede.

“Going forward if we push into Asia, if we can develop a competition that’s in the same time zone, I think it’s going to be a better product,” het Mehrtens aan ESPN gesê.

“I’ve said for a long time, we need to drop South Africa … logistically it’s a pain in the backside, same with Argentina. Argentina needs to go up their time zone with the USA; South Africa will probably start developing franchises in Dubai or somewhere there, but I think our push is into Asia.”

Sy argument was dat die Nieu-Seelandse spelers steeds goed sal verdien, al speel hulle vir klubs in Asië, wat beteken dat hulle dus steeds deur die twee Australasiese lande gekies kan word omdat hulle in ʼn “eie” kompetisie speel waarin hul spanne soos Crusaders speel. Tans kies die All Blacks nie oorsese spelers nie, en die Aussies slegs dié wat 60 toetse of meer en sewe jaar lank in Australië gespeel het, óf nou ook dié spelers wat ʼn kontrak geteken het om twee jaar daar te speel.

Meen Mehrtens werklik dat sy plan die twee Australasiese grotes se rugbygehalte sal bevoordeel? En hier praat ʼn mens van die spel se gehalte en ook die inkomste.

Mehrtens se voorstel het nie veel sin gemaak nie, selfs nie eers voor die huidige ontwrigting – finansieel en andersins – weens Covid-19 nie, wat feitlik verseker dat daar ʼn (welkome?) herstrukturering van kompetisies oor die hele rugbywêreld sal kom.

Ja, Japan sal stellig goeie en lonende televisiedekking vir die reeks kan onderhandel. Die belangstelling in rugby is, veral ná die onlangs Wêreldbeker-toernooi, groot in dié land.

Maar sal Japan se klubs die teenstand aan die Nieu-Seelandse spanne kan verskaf wat die All Blacks ʼn krag sal hou? Selfs al word hulle deur Nieu-Seelandse spelers versterk wat beteken dat Nieu-Seeland minder spelers aan oorsese klubs afstaan wat vir die nasionale span sal mag speel?

Sal dit die probleem van toeskouerbywoning in Nieu-Seeland en Australië oplos?

Sewenasies-kampioenskap

En hoe sal die Australasiese wegbreek Suid-Afrika tref? Dit sal dalk ʼn moontlike skuif na Europese kompetisies verhaas, maar daarmee saam is ʼn legio probleme wat te bowe gekom moet word.

Onder meer:  Kom ons veronderstel Suid-Afrika se vier franchise’e speel in die Engelse Premierliga wat tans 12 spanne het en oor ʼn dubbelronde, tuis en weg, beslis word. Dink maar net aan die ontwrigting en samestelling van die bepalings. Kom elke Premierliga-span al vier sy wedstryde in Suid-Afrika met een besoek speel? Hoeveel keer moet elke SA span oorsee reis? Gaan Suid-Afrika se pawiljoene vol wees vir sy drie tuiswedstryde in wat die nuwe Sewenasies-kampioenskap sal wees?

♦ Wat wel waar is, is dat die Super Rugby-reeks, selfs met die koms van die rondomtalie-reeks van 15 spanne aanstaande jaar, vir die meeste rugby-entoesiaste uitgedien is.

Crusaders teen die Stormers, die Reds teen die Hurricanes, die Bulls teen die Blues … noem dit maar, dit maak nie meer die verbeelding gaande nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Wolf ·

Dit kan moontlik keer dat die ingevoerde spelers by hulle lande bly en nie hulle heil erens anders gaan soek nie. Doen n bietjie navorsing en sien hoevel spelers het werkspermitte om vir n spesifieke land te speel. Daar kan ook n leenstelsel ingebring word om die lande wat dit benodig uit te help. Dit kan die speelveld n bietjie verskuif ipv een of twee lande wat gulsig is. Een rede hoekom die spel se aansien besig is om te taan. Ek stem saam dat tydsones n groot rol speel in die spelers se spel. Been there done that.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.